Matteus 24

24
Vyande sal die tempel afbreek
(Ook Mark 13:1-2; Luk 21:5-6)
1Toe Jesus uit die tempel kom en wegstap, het sy dissipels na Hom toe gekom. Hulle het vir Hom die geboue van die tempel gewys. 2Maar Jesus het vir hulle gevra: “Sien julle al hierdie geboue? Ek sê vir julle, en dit is seker: Die vyande sal al hierdie geboue afbreek. Daar sal nie een muur regop bly staan nie.”
Mense sal baie swaar kry
(Ook Mark 13:3-13; Luk 21:7-19)
3Jesus het op die Olyf-berg gaan sit. Die dissipels het toe na Hom toe gekom, en hulle was alleen. Hulle het vir Hom gevra: “Sê vir ons: Wanneer sal hierdie dinge gebeur waarvan U gepraat het? Watter teken sal vir ons wys dat U sal kom en wanneer dit die einde van die wêreld sal wees?”
4Jesus het vir hulle gesê: “Julle moet oppas dat niemand julle bedrieg nie, 5want baie mense sal my Naam gebruik en sê: ‘Dit is Ek! Ek is die Christus!’ En hulle sal baie mense bedrieg. 6Julle sal hoor daar is oorlog, naby julle of ver van julle. Pasop, julle moenie skrik wanneer julle dit hoor nie. Hierdie dinge moet gebeur, maar dit is dan nog nie die einde van alles nie. 7Die een volk sal teen die ander volk oorlog maak, die mense van een land sal teen die mense van 'n ander land veg. Mense sal min kos hê om te eet. Daar sal ook aardbewings op baie plekke wees. 8Hierdie dinge is die begin, julle sal dan begin om baie swaar te kry. 9Dan sal mense julle vir ander mense gee, en daardie mense sal julle verdruk en doodmaak. Al die volke sal julle haat omdat julle aan My behoort. 10Dan sal baie mense ophou om in My te glo. Hulle sal mekaar verraai en hulle sal mekaar vir die vyand gee. Hulle sal mekaar haat. 11Daar sal baie vals profete kom en hulle sal vir baie mense verkeerd leer. 12Meer en meer mense sal nie doen wat God se wette sê nie, en daarom sal die liefde van die meeste mense min word. 13Maar as iemand tot die einde aanhou om My te volg, dan sal God hom red. 14In die hele wêreld sal mense hierdie goeie boodskap bring, die boodskap dat God Koning is. Al die volke sal dit kan hoor. Daarna sal die einde van die wêreld kom.”
Mense sal die gelowiges verdruk
(Ook Mark 13:14-23; Luk 21:20-24; 17:23-24,37)
15Jesus het gesê: “Julle sal iets sien wat vir God baie kwaad maak en wat alles verwoes. Dit sal staan in die gewyde plek. Die profeet Daniël het daaroor geskryf. Almal wat hierdie woorde lees, moet goed dink wat dit beteken. 16Wanneer dit gebeur, dan moet die mense wat in Judea is, na die berge vlug. 17Iemand wat op die dak van sy huis is, moenie wanneer hy afklim, eers iets in die huis gaan haal nie. 18En iemand wat op die koringland werk, moenie eers omdraai huis toe om sy klere te gaan haal nie. 19Dit sal in daardie tyd sleg gaan met vroue wat 'n baba verwag of wat kinders het wat nog aan hulle drink. 20Julle moet bid dat julle nie in die winter of op 'n Sabbatdag sal moet vlug nie. 21In daardie tyd sal mense baie swaar kry. Tot vandag toe het niemand so swaar gekry nie, van die begin af toe God alles gemaak het, tot nou toe. Niemand sal weer so swaar kry nie. 22In daardie tyd sal die mense swaarkry, maar die Here het besluit om daardie tyd korter te maak. As Hy dit nie besluit het nie, dan sal niemand in daardie tyd aanhou lewe nie. Maar die Here het besluit om daardie tyd korter te maak om die mense te help wat Hy gekies het. 23Wanneer iemand in daardie tyd vir julle sê: ‘Kyk, hier is die Christus!’ of ‘Daar is Hy!’ dan moet julle hom nie glo nie, 24want daar sal mense kom wat vals is en wat sê hulle is die Christus. Daar sal ook vals profete kom en hulle sal groot tekens wys en wonderwerke doen. God het mense gekies, en die vals profete sal probeer om ook daardie mense verkeerd te laat doen. Maar die vals profete sal dit nie regkry nie. 25Julle moet luister, Ek het dit alles vir julle gesê voordat dit gebeur. 26En as die mense vir julle sê: ‘Kyk, Hy is in die woestyn!’ dan moet julle nie daarnatoe gaan nie. En as hulle vir julle sê: ‘Kyk, Hy is in 'n kamer!’ dan moet julle dit nie glo nie. 27Wanneer Ek, die Seun van die mens, kom, dan sal dit wees soos wanneer die weerlig van die ooste tot in die weste skyn. 28Al die mense sal weet dat Ek kom, soos mense weet dat daar 'n dooie liggaam is wanneer hulle sien die aasvoëls kom bymekaar.”
Die Seun van die mens sal weer kom
(Ook Mark 13:24-27; Luk 21:25-27)
29Jesus het gesê: “En nadat mense die gelowiges verdruk het, sal dit nie lank wees nie,
“ dan sal die son donker word
en die maan sal nie skyn nie.
Die sterre sal uit die lug val
en alles in die lug sal skud.
30“Dan sal mense 'n teken in die lug sien wat sal wys dat Ek, die Seun van die mens, kom. En die volke van die aarde sal huil en treur. Almal sal My, die Seun van die mens, sien. Ek sal op die wolke kom en Ek sal alles kan doen wat Ek wil doen. Ek sal die Groot Koning wees. 31Wanneer iemand die groot trompet blaas, dan sal Ek my engele stuur en Ek sal al die mense bymekaarmaak wat Ek gekies het. Ek sal hulle bymekaarmaak van die ooste, die weste, die noorde en die suide, van die een kant van die aarde tot by die ander kant.”
Die gelykenis van die vyeboom
(Ook Mark 13:28-31; Luk 21:29-33)
32Jesus het ook gesê: “Julle moet hierdie les leer van die vyeboom: Wanneer 'n vyeboom se takke sag word en die blare begin groei, dan weet julle die somer is naby. 33So ook: Wanneer julle al hierdie dinge sien gebeur, dan moet julle weet die Here is naby, Hy sal gou kom. 34Ek sê vir julle, en dit is seker: Party mense wat nou lewe, sal nog lewe wanneer al hierdie dinge gebeur. 35Die hemel en die aarde sal eendag verdwyn, maar my woorde sal altyd waar wees.”
Niemand weet wanneer die Seun van die mens weer sal kom nie
(Ook Mark 13:32-33,35; Luk 17:26-36; 12:39-40)
36“Niemand weet op watter dag en hoe laat in die dag Ek sal kom nie. Die engele in die hemel weet nie, ook nie Ek, die Seun, nie. Net die Vader weet dit. 37Wanneer Ek, die Seun van die mens, kom, dan sal dit wees soos in die tyd van Noag. 38Want in daardie dae voor die watervloed het die mense aangehou om te eet en te drink en te trou en hulle kinders te laat trou tot die dag toe Noag in die ark ingegaan het. 39En hulle het nie geweet wat gebeur het nie, totdat die watervloed gekom het en alles weggespoel het. So sal dit ook wees wanneer Ek, die Seun van die mens, kom. 40Dan sal twee mense in 'n koringland werk, en God sal die een mens kies maar nie die ander een nie. 41Twee vroue sal met dieselfde maalklippe koring maal, en God sal een vrou kies maar nie die ander een nie.
42Julle moet wakker wees, want julle weet nie op watter dag julle Here sal kom nie.
43“Maar julle moet dit weet: As die eienaar van 'n huis weet hoe laat in die nag 'n dief sal kom, dan sal hy wakker bly en nie toelaat dat die dief by sy huis inbreek nie. 44Daarom moet julle ook altyd gereed wees, want Ek, die Seun van die mens, sal kom wanneer julle dit nie verwag nie.”
Die verstandige en die slegte slaaf
(Ook Luk 12:41-46)
45Jesus het ook gesê: “Ek wil vir julle vertel hoe is 'n slaaf wat verstandig is en wat doen wat sy eienaar wil hê. Die eienaar kies een van sy slawe en stel hom aan om die hoof te wees oor al die ander slawe. Hy moet ook elke dag vir hulle kos gee. 46Wanneer die eienaar terugkom en hy sien die slaaf is besig om alles te doen wat hy vir hom gesê het, dan sal daardie slaaf baie gelukkig wees. 47Ek sê vir julle, en dit is seker: Die eienaar sal daardie slaaf die hoof maak wat vir al die goed van sy eienaar moet sorg. 48Maar 'n slegte slaaf sal miskien dink sy eienaar bly baie lank weg en sal miskien nie weer terugkom nie. 49Dan begin hierdie slaaf die ander slawe slaan en hy eet en drink saam met die slegte mense wat altyd dronk is. 50En eendag kom die eienaar van die slaaf skielik terug, hy kom wanneer die slegte slaaf dit nie verwag nie, en nie weet hoe laat die eienaar kom nie. 51Dan sal die eienaar daardie slegte slaaf baie swaar straf, hy sal hom straf soos God mense straf wat skynheilig is. Die slegte slaaf sal saam met hulle huil en hard op sy tande byt van die pyn.”

Tans Gekies:

Matteus 24: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid