MIGA 5

5
1Maar jy, Betlehem-Efrata,
jy is klein onder die families in Juda,
maar uit jou sal daar iemand kom
wat aan My behoort
en hy sal in Israel regeer.
Sy begin lê ver terug,
in die gryse verlede!
2Hy sal sy mense 'n kort rukkie prysgee,
so lank as dit 'n vrou neem om 'n kind in die wêreld te bring.
Dan sal dié uit sy familie wat die ramp oorleef het,
terugkom na die Israeliete toe.
3Hy sal na vore kom en sy volk lei
deur die krag wat die Here hom gee,
deur die sterkte van die Naam van die Here sy God.
Hulle sal woon tot in die uithoeke van die aarde,
want hulle leier sal sterk wees.
4Hy sal vrede bring.
Wanneer Assirië ons land binneval,
wanneer hy in ons mooi huise wil ingaan,
sal ons baie leiers,
genoeg generaals, teen hom uitstuur.
5Hulle sal Assirië platloop met die swaard,
die land van Nimrod met swaarde
wat reg is om te steek.
Die regeerder uit Betlehem sal ons red
uit die mag van Assirië
wanneer Assirië ons land binneval,
wanneer hy ons gebied binnekom.
6Dié van Jakob wat oorbly, sal tussen baie volke wees,
hulle sal daar wees soos dou wat van die Here af kom,
soos stortreëns op groen gras
wat nie vir 'n mens wag nie,
nie na mense kyk nie.
7Dié van Jakob wat oorbly, sal tussen die nasies wees,
tussen baie volke,
hulle sal daar wees soos 'n leeu tussen wild
of tussen 'n trop skape:
hy verskeur as hy tussen hulle deurstap,
hy vang sy prooi,
en niemand kan dit uit sy bek ruk nie.
8Mag jy jou teenstanders oorweldig, Israel,
mag al jou vyande uitgeroei word!
9Daardie dag, sê die Here,
sal Ek jou perde uitroei,
jou strydwaens vernietig.
10Ek sal die stede van jou land vernietig,
al jou vestingstede afbreek.
11Ek sal jou toorgoed wegvat uit jou hand,
daar sal nie meer waarsêery by jou wees nie.
12Ek sal jou afgodsbeelde vernietig,
jou klippilare by jou afbreek.
Jy sal nie meer jou handewerk aanbid nie.
13Ek sal jou gewyde pale uitruk,
jou stede verwoes.
14In my toorn en gramskap
sal Ek die nasies straf
wat nie na My luister nie.

Tans Gekies:

MIGA 5: AFR83

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid