MATTEUS 2:2-11

MATTEUS 2:2-11 Bybel vir almal (ABA)

Hulle het vir die mense gevra: “Waar is die Kind wat gebore is en wat koning van die Jode sal word? Ons het sy ster gesien opkom en ons het gekom om voor Hom te kniel en Hom te aanbid.” Toe koning Herodes dit hoor, was hy en al die mense in Jerusalem baie geskok en bekommerd. Koning Herodes het die priesterleiers geroep en ook die skrifgeleerdes. Hulle het 'n vergadering gehou, en koning Herodes het baie vrae vir hulle gevra. Hy wou weet waar die Christus gebore sal word. Hulle het vir hom gesê: “Die Christus sal gebore word in die stad Betlehem in die provinsie Judea, want dit is wat die profeet geskryf het: ‘God het gesê: “ ‘ Jy, Betlehem, in die land Juda, jy is een van die belangrikste stede in Juda. Betlehem, daar sal 'n Leier in jou gebore word, en Hy sal vir my volk Israel sorg soos 'n skaapwagter vir sy skape sorg.’ ” Toe het koning Herodes die sterrekykers laat roep. Hy het gesê hulle moet na hom toe kom maar hulle moet vir niemand daarvan sê nie. Hy het lank met hulle gepraat om presies uit te vind wanneer hulle die eerste maal die ster gesien het. Herodes het die sterrekykers na Betlehem gestuur en gesê: “Gaan vind alles uit oor hierdie Kindjie en soek Hom. As julle Hom kry, dan moet julle vir my kom sê. Ek wil ook gaan en voor Hom kniel en Hom aanbid.” Nadat die sterrekykers gehoor het wat die koning gesê het, het hulle weggegaan. Die ster wat hulle in die ooste gesien het, het hulle gelei tot by die plek waar die Kindjie was. Toe het die ster gestop. Toe die sterrekykers sien die ster is daar, was hulle baie bly. Hulle het in die huis ingegaan, en daar het hulle die Kindjie by Maria, sy ma, gesien. Toe het hulle gebuig en voor Hom gekniel en Hom aanbid. Daarna het die sterrekykers hulle sakke oopgemaak en hulle het presente uitgehaal en vir die Kindjie gegee. Dit was goud, wierook en mirre.

MATTEUS 2:2-11 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Hulle het gevra: “Waar is die koning van die Jode wat gebore is? Want ons het sy ster in die Ooste gesien, en ons het gekom om eer aan Hom te bewys.” Toe koning Herodes dit hoor, was hy ontsteld, en die hele Jerusalem saam met hom. En nadat hy al die leierpriesters en skrifkenners uit die volk bymekaargeroep het, het hy by hulle navraag gedoen waar die Christus gebore sou word. Hulle het vir hom gesê: “In Betlehem, Judea, want so staan daar deur die profeet geskryf, “ ‘En jy, Betlehem, in die grondgebied van Juda, jy is glad nie die geringste onder die regeerders van Juda nie; want uit jou sal daar 'n leier kom wat my volk Israel as herder sal lei. ’ ” Daarop het Herodes die sterrekenners in die geheim ontbied, noukeurig by hulle navraag gedoen oor wanneer die ster verskyn het, en hulle toe na Betlehem gestuur met die opdrag: “Gaan vind noukeurig alles oor die Kindjie uit; en wanneer julle Hom gekry het, laat my weet, sodat ek ook kan gaan en aan Hom eer bewys.” Nadat hulle gehoor het wat die koning sê, het hulle vertrek. En kyk, die ster wat hulle in die Ooste gesien het, het voor hulle uit beweeg totdat dit tot stilstand gekom het reg bo die plek waar die Kindjie was. Toe hulle die ster sien, het hulle 'n onbeskryflike groot vreugde ervaar. Nadat hulle die huis binnegegaan het, het hulle die Kindjie by Maria, sy moeder, gesien en neergekniel en aan Hom eer bewys. Toe het hulle hulle skatte oopgemaak en vir Hom geskenke aangebied: goud, wierook en mirre.

MATTEUS 2:2-11 Die Boodskap (DB)

Hulle het oral in Jerusalem begin rondvra waar hulle die ware koning van die Jode kon vind. “Ons het ’n ster in die ooste gesien. Dit is die bewys dat ’n baie belangrike koning hier in julle land gebore is. Daarom het ons hierheen gekom om aan hom eer te kom bewys.” Kort voor lank het Herodes ook van die geleerdes uit die ooste se storie te hore gekom. Hy was baie omgekrap oor wat hulle oor die nuwe Joodse koning gesê het. So ook die res van Jerusalem. Daarom het hy gou al die godsdienstige leiers en die skrifkenners van die volk byeengeroep. Hy wou by hulle weet presies waar die Messias, God se Gestuurde, gebore sou word. “In Betlehem, in die landstreek van Judea,” het hulle geantwoord. Die profeet Miga het immers geskryf: “Betlehem, jy is lankal nie meer ’n onbenullige klein plekkie iewers in Juda nie. ’n Groot leier sal nog uit jou midde kom. Hy sal Israel lei, net soos ’n herder sy skape lei.” Herodes het toe ’n geheime ontmoeting met die sterrekenners uit die ooste gereël. Hy het vir hulle gevra wanneer hulle die ster vir die eerste keer gesien het. Daarna sê hy vir hulle: “Julle moet na Betlehem toe gaan. Gaan soek die kind daar tot julle hom kry! Laat weet my ook waar hy is, want ek wil hom gaan besoek om eer aan hom te bewys.” Hierna is die geleerdes reguit Betlehem toe. Toe dit donker word, het hulle dieselfde ster wat hulle vroeër in die ooste gesien het, in die lug bokant hulle opgemerk. Daaroor was hulle baie bly. Dit het stadig voor hulle uitbeweeg. Uiteindelik het die ster tot stilstand gekom bokant die plek waar Jesus en sy ouers was. Die sterrekenners het toe daar ingegaan. Toe hulle Jesus sien, het hulle dadelik op hulle knieë neergeval. Uit respek het hulle laag op die grond voor Hom gebuig. Toe maak hulle hulle bagasie oop en haal ’n klompie geskenke uit wat hulle vir Hom saamgebring het: goud, wierook en mirre.

MATTEUS 2:2-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

“Waar is die pasgebore Koning van die Jode? Ons het sy ster sien verskyn en gekom om Hom te aanbid.” Toe koning Herodes hiervan hoor, het dit hom hewig ontstel; so ook die hele Jerusalem. Hy roep toe al die priesterhoofde en skrifkenners bymekaar en hoor by hulle waar die Messias gebore sou word. Hulle het hom geantwoord: “In Betlehem in Judea, want die profeet het soos volg geskryf: ‘En jy, Betlehem, in die landstreek van Juda, jy is beslis nie die onbeduidendste dorpie in Juda nie; want uit jou sal daar ’n leier voortkom wat my volk Israel sal versorg soos ’n skaapwagter sy skape.’” Daarop het Herodes ’n geheime boodskap na die sterrekundiges gestuur om hulle na hom te ontbied. Hy het toe noukeurig by hulle vasgestel wanneer die ster oorspronklik verskyn het. Daarna laat hy hulle na Betlehem gaan met die opdrag: “Gaan vind alles noukeurig oor die Kindjie uit. As julle Hom kry, kom sê vir my dat ek Hom ook kan gaan aanbid.” Nadat hulle die koning aangehoor het, het die sterrekundiges vertrek. En, werklikwaar, die ster wat hulle in die ooste sien verskyn het, is weer daar en dit beweeg voor hulle uit totdat dit bokant die plek gaan staan waar die Kindjie was. Met dié dat hulle die ster sien, het ’n wonderlike blydskap oor hulle gekom. Toe hulle in die huis ingaan, sien hulle die Kindjie by Maria, sy ma, en hulle val voor Hom neer en aanbid Hom. Toe maak hulle hulle kissies met kosbaarhede oop en gee aan Hom geskenke van goud en wierook en mirre.