MATTEUS 8:23-27
MATTEUS 8:23-27 Bybel vir almal (ABA)
Jesus het in die boot geklim en sy dissipels het saam met Hom gegaan. Daar het 'n baie groot storm op die see gekom en die branders het bo-oor die boot geslaan. Maar Jesus het vas geslaap. Die dissipels het na Jesus toe gegaan en hulle het Hom wakker gemaak. Hulle sê toe vir Hom: “Here, help ons! Ons sal verdrink!” Jesus vra toe vir hulle: “Hoekom is julle so bang? Hoekom is julle geloof so min?” Jesus het opgestaan en Hy het kwaai gepraat met die wind en die see. Die see het stil en kalm geword. Die dissipels was baie verbaas en hulle het gesê: “Hy is nie 'n gewone mens nie, ook die wind en die see luister na Hom.”
MATTEUS 8:23-27 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN toe Hy in die skuit klim, het sy dissipels Hom gevolg. En daar het 'n groot storm op die see gekom, sodat die skuit toe was onder die golwe; maar Hy was aan die slaap. Daarop kom sy dissipels en maak Hom wakker en sê: Here, red ons, ons vergaan! En Hy sê vir hulle: Waarom is julle bang, kleingelowiges? Toe staan Hy op en bestraf die winde en die see, en daar het 'n groot stilte gekom. En die manne het hulle verwonder en gesê: Wat vir 'n mens is Hy, dat selfs die winde en die see Hom gehoorsaam is?
MATTEUS 8:23-27 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe Jesus in die skuit klim, het sy dissipels Hom gevolg. Skielik het daar 'n hewige storm op die see losgebars, sodat die golwe oor die skuit geslaan het. Maar Jesus het geslaap. Hulle kom toe en maak Hom wakker en sê: “Here, red ons! Ons vergaan!” Hy sê vir hulle: “Waarom is julle bang, kleingelowiges?” Daarna het Hy opgestaan en die wind en die see hard aangespreek, en dit het doodstil geword. Die mense het hulle verwonder en gesê: “Watter soort mens is hy dat selfs die wind en die see hom gehoorsaam?”
MATTEUS 8:23-27 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Jesus het in die boot geklim en sy dissipels het Hom gevolg. Skielik bars daar 'n hewige storm op die see los, sodat die golwe die boot oorspoel het. Maar Hy het geslaap. Hulle het Hom gaan wakker maak en uitgeroep: “Here, red ons! Ons vergaan!” Maar Hy het vir hulle gesê: “Hoekom is julle bang, kleingelowiges?” Toe staan Hy op en bestraf die wind en die see. En alles het baie kalm geword. Die mense was verwonderd en het gesê: “Watter soort mens is dit dié dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam?”
MATTEUS 8:23-27 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En toe Hy in 'n skip geklim het, het sy dissipels Hom gevolg. En kyk, daar het 'n groot storm in die see gekom, sodat die skip met die golwe bedek was, maar hy het geslaap. En sy dissipels het na Hom gekom en Hom wakker gemaak en gesê: Here, red ons, ons vergaan. En Hy sê vir hulle: Waarom is julle bevrees, kleingelowiges? Toe het hy opgestaan en die winde en die see bestraf; en daar was 'n groot kalmte. Maar die manne was verwonderd en het gesê: Wat is hierdie mens, dat selfs die winde en die see hom gehoorsaam is!
MATTEUS 8:23-27 Die Boodskap (DB)
Uiteindelik kom Jesus by die boot. Hy en sy getrouste volgelinge klim toe in en vaar na die ander kant toe. Op pad oorkant toe het daar skielik ’n verskriklike storm op die meer losgebars. Die golwe was so hoog dat ’n mens nie eens meer die boot behoorlik kon sien nie. Tog het Jesus gelê en slaap. Hy het mos die vorige nag deurgewerk. Sy dissipels kon dit later nie meer hou nie en maak Hom wakker: “Here, help! Ons is besig om onder te gaan!” “Het julle geen vertroue in My nie?” vra Jesus. “Sê My, as julle regtig in My glo, waarvoor is julle dan so bang? Dink julle julle sal ooit kan ondergaan as Ek by julle is?” Hy staan toe op en beveel die wind met gesag in sy stem om te gaan lê en die see om stil te word. Skielik, asof iemand ’n kombers van kalmte oor die meer getrek het, was alles stil. Die mense was uit die veld geslaan en het uit pure verbasing vir mekaar gevra: “Het julle gesien? Die wind en die see luister na Hom! Wie is Hy? Waar kom Hy vandaan?”
MATTEUS 8:23-27 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Jesus het toe in die skuit geklim en sy dissipels het Hom gevolg. Skielik het daar ’n hewige storm oor die see opgekom sodat reuse golwe oor die boot gebreek het. Maar Jesus het gelê en slaap. Hulle gaan maak Hom toe wakker en sê: “Here, red ons! Dis klaar met ons!” Maar Jesus sê vir hulle: “Waarom is julle so verskrik? Is julle geloof dan regtig so klein?” Daarna het Hy opgestaan, die winde en die see streng aangespreek en daar het ’n groot kalmte gekom. Die dissipels was oorweldig. “Watter soort mens is Hy dat selfs die winde en die see na Hom luister?”