MATTEUS 24:36-51

MATTEUS 24:36-51 Bybel vir almal (ABA)

“Niemand weet op watter dag en hoe laat in die dag Ek sal kom nie. Die engele in die hemel weet nie, ook nie Ek, die Seun, nie. Net die Vader weet dit. Wanneer Ek, die Seun van die mens, kom, dan sal dit wees soos in die tyd van Noag. Want in daardie dae voor die watervloed het die mense aangehou om te eet en te drink en te trou en hulle kinders te laat trou tot die dag toe Noag in die ark ingegaan het. En hulle het nie geweet wat gebeur het nie, totdat die watervloed gekom het en alles weggespoel het. So sal dit ook wees wanneer Ek, die Seun van die mens, kom. Dan sal twee mense in 'n koringland werk, en God sal die een mens kies maar nie die ander een nie. Twee vroue sal met dieselfde maalklippe koring maal, en God sal een vrou kies maar nie die ander een nie. Julle moet wakker wees, want julle weet nie op watter dag julle Here sal kom nie. “Maar julle moet dit weet: As die eienaar van 'n huis weet hoe laat in die nag 'n dief sal kom, dan sal hy wakker bly en nie toelaat dat die dief by sy huis inbreek nie. Daarom moet julle ook altyd gereed wees, want Ek, die Seun van die mens, sal kom wanneer julle dit nie verwag nie.” Jesus het ook gesê: “Ek wil vir julle vertel hoe is 'n slaaf wat verstandig is en wat doen wat sy eienaar wil hê. Die eienaar kies een van sy slawe en stel hom aan om die hoof te wees oor al die ander slawe. Hy moet ook elke dag vir hulle kos gee. Wanneer die eienaar terugkom en hy sien die slaaf is besig om alles te doen wat hy vir hom gesê het, dan sal daardie slaaf baie gelukkig wees. Ek sê vir julle, en dit is seker: Die eienaar sal daardie slaaf die hoof maak wat vir al die goed van sy eienaar moet sorg. Maar 'n slegte slaaf sal miskien dink sy eienaar bly baie lank weg en sal miskien nie weer terugkom nie. Dan begin hierdie slaaf die ander slawe slaan en hy eet en drink saam met die slegte mense wat altyd dronk is. En eendag kom die eienaar van die slaaf skielik terug, hy kom wanneer die slegte slaaf dit nie verwag nie, en nie weet hoe laat die eienaar kom nie. Dan sal die eienaar daardie slegte slaaf baie swaar straf, hy sal hom straf soos God mense straf wat skynheilig is. Die slegte slaaf sal saam met hulle huil en hard op sy tande byt van die pyn.”

MATTEUS 24:36-51 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

MAAR van dié dag en dié uur weet niemand nie, ook die engele van die hemele nie, maar net my Vader alleen. En net soos die dae van Noag was, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees. Want net soos hulle was in die dae voor die sondvloed toe hulle geëet en gedrink het, getrou en in die huwelik uitgegee het, tot op die dag dat Noag in die ark gegaan het, en dit nie verstaan het voordat die sondvloed gekom en almal weggevoer het nie, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees. Dan sal daar twee op die land wees; die een word aangeneem en die ander word verlaat. Twee vroue sal by die meul maal; die een word aangeneem en die ander word verlaat. Waak dan, omdat julle nie weet watter uur julle Here kom nie. Maar weet dit: as die huisheer geweet het in watter nagwaak die dief sou kom, sou hy gewaak en nie toegelaat het dat in sy huis ingebreek word nie. Daarom moet julle ook gereed wees, want die Seun van die mens kom op 'n uur dat julle dit nie verwag nie. WIE is dan die getroue en verstandige dienskneg vir wie sy heer oor sy diensvolk aangestel het om hulle hul voedsel op tyd te gee? Gelukkig is daardie dienskneg vir wie sy heer, as hy kom, op hierdie manier besig sal vind. Voorwaar Ek sê vir julle, hy sal hom oor al sy besittings aanstel. Maar as daardie slegte dienskneg in sy hart sê: My heer talm om te kom — en hy sy medediensknegte begin slaan en saam met die dronkaards begin eet en drink, dan sal die heer van dié dienskneg kom op 'n dag dat hy dit nie verwag nie en op 'n uur dat hy dit nie weet nie; en sal hom pynig en hom 'n deelgenoot van die geveinsdes maak. Daar sal geween wees en gekners van die tande.

MATTEUS 24:36-51 Afrikaans 1983 (AFR83)

“Maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit. Soos dit in die dae van Noag was, sal dit ook wees by die koms van die Seun van die mens. In daardie dae voor die sondvloed het hulle soos gewoonlik geëet en gedrink en getrou tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het. Hulle het nie besef wat aan die gang was nie, totdat die sondvloed gekom en hulle almal weggesleur het. Net so sal dit gaan by die koms van die Seun van die mens. Dan sal twee mense op die land werk, die een sal saamgeneem en die ander een agtergelaat word. Twee vroue sal by die meul koring maal, die een sal saamgeneem en die ander een agtergelaat word. Bly dus waaksaam, omdat julle nie weet watter dag julle Here kom nie. “Onthou dit: as die huiseienaar geweet het watter tyd van die nag die dief kom, sou hy wag gehou het en nie toegelaat het dat daar in sy huis ingebreek word nie. Om dieselfde rede moet julle ook altyd gereed wees, want die Seun van die mens kom op 'n uur dat julle dit nie verwag nie.” “Wie is eintlik die getroue en verstandige slaaf vir wie sy eienaar oor sy ander slawe aangestel het om hulle op tyd kos te gee? Dit is die slaaf vir wie sy eienaar by sy tuiskoms so aan die werk sal kry. Gelukkig is hy! Dit verseker Ek julle: Hy sal hom aanstel oor alles wat hy besit. “Maar as dit 'n slegte slaaf is, sal hy by homself dink: my eienaar bly lank weg. Dan sal hy die ander slawe begin slaan en saam met die dronkaards eet en drink. Die eienaar van daardie slaaf sal op 'n dag kom dat hy dit nie verwag nie, en op 'n uur wat hy nie vooraf weet nie. Dan sal sy eienaar hom laat doodmaak en hom die lot van huigelaars laat deel. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners.”

MATTEUS 24:36-51 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

“Van daardie dag en uur dra niemand kennis nie, selfs nie die engele van die hemele nie, en ook nie die Seun nie, net die Vader alleen. Want net soos in die dae van Noag, so sal die koms van die •Seun van die Mens wees. Soos hulle immers in daardie dae voor die vloed besig was om te eet en te drink, om in die huwelik te tree en in die huwelik uit te gee, tot op die dag dat Noag die ark binnegegaan het, en hulle niks vermoed het totdat die vloed gekom en almal meegesleur het nie, só sal ook die koms van die Seun van die Mens wees. “Dan sal daar twee op die land wees – een sal saamgeneem en die ander agtergelaat word. Twee sal by die meule maal – een sal saamgeneem en die ander agtergelaat word. “ Bly daarom waaksaam, omdat julle nie weet op watter dag julle Here kom nie. Dit moet julle weet: As die huiseienaar geweet het tydens watter nagwaak die dief kom, sou hy gewaak het en nie by sy huis laat inbreek het nie. Daarom moet julle gereed wees, want die Seun van die Mens kom op 'n tyd wanneer julle dit nie verwag nie.” “Wie is dan die betroubare en verstandige slaaf vir wie die eienaar aangestel het oor sy huishouding om vir hulle op tyd kos te gee? Gelukkig is daardie slaaf wie se eienaar hom so aan die werk sal vind wanneer hy kom. •Amen, Ek sê vir julle: Hy sal hom oor al sy besittings aanstel. As die slegte slaaf egter in sy hart sê, ‘My heer talm,’ en hy begin sy medeslawe slaan, en hy eet en drink saam met die dronkes, sal die eienaar van daardie slaaf op 'n dag kom wat hy nie verwag nie en op 'n uur wat hy nie weet nie. Hy sal hom middeldeur laat kap en hom laat deel in die lot van die skynheiliges. Daar sal 'n geween wees en 'n gekners van tande. ”

MATTEUS 24:36-51 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Maar van daardie dag en uur weet niemand nie, ook nie die engele van die hemel nie, maar my Vader alleen. Maar soos die dae van Noag was, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees. Want soos in die dae voor die sondvloed, het hulle geëet en gedrink, getrou en in die huwelik gegee, tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het, En dit het nie geweet totdat die vloed gekom en hulle almal weggeneem het nie; so sal ook die koms van die Seun van die mens wees. Dan sal twee in die veld wees; die een sal gevat en die ander een verlaat word. Twee vroue sal by die meul maal; die een sal gevat en die ander een verlaat word. Waak dan, want julle weet nie watter uur julle Here kom nie. Maar weet dit: as die eienaar van die huis geweet het in watter wagtyd die dief sou kom, sou hy gewaak het en nie toegelaat het dat sy huis afgebreek word nie. Daarom, wees julle ook gereed, want op 'n uur as julle dit nie dink nie, kom die Seun van die mens. Wie is dan 'n getroue en wyse dienskneg wat sy heer oor sy huisgesin aangestel het om hulle op die regte tyd voedsel te gee? Geseënd is daardie dienskneg vir wie sy heer, as hy kom, besig sal vind. Voorwaar Ek sê vir julle, hy sal hom aanstel as heerser oor al sy besittings. Maar as daardie slegte dienskneg in sy hart sê: My heer stel sy koms uit; en sal begin om sy medediensknegte te slaan en saam met die dronkgesindes te eet en te drink; Die heer van daardie dienskneg sal kom op 'n dag dat hy na hom nie kyk nie, en op 'n uur wat hy nie weet nie, en sal hom uitsny en hom sy deel aan die geveinsdes bepaal; daar sal geween wees en gekners van die tande.

MATTEUS 24:36-51 Die Boodskap (DB)

“As julle na alles wat Ek gesê het nog nie tevrede is nie, maar die presiese uur, minuut en sekonde van die wederkoms wil weet, moet Ek julle teleurstel. Niemand weet wanneer die wederkoms gaan plaasvind nie, nie eens Ek nie. God en net Hy alleen sal daaroor besluit. “Maar laat Ek julle ten minste nog ’n voorbeeld gee. Miskien help dit. Julle almal ken die verhaal van Noag. Terwyl Noag aan die ark geswoeg het, het die ander mense doodnormaal geleef asof niks gaan gebeur nie. Hulle het hulle aan niks anders gesteur as aan die alledaagse dinge soos wat daar te ete is of wie met wie trou nie. As jy na hulle gekyk het, het dit gelyk asof daar geen probleme was nie. Toe klim Noag in die ark, en dit het hulle ook nie beïndruk nie. Hulle het net gestaan en wonder waarom Noag nou so iets doen. Toe begin die reën val en val. Alles spoel later weg; hulle huise, diere en uiteindelik ook hulle self. Die koms van die Seun sal mense wat voortgaan asof niks gaan gebeur nie, ook so verras. Twee mans sal op dieselfde land werk - die een sal gereed wees vir die Seun se koms en die ander een nie. Daarom sal Jesus die een saamneem en die ander een los. Net so sal twee vroue saam in die kombuis werk - Jesus sal die een kom haal en die ander een los. Sorg dat jy die een is wat reg is sodat die Here jou saamneem wanneer Hy kom. “Dit beteken dat julle altyd gereed moet wees. Julle vra hoekom. Weet die eienaar van ’n huis miskien wanneer ’n dief by hom gaan inbreek? Natuurlik nie, want dan sou hy hom mos kon voorlê en keer dat hy inbreek. Dan sou daar nie so iets soos diefstal gewees het nie. Maar dit gebeur nie so nie. Die dief kom wanneer die eienaar dit nie verwag nie. Net so sal dit gaan met die koms van die Here. Daarom moet julle maar altyd gereed wees. Dit is nie presies seker wanneer die Seun gaan kom nie, maar wanneer dit gebeur, moet julle reg wees. “Laat Ek vir julle nog ’n voorbeeld gee. Watter soort werker sal ’n voorman van ’n fabriek gewoonlik die graagste oor die ander wil aanstel? Dit is die persoon wat hard werk, of die voorman daar is om dit te sien of nie. Hy weet wat om te doen en doen dit. So ’n werker sal goed beloon word. Uiteindelik sal hy oor die hele fabriek aangestel word. ’n Werker wat egter nooit gaan vorder nie, is die hopelose een wat net die hele tyd die voorman dophou. As die voorman wegkyk, hou hy op werk. As die voorman lank weggaan, maak hy nog meer droog, drink selfs in werkstyd en pla die hele tyd die ander werkers in hulle werk. Daardie werker gaan ontnugter word. Op ’n dag, as hy so dronk daar sit en die ander pla, gaan die voorman instap. Dit sal natuurlik wees wanneer hy dit die minste verwag. Dan gaan die poppe behoorlik dans. Daardie werker gaan alles verloor wat hy gehad het. Wanneer die Here weer kom en Hy kry mense so onvoorbereid soos daardie hopelose werker, is daar vir hulle geen hoop meer oor nie. Die hel is hulle voorland. Daar sal hulle krul van die pyn en skreeu van smart.”

MATTEUS 24:36-51 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

“Tog ken niemand die presiese datum en tyd wanneer hierdie dinge sal gebeur nie – ook nie die engele of selfs die Seun nie. Dit weet net die Vader. “Wanneer Ek, die Seun van die Mens, verskyn, sal dit gaan soos in die tyd van Noag. Destyds, voor die groot vloedwater gekom het, het die mense soos gewoonlik voortgegaan om fees te vier en oor en weer te trou, selfs nog totdat Noag in die ark ingegaan het. Hulle het eers besef wat aan die gang was toe die vloedwater kom en hulle almal verswelg het. Net so sal die koms van die Seun van die Mens wees. “Twee persone sal saam op die land werk. Die een sal saamgeneem word en die ander een sal agtergelaat word. Twee vroue sal saam by die meul koring maal. Die een sal saamgeneem en die ander een sal agtergelaat word. Wees dus waaksaam, want julle weet nie watter dag julle Here kom nie. “Julle besef tog goed, as ’n huiseienaar vooraf weet hoe laat in die nag die dief gaan kom, sal hy op sy hoede bly en nie toelaat dat daar by sy huis ingebreek word nie. Daarom moet julle ook voorbereid wees, want die Seun van die Mens kom op ’n tyd wanneer julle dit nie verwag nie.” “Wie van julle sal dan soos die betroubare en verstandige slaaf wees aan wie die huisheer die verantwoordelikheid toevertrou om sy huishouding te bestuur en aan sy mense hulle kos op die regte tyd te gee? As die huisheer terugkom en vind dat daardie slaaf sy plig goed uitgevoer het, sal hy hom goed beloon. Ek verseker julle, hy sal hom oor al sy besittings aanstel. Maar as die slaaf sleg is en by homself redeneer: ‘Dis nog lank voordat my huisheer kom,’ en hy begin die ander slawe aanrand en saam met die drinkers fuifpartye hou, sal die heer van daardie slaaf terugkom op ’n dag en tyd waarop hy nie voorbereid is nie. Dan sal hy hom ’n wrede dood laat sterf en hom laat deel in die lot van alle skynheiliges. Hulle sal bitterlik huil en van selfverwyt op hulle tande kners.”