MATTEUS 2:13-23

MATTEUS 2:13-23 Bybel vir almal (ABA)

Nadat die sterrekykers weggegaan het, het 'n engel van die Here in 'n droom aan Josef verskyn en vir hom gesê: “Staan op, neem die Kindjie en sy ma saam en vlug na Egipte. Bly daar totdat Ek vir jou sê om terug te kom, want koning Herodes wil die Kindjie doodmaak.” Josef het toe opgestaan. Hy het die Kindjie en sy ma in die nag saam met hom geneem en hulle het na Egipte gegaan. Hulle het in Egipte gebly totdat Herodes gesterf het. Dit het gebeur sodat dit waar kan word wat die Here gesê het. Die profeet het geskryf: “Die Here het gesê: Ek het my Seun uit Egipte geroep.” Koning Herodes het uitgevind dat die sterrekykers hom gekul het, hulle het nie gedoen wat hy vir hulle gesê het nie. Hy was toe baie kwaad. Hy het soldate gestuur om al die seuntjies in Betlehem dood te maak, al die seuntjies wat twee jaar oud en jonger as twee jaar was. Hulle het ook die seuntjies doodgemaak wat naby Betlehem gewoon het. Hy het die seuntjies laat doodmaak wat twee jaar oud en jonger as twee jaar was, omdat die sterrekykers vir hom gesê het wanneer hulle die ster gesien opkom het. So het gebeur wat die profeet Jeremia gesê het: “ Hulle hoor hoe die mense huil, hoe hartseer hulle is in die stad Rama. Ragel huil oor haar kinders. Die mense probeer haar troos, maar sy bly hartseer, want haar kinders is dood.” Later, toe koning Herodes gesterf het, was Josef nog in Egipte. 'n Engel van die Here het in 'n droom aan Josef verskyn. Die engel het vir Josef gesê: “Maak gereed, neem die Kindjie en sy ma en gaan terug na die land Israel, want die mense wat die Kindjie wou doodmaak, is nou dood.” Josef het toe gereedgemaak. Hy het die Kindjie en sy ma geneem en na Israel gegaan. Maar Josef het gehoor Argelaos was die nuwe koning van die provinsie Judea. Argelaos was koning ná sy pa Herodes. Josef was toe bang om na Judea te gaan. Die Here het vir Josef in 'n droom gewaarsku, en daarom het Josef uit Egipte na die provinsie Galilea gegaan. Josef het gaan woon in die stad Nasaret. So het gebeur wat die profete gesê het: “Die mense sal Jesus 'n ‘Nasarener’ noem.”

MATTEUS 2:13-23 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN toe hulle teruggegaan het, verskyn daar 'n engel van die Here in 'n droom aan Josef en sê: Staan op, neem die Kindjie en sy moeder en vlug na Egipte, en bly daar totdat ek jou sê; want Herodes gaan die Kindjie soek om Hom dood te maak. Hy het toe opgestaan, die Kindjie en sy moeder in die nag geneem en na Egipte vertrek. En hy was daar tot die dood van Herodes, sodat die woord vervul sou word wat die Here gespreek het deur die profeet: Uit Egipte het Ek my Seun geroep. Toe Herodes sien dat hy deur die wyse manne mislei was, het hy baie woedend geword en gestuur en in Betlehem en in al die omstreke daarvan al die seuntjies van twee jaar en daaronder laat ombring, ooreenkomstig die tyd wat hy van die wyse manne uitgevra het. Toe is vervul wat deur Jeremia, die profeet, gespreek is toe hy gesê het: 'n Stem is in Rama gehoor: rouklag en geween en groot gekerm; Ragel beween haar kinders en wil nie vertroos word nie, omdat hulle daar nie meer is nie. EN ná die dood van Herodes het daar 'n engel van die Here in 'n droom aan Josef in Egipte verskyn en gesê: Staan op, neem die Kindjie en sy moeder, en gaan na die land van Israel; want hulle is dood wat die lewe van die Kindjie gesoek het. En hy het opgestaan, die Kindjie en sy moeder geneem en in die land van Israel gekom. Maar toe hy hoor dat Archeláüs oor Judéa koning was in die plek van sy vader Herodes, was hy bevrees om daarheen te gaan. En hy het 'n goddelike waarskuwing in 'n droom ontvang en na die streke van Galiléa teruggekeer. En hy het gaan woon in 'n stad met die naam van Násaret, sodat vervul sou word wat deur die profete gespreek is, dat Hy Nasaréner genoem sou word.

