Miga 5

5
1Maar uit die klein stadjie
Betlehem in Efrata
sal weer iemand kom
wat koning sal word
van die Israeliete.
Sy familie is nie 'n belangrike familie
in die land Juda nie,
maar sy familie woon al lank
in die land.
2Die Here sal sy mense
'n kort tyd los,
so lank soos dit 'n vrou neem
om 'n baba te kry.
Maar dan sal die mense
wat nog lewe van die familie,
terugkom na die Israeliete toe.
3Die nuwe koning sal kom
en hy sal sy volk lei.
Die Here sal hom help,
die Here sal hom sterk maak
sodat hy sy volk kan lei.
Die volk sal oral
op die aarde woon,
want die nuwe koning
sal sterk wees
4en hy sal vrede bring.
Wanneer die Assiriërs
teen ons land kom oorlog maak
en hulle wil
in ons mooi huise ingaan,
dan sal ons, die Israeliete,
genoeg leiers hê
om teen hulle te veg.
5Ons leiers
met hulle skerp swaarde
sal die Assiriërs oorwin
wat uit die land Nimrod kom.
Wanneer hulle in ons land inkom
om teen ons te kom veg,
dan sal ons nuwe koning ons red.
6Die Israeliete wat nog lewe,
sal wees soos dou
wat van die Here kom
na baie volke toe.
Hulle sal wees soos goeie reën
wat die gras groen laat word.
7Die Israeliete wat nog lewe,
sal tussen al die volke wees
soos leeus
wat tussen wilde diere loop,
of soos leeus
wat tussen 'n klomp skape loop
en hulle doodbyt.
Niemand kan die diere
uit die leeus se bekke ruk nie.
8Die Israeliete sal hulle vyande
almal doodmaak.”
Ek sal die volke swaar straf wat nie na My geluister het nie
9Maar die Here sê:
“Ek sal daardie dag
julle perde doodmaak
en julle oorlogkarre verwoes.
10Ek sal die stede
in julle land verwoes,
Ek sal hulle sterk mure afbreek.
11Ek sal die goed
waarmee julle toor,
uit julle hand ruk.
Daar sal nie meer mense
by julle wees
wat dink hulle weet
wat ander mense nie kan weet nie.
12Ek sal julle beelde
en julle klip-pale verwoes.
Julle sal nie meer buig
voor afgode
wat julle self gemaak het nie.
13Ek sal julle gewyde pale uitruk
en julle stede verwoes.
14Ek sal die volke swaar straf
wat nie geluister het na My nie.”

Tans Gekies:

Miga 5: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid