Matteus 24:36-51

Matteus 24:36-51 AFR20

“Van daardie dag en uur dra niemand kennis nie, selfs nie die engele van die hemele nie, en ook nie die Seun nie, net die Vader alleen. Want net soos in die dae van Noag, so sal die koms van die •Seun van die Mens wees. Soos hulle immers in daardie dae voor die vloed besig was om te eet en te drink, om in die huwelik te tree en in die huwelik uit te gee, tot op die dag dat Noag die ark binnegegaan het, en hulle niks vermoed het totdat die vloed gekom en almal meegesleur het nie, só sal ook die koms van die Seun van die Mens wees. “Dan sal daar twee op die land wees – een sal saamgeneem en die ander agtergelaat word. Twee sal by die meule maal – een sal saamgeneem en die ander agtergelaat word. “ Bly daarom waaksaam, omdat julle nie weet op watter dag julle Here kom nie. Dit moet julle weet: As die huiseienaar geweet het tydens watter nagwaak die dief kom, sou hy gewaak het en nie by sy huis laat inbreek het nie. Daarom moet julle gereed wees, want die Seun van die Mens kom op 'n tyd wanneer julle dit nie verwag nie.” “Wie is dan die betroubare en verstandige slaaf vir wie die eienaar aangestel het oor sy huishouding om vir hulle op tyd kos te gee? Gelukkig is daardie slaaf wie se eienaar hom so aan die werk sal vind wanneer hy kom. •Amen, Ek sê vir julle: Hy sal hom oor al sy besittings aanstel. As die slegte slaaf egter in sy hart sê, ‘My heer talm,’ en hy begin sy medeslawe slaan, en hy eet en drink saam met die dronkes, sal die eienaar van daardie slaaf op 'n dag kom wat hy nie verwag nie en op 'n uur wat hy nie weet nie. Hy sal hom middeldeur laat kap en hom laat deel in die lot van die skynheiliges. Daar sal 'n geween wees en 'n gekners van tande. ”