MATTEUS 2:13-23 Afrikaans 1983 (AFR83)

Nadat hulle vertrek het, het daar 'n engel van die Here in 'n droom aan Josef verskyn en gesê: “Staan op, neem die Kindjie en sy moeder en vlug na Egipte toe en bly daar totdat ek jou sê om terug te kom, want Herodes is van plan om die Kindjie te soek en Hom dood te maak.” Josef het toe opgestaan en in die nag die Kindjie en sy moeder geneem en na Egipte toe vertrek en daar gebly tot die dood van Herodes. So is vervul wat die Here deur 'n profeet gesê het: “Uit Egipte het Ek my Seun geroep.” Toe Herodes agterkom dat die sterrekykers hom in die steek gelaat het, het hy woedend geword. Hy stuur toe soldate en laat in Betlehem en die hele omgewing al die seuntjies van twee jaar en jonger doodmaak, ooreenkomstig die tyd wat hy noukeurig by die sterrekykers uitgevra het. Toe is die woord vervul wat die Here deur die profeet Jeremia gesê het: “'n Gekerm word op Rama gehoor, 'n gehuil en groot gejammer: Ragel treur oor haar kinders en wil nie getroos word nie, omdat hulle nie meer daar is nie.” Na die dood van Herodes verskyn daar 'n engel van die Here in 'n droom aan Josef in Egipte en sê: “Staan op, neem die Kindjie en sy moeder en gaan terug na die land van Israel toe, want die mense wat die Kindjie se lewe gesoek het, is dood.” Josef het toe opgestaan, die Kindjie en sy moeder geneem en na die land van Israel toe teruggegaan. Toe hy egter verneem dat Argelaos in die plek van sy vader Herodes oor Judea regeer, was Josef bang om daarheen te gaan. Nadat God hom in 'n droom 'n aanwysing gegee het, is hy na die landstreek Galilea toe. Daar aangekom, het hy gaan woon in 'n dorp met die naam Nasaret. So is vervul wat deur die profete gesê is: Hy sal Nasarener genoem word.

MATTEUS 2:13-23 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Die sterrekenners het teruggekeer, en kyk, daar het 'n engel van die Here in 'n droom aan Josef verskyn en gesê: “Maak gereed, neem die Kindjie en sy moeder en vlug na Egipte, en bly daar tot wanneer ek jou opdrag gee; want Herodes is van plan om die Kindjie te soek en Hom dood te maak.” Josef het toe gereedgemaak en gedurende die nag die Kindjie en sy moeder geneem en na Egipte vertrek. Hy het daar gebly tot Herodes se dood, sodat die woorde vervul sou word wat die Here deur die profeet gesê het: “Uit Egipte het Ek my Seun geroep.” Toe Herodes agterkom dat hy deur die sterrekenners om die bos gelei is, was hy briesend. En hy het in Betlehem en die hele omliggende gebied al die seuntjies van twee jaar en jonger om die lewe laat bring, in ooreenstemming met die tyd wat hy noukeurig van die sterrekenners verneem het. Toe is vervul wat deur die profeet Jeremia gesê is: “'n Stem is in Rama gehoor, 'n droewige gehuil en 'n luide rouklag; Ragel huil oor haar kinders, en sy weier om vertroos te word, omdat hulle nie meer daar is nie.” Herodes het gesterf, en kyk, daar het in Egipte 'n engel van die Here in 'n droom aan Josef verskyn en gesê: “Staan op, neem die Kind en sy moeder en gaan na die land Israel, want die mense wat die Kind om die lewe wou bring, is dood.” Hy het opgestaan en die Kindjie en sy moeder saamgeneem en in die land Israel aangekom. Maar toe hy hoor dat Argelaos in die plek van sy vader Herodes oor Judea regeer, was hy bang om daarheen te gaan. Nadat hy in 'n droom 'n opdrag van God ontvang het, het hy na die landstreek Galilea vertrek en in 'n dorp met die naam Nasaret gaan woon, sodat vervul sou word wat deur die profete gesê is: “Hy sal 'n Nasarener genoem word.”

MATTEUS 2:13-23 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En toe hulle weggegaan het, verskyn die engel van die Here aan Josef in 'n droom en sê: Staan op en neem die seuntjie en sy moeder en vlug na Egipte, en wees jy daar totdat Ek jou woord bring; want Herodes sal die jong kind soek om hom te vernietig. Toe hy opstaan, het hy die kindjie en sy moeder in die nag geneem en na Egipte vertrek. En was daar tot die dood van Herodes, sodat vervul sou word wat deur die profeet van die Here gespreek is deur te sê: Uit Egipte het Ek my seun geroep. Toe Herodes toe sien dat hy met die wyse manne bespot word, het hy baie kwaad geword en uitgestuur en al die kinders wat in Betlehem en in al die gebiede daarvan was, van twee jaar oud en onder, gedood volgens die tyd wat hy ywerig by die wyse manne navraag gedoen het. Toe is vervul wat gespreek is deur die profeet Jeremiah, deur te sê: In Rama is daar 'n stem gehoor, geween en geween en groot rou; Ragel het geween oor haar kinders en wou nie vertroos word nie, want hulle is nie. Maar toe Herodes dood was, verskyn daar 'n engel van die Here in 'n droom aan Josef in Egipte, en gesê: Staan op en neem die kindjie en sy moeder en gaan na die land van Israel, want hulle is dood wat die lewe van die kindjie gesoek het. En hy het opgestaan en die kindjie en sy moeder geneem en in die land van Israel gekom. Maar toe hy hoor dat Archelaüs in Judéa in die kamer van sy vader Herodes regeer het, was hy bang om daarheen te gaan; maar hy het in 'n droom deur God gewaarsku en weggedraai na die dele van Galilea. En hy het gekom en gaan woon in 'n stad met die naam van Nasaret, sodat vervul sou word wat deur die profete gespreek is: Hy sal 'n Nasaréner genoem word.

MATTEUS 2:13-23 Die Boodskap (DB)

Nadat die geleerdes terug is na hulle land toe, het ’n engel van die Here in ’n droom vir Josef kom sê: “Word wakker! Vat die Kindjie en sy ma en vlug dadelik Egipte toe. Bly daar totdat jy weer van My hoor. Herodes is op soek na Jesus. Hy wil Hom doodmaak.” Josef het dadelik opgestaan, vir Maria wakker gemaak en inderhaas met haar en Jesus in die middel van die nag uit die dorp padgegee. Hulle het na Egipte toe gegaan. Daar het hulle gebly tot na Herodes se dood. Op hierdie manier het ’n belangrike uitspraak van Hosea waar geword. Die Here het vroeër deur hom gesê: “Uit Egipte het Ek my Seun laat haal.” Intussen het Herodes agtergekom dat die geleerdes uit die ooste hom in die steek gelaat het. Hy was baie kwaad daaroor. Hy het dadelik sy soldate na Betlehem toe gestuur. Hulle moes alle seuntjies jonger as twee jaar vang en hulle doodmaak. (Herodes het die ouderdom van die seuntjies bereken aan die hand van die inligting wat hy vroeër van die geleerdes uit die ooste gekry het.) So het die woorde van Jeremia ook waar geword: “In Rama het die mense ’n harde stem gehoor. Dit klink soos iemand wat verskriklik huil. Dis Ragel! Sy huil oor al haar kinders. Niemand kan haar troos nie, want haar kinders is dood.” Na Herodes se dood het die engel van die Here weer in ’n droom met Josef in Egipte gepraat. Hy het vir hom gesê: “Word dadelik wakker! Vat vir Jesus en sy ma en gaan terug na Israel toe. Almal wat Hom wou doodmaak, is nou self ook dood.” Josef het gedoen wat die engel gesê het. Hy het saam met Jesus en sy ma teruggegaan na Israel toe. Daar aangekom, het hy gehoor dat Herodes se seun Argelaus die nuwe koning van Judea was. Hy was toe skrikkerig om daar te gaan bly. Terwyl Josef nog wonder wat hy moes doen, het hy weer in ’n droom ’n boodskap van God af gekry, hierdie keer om na die gebied van Galilea toe te gaan. Daar het Josef en sy gesin in ’n dorpie met die naam Nasaret gaan bly. So het die profete se woorde waar geword dat die Verlosser ’n Nasarener genoem sou word.

MATTEUS 2:13-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Ná die vertrek van die sterrekundiges verskyn daar ’n engel van die Here in ’n droom aan Josef en sê: “Staan op en vlug met die Kindjie en sy ma na Egipte toe. Bly daar tot ek vir jou sê om terug te kom, want Herodes gaan die Kindjie probeer doodmaak.” Josef het toe opgestaan en nog daardie selfde nag met die Kindjie en sy ma na Egipte toe vertrek. En hulle het daar gebly tot Herodes se dood. So is vervul wat die Here deur die profeet gesê het: “Uit Egipte het Ek my Seun geroep.” Toe Herodes agterkom dat die sterrekundiges hom uitoorlê het, was hy siedend van woede. Hy het soldate gestuur om in en rondom Betlehem al die seuntjies van twee jaar en jonger om die lewe te bring. Hy het die twee jaar bereken volgens die tyd wat hy by die sterrekundiges vasgestel het. Daarmee is Jeremia se uitspraak vervul: “’n Smartkreet word gehoor in Rama, ’n gesnik en ’n bitter geklaag. Ragel huil oor haar kinders. Sy wil maar net nie vertroos word nie, want hulle is dood.” Ná Herodes se dood verskyn daar ’n engel van die Here in ’n droom aan Josef en sê vir hom: “Staan op en neem die Kindjie en sy ma terug na die land Israel, want die mense wat die Kindjie om die lewe wou bring, is dood.” Josef het dadelik met die Kindjie en sy ma vertrek en hy het in die land Israel aangekom. Toe hy egter hoor dat Argelaus koning geword het in sy pa, Herodes, se plek, het hy bang geword om na Judea te reis. Omdat God hom in ’n droom so beveel het, het hy toe na die omgewing van Galilea vertrek. En so het hy hom gaan vestig in ’n dorp met die naam Nasaret. Daarmee is die uitspraak van die profete vervul dat die Messias ’n Nasarener genoem sou word.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid