MATTEUS 13:10-15

MATTEUS 13:10-15 Die Boodskap (DB)

Voor Jesus verder kon praat, vra sy getrouste volgelinge Hom: “U vertel altyd verhale wanneer U preek. Hoekom?” “As julle mooi na my verhale luister, sal julle baie oor God se mag in hierdie wêreld leer. Julle sal dinge hoor wat julle nog nooit oor God se nuwe wêreld gehoor het nie. Julle wat My ken, sal die verhale reg kan verstaan. “Maar wie die verhale nie met die oog op my boodskap wil verstaan nie, sal nooit weet wat dit beteken nie. Hoe meer julle van God se nuwe wêreld verstaan, hoe duideliker sal die verhale vir julle word. Hoe duideliker dit word, hoe meer sal julle van God se nuwe wêreld verstaan. Vir mense wat egter nie die verhale wil verstaan soos Ek dit bedoel nie, sal dit net leë stories bly. Daarom vertel Ek vir hulle verhale. Mense wat nie my boodskap wil hoor nie, sal hier rondstaan en nie ’n woord begryp van wat hier aangaan nie. Mense wat nie wil aanvaar dat God hier en nou werk nie, sal niks verstaan van wat besig is om te gebeur nie. “Wat die profeet Jesaja gesê het, is hier net so waar: julle sal alles hoor wat gesê word, maar dit sal by die een oor ingaan en by die ander oor uit; alles sal voor julle oë gebeur, maar julle sal voorgee dat niks gebeur het nie. Hierdie mense is hardekop. Hulle hou hulle doof en blind. Daarom dring niks tot hulle deur nie. Van wat besig is om te gebeur verstaan hulle net mooi niks nie. “En wat is die gevolg? Hulle wil niks aan hulle verkeerde gesindheid teenoor My doen nie. Daarom sal Ek hulle ook nie geestelik gesond maak nie.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid