MATTEUS 2:19-23
MATTEUS 2:19-23 Bybel vir almal (ABA)
Later, toe koning Herodes gesterf het, was Josef nog in Egipte. 'n Engel van die Here het in 'n droom aan Josef verskyn. Die engel het vir Josef gesê: “Maak gereed, neem die Kindjie en sy ma en gaan terug na die land Israel, want die mense wat die Kindjie wou doodmaak, is nou dood.” Josef het toe gereedgemaak. Hy het die Kindjie en sy ma geneem en na Israel gegaan. Maar Josef het gehoor Argelaos was die nuwe koning van die provinsie Judea. Argelaos was koning ná sy pa Herodes. Josef was toe bang om na Judea te gaan. Die Here het vir Josef in 'n droom gewaarsku, en daarom het Josef uit Egipte na die provinsie Galilea gegaan. Josef het gaan woon in die stad Nasaret. So het gebeur wat die profete gesê het: “Die mense sal Jesus 'n ‘Nasarener’ noem.”
MATTEUS 2:19-23 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN ná die dood van Herodes het daar 'n engel van die Here in 'n droom aan Josef in Egipte verskyn en gesê: Staan op, neem die Kindjie en sy moeder, en gaan na die land van Israel; want hulle is dood wat die lewe van die Kindjie gesoek het. En hy het opgestaan, die Kindjie en sy moeder geneem en in die land van Israel gekom. Maar toe hy hoor dat Archeláüs oor Judéa koning was in die plek van sy vader Herodes, was hy bevrees om daarheen te gaan. En hy het 'n goddelike waarskuwing in 'n droom ontvang en na die streke van Galiléa teruggekeer. En hy het gaan woon in 'n stad met die naam van Násaret, sodat vervul sou word wat deur die profete gespreek is, dat Hy Nasaréner genoem sou word.
MATTEUS 2:19-23 Afrikaans 1983 (AFR83)
Na die dood van Herodes verskyn daar 'n engel van die Here in 'n droom aan Josef in Egipte en sê: “Staan op, neem die Kindjie en sy moeder en gaan terug na die land van Israel toe, want die mense wat die Kindjie se lewe gesoek het, is dood.” Josef het toe opgestaan, die Kindjie en sy moeder geneem en na die land van Israel toe teruggegaan. Toe hy egter verneem dat Argelaos in die plek van sy vader Herodes oor Judea regeer, was Josef bang om daarheen te gaan. Nadat God hom in 'n droom 'n aanwysing gegee het, is hy na die landstreek Galilea toe. Daar aangekom, het hy gaan woon in 'n dorp met die naam Nasaret. So is vervul wat deur die profete gesê is: Hy sal Nasarener genoem word.
MATTEUS 2:19-23 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Herodes het gesterf, en kyk, daar het in Egipte 'n engel van die Here in 'n droom aan Josef verskyn en gesê: “Staan op, neem die Kind en sy moeder en gaan na die land Israel, want die mense wat die Kind om die lewe wou bring, is dood.” Hy het opgestaan en die Kindjie en sy moeder saamgeneem en in die land Israel aangekom. Maar toe hy hoor dat Argelaos in die plek van sy vader Herodes oor Judea regeer, was hy bang om daarheen te gaan. Nadat hy in 'n droom 'n opdrag van God ontvang het, het hy na die landstreek Galilea vertrek en in 'n dorp met die naam Nasaret gaan woon, sodat vervul sou word wat deur die profete gesê is: “Hy sal 'n Nasarener genoem word.”
MATTEUS 2:19-23 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Maar toe Herodes dood was, verskyn daar 'n engel van die Here in 'n droom aan Josef in Egipte, en gesê: Staan op en neem die kindjie en sy moeder en gaan na die land van Israel, want hulle is dood wat die lewe van die kindjie gesoek het. En hy het opgestaan en die kindjie en sy moeder geneem en in die land van Israel gekom. Maar toe hy hoor dat Archelaüs in Judéa in die kamer van sy vader Herodes regeer het, was hy bang om daarheen te gaan; maar hy het in 'n droom deur God gewaarsku en weggedraai na die dele van Galilea. En hy het gekom en gaan woon in 'n stad met die naam van Nasaret, sodat vervul sou word wat deur die profete gespreek is: Hy sal 'n Nasaréner genoem word.
MATTEUS 2:19-23 Die Boodskap (DB)
Na Herodes se dood het die engel van die Here weer in ’n droom met Josef in Egipte gepraat. Hy het vir hom gesê: “Word dadelik wakker! Vat vir Jesus en sy ma en gaan terug na Israel toe. Almal wat Hom wou doodmaak, is nou self ook dood.” Josef het gedoen wat die engel gesê het. Hy het saam met Jesus en sy ma teruggegaan na Israel toe. Daar aangekom, het hy gehoor dat Herodes se seun Argelaus die nuwe koning van Judea was. Hy was toe skrikkerig om daar te gaan bly. Terwyl Josef nog wonder wat hy moes doen, het hy weer in ’n droom ’n boodskap van God af gekry, hierdie keer om na die gebied van Galilea toe te gaan. Daar het Josef en sy gesin in ’n dorpie met die naam Nasaret gaan bly. So het die profete se woorde waar geword dat die Verlosser ’n Nasarener genoem sou word.
MATTEUS 2:19-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Ná Herodes se dood verskyn daar ’n engel van die Here in ’n droom aan Josef en sê vir hom: “Staan op en neem die Kindjie en sy ma terug na die land Israel, want die mense wat die Kindjie om die lewe wou bring, is dood.” Josef het dadelik met die Kindjie en sy ma vertrek en hy het in die land Israel aangekom. Toe hy egter hoor dat Argelaus koning geword het in sy pa, Herodes, se plek, het hy bang geword om na Judea te reis. Omdat God hom in ’n droom so beveel het, het hy toe na die omgewing van Galilea vertrek. En so het hy hom gaan vestig in ’n dorp met die naam Nasaret. Daarmee is die uitspraak van die profete vervul dat die Messias ’n Nasarener genoem sou word.