MATTEUS 5:3-7
MATTEUS 5:3-7 Bybel vir almal (ABA)
“Mense wat weet hulle het vir God nodig, is gelukkige mense, want God wat in die hemel is, is hulle Koning. Mense wat nou hartseer is, is gelukkige mense, want God sal hulle hartseer wegneem. Mense wat nederig is en wat op God vertrou, nie op hulleself nie, is gelukkige mense, want God sal vir hulle die aarde gee. Mense wat baie graag wil doen wat God wil hê, is gelukkige mense, want God sal vir hulle help om alles te doen wat Hy wil hê. Mense wat goed is vir iemand wat swaarkry, is gelukkige mense. God sal vir hulle ook goed wees.
MATTEUS 5:3-7 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Salig is die wat arm van gees is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele. Salig is die wat treur, want hulle sal vertroos word. Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe. Salig is die wat honger en dors na die geregtigheid, want hulle sal versadig word. Salig is die barmhartiges, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.
MATTEUS 5:3-7 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel. Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word. Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang. Geseënd is dié wat honger en dors na wat reg is, want hulle sal versadig word. Geseënd is dié wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.
MATTEUS 5:3-7 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“Gelukkig is die armes van gees, want aan hulle behoort die •koninkryk van die hemele. Gelukkig is dié wat treur, want hulle sal vertroos word. Gelukkig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde erf. Gelukkig is dié wat honger en dors na •geregtigheid, want hulle sal versadig word. Gelukkig is die barmhartiges, want hulle sal barmhartigheid ontvang.
MATTEUS 5:3-7 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Geseënd is die wat arm van gees is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel. Geseënd is die wat treur, want hulle sal vertroos word. Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe. Geseënd is die wat honger en dors na geregtigheid, want hulle sal versadig word. Salig is die barmhartiges, want hulle sal barmhartigheid verkry.
MATTEUS 5:3-7 Die Boodskap (DB)
“Gelukkig is almal wat van God se goedheid en sorg afhanklik is. Hulle sal definitief ’n plek kry in sy nuwe wêreld. “Gelukkig is almal wat hartseer is oor al die pyn en swaarkry in hierdie wêreld. God self sal hulle trane afdroog. “Gelukkig is almal wat nie dink dat hulle belangriker as ander mense is nie. God sal sorg dat elke stukkie grond in sy nuwe wêreld aan hulle behoort. “Gelukkig is almal wat met alles in hulle daarna streef om te doen wat God vra. Hy sal binnekort hulle verlange na Hom vir altyd wegvat. “Gelukkig is almal wat regtig vir ander mense omgee. God sal binnekort vir hulle wys presies hoeveel Hy vir hulle omgee.
MATTEUS 5:3-7 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Gelukkig is dié mense wat weet hoe nodig hulle God het, want die koninkryk van die hemele is húlle deel. Gelukkig is die treurendes, want God sal self hulle trane afvee. Gelukkig is dié wat sag van hart is, want die nuwe aarde sal hulle erfporsie wees. Gelukkig is dié wat honger en dors na wat voor God reg is, want Hy sal hulle hartsverlange bevredig. Gelukkig is dié wat met ontferming uitreik na mense in nood, want God sal Hom oor húlle ontferm.





