MATTEUS 12:22-28
MATTEUS 12:22-28 Bybel vir almal (ABA)
Die mense het 'n man na Jesus toe gebring. Die man was blind en stom. Hy het 'n duiwel in hom gehad. Jesus het die man gesond gemaak, en die man kon weer praat en sien. Al die mense was verbaas. Hulle het gesê: “Is Jesus miskien die Seun van Dawid, of is Hy nie?” Die Fariseërs het gehoor wat die mense sê, en die Fariseërs het vir mekaar gesê: “Jesus jaag duiwels uit mense, maar Beëlsebul, die leier van die duiwels, help vir Jesus om die duiwels uit te jaag.” Jesus het geweet wat hulle dink, en Hy het vir hulle gesê: “Wanneer die mense in 'n land nie kan saamwerk met mekaar nie, dan sal vyande die land oorwin. En wanneer die mense in 'n stad of in 'n huisgesin nie kan saamwerk met mekaar nie, dan sal hulle nie bymekaar bly nie. Wat julle sê, beteken dat dit die Satan is wat die Satan uitjaag. As dit so is, dan is die Satan teen homself, en dan kan hy niks meer doen nie en hy kan oor niemand regeer nie. En as Beëlsebul My help om duiwels uit te jaag uit mense, wie help dan julle leerlinge om duiwels uit mense uit te jaag? Julle eie leerlinge bewys dat julle verkeerd is. Dit is die Gees van God wat My help om duiwels uit te jaag, en dit bewys dat God die Koning is wat begin regeer het oor julle.
MATTEUS 12:22-28 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
TOE het hulle 'n duiwelbesetene wat blind en stom was, na Hom gebring; en Hy het hom gesond gemaak, sodat die blinde en stomme kon praat en sien. En die hele menigte was verbaas en het gesê: Is Hy nie miskien die seun van Dawid nie? Maar toe die Fariseërs dit hoor, sê hulle: Hy dryf die duiwels nie anders uit as deur Beëlsebul, die owerste van die duiwels, nie. Maar Jesus het hulle gedagtes geken en vir hulle gesê: Elke koninkryk wat teen homself verdeeld is, word verwoes; en elke stad of huis wat teen homself verdeeld is, sal nie bly staan nie. En as die Satan die Satan uitdryf, dan is hy teen homself verdeeld. Hoe sal sy koninkryk dan bly staan? En as Ek deur Beëlsebul die duiwels uitdryf, deur wie dryf julle seuns hulle uit? Daarom sal hulle jul regters wees. Maar as Ek deur die Gees van God die duiwels uitdryf, dan het die koninkryk van God by julle gekom.
MATTEUS 12:22-28 Afrikaans 1983 (AFR83)
Hulle het toe 'n man wat in die mag van 'n bose gees was, na Jesus toe gebring. Die man was blind en stom. Jesus het sy gebrek genees, sodat hy weer kon praat en sien. En die hele menigte mense was verslae en het gesê: “Is Hy nie miskien die Seun van Dawid nie?” Die Fariseërs het hiervan gehoor en gesê: “Hy dryf bose geeste uit alleen met die hulp van Beëlsebul, die aanvoerder van die bose geeste.” Jesus het egter geweet wat hulle dink, en Hy het vir hulle gesê: “Elke koninkryk wat onderling verdeeld is, gaan te gronde, en geen stad of huis wat onderling verdeeld is, sal bly staan nie. As die Satan dan die Satan uitdryf, is hy teen homself verdeeld; hoe kan sy ryk dan bly staan? En as Ek met Beëlsebul se hulp die bose geeste uitdryf, met wie se hulp doen julle volgelinge dit dan? Julle eie volgelinge sal as julle regters optree en wys dat julle verkeerd is. “Aangesien Ek deur die Gees van God die bose geeste uitdryf, het die koninkryk van God inderdaad tot by julle gekom.
MATTEUS 12:22-28 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe is iemand wat deur 'n demoon besete, en blind en stom was, na Jesus gebring, en Hy het hom gesond gemaak, sodat die stomme kon praat en sien. Al die mense was uit die veld geslaan en het gesê: “Is hierdie man nie dalk die •Seun van Dawid nie?” Toe die •Fariseërs hiervan te hore kom, het hulle gesê: “Dit is slegs deur Beëlsebul, die aanvoerder van die demone, dat hierdie man demone uitdryf.” Omdat Hy hulle gedagtes geken het, het Hy vir hulle gesê: “Elke koninkryk wat teen homself verdeeld is, gaan ten gronde, en geen dorp of huis wat teen homself verdeeld is, sal staande bly nie. As Satan Satan uitdryf, is hy teen homself verdeeld; hoe sal sy koninkryk dan staande bly? En as Ek deur Beëlsebul die demone uitdryf, deur wie dryf julle seuns hulle uit? Daarom sal hulle regters oor julle wees. Maar as Ek deur die Gees van God die demone uitdryf, dan het die •koninkryk van God julle bereik.
MATTEUS 12:22-28 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe is 'n duiwelsbesete, blind en stom, na Hom gebring; en Hy het hom gesond gemaak, sodat die blinde sowel as die stomme gepraat en gesien het. En die hele volk was verbaas en sê: Is dit nie die seun van Dawid nie? Maar toe die Fariseërs dit hoor, sê hulle: Hierdie man dryf nie duiwels uit nie, maar deur Beëlsebul, die owerste van die duiwels. En Jesus het hulle gedagtes geken en vir hulle gesê: Elke koninkryk wat teen homself verdeeld is, word verwoes; en elke stad of huis wat teen homself verdeeld is, sal nie bestaan nie. En as die Satan die Satan uitdryf, is hy teen homself verdeeld; hoe sal sy koninkryk dan bestaan? En as Ek deur Beëlsebul duiwels uitdryf, deur wie dryf julle kinders hulle uit? daarom sal hulle julle regters wees. Maar as Ek deur die Gees van God duiwels uitdryf, dan het die koninkryk van God na julle gekom.
MATTEUS 12:22-28 Die Boodskap (DB)
Toe bring hulle ’n man na Hom toe wat so in die vernietigende mag van die duiwel was dat hy nie eens kon sien of praat nie. Die duiwel was egter nie teen Jesus opgewasse nie. Jesus het die man gesond gemaak. Daarna kon hy weer normaal praat en sien wat om hom aangaan. Dit het die omstanders baie beïndruk. In verwondering het hulle vir mekaar gevra: “Is Jesus nie dalk die Een wat weer soos koning Dawid oor ons gaan regeer nie?” Die Fariseërs was glad nie gelukkig toe hulle die mense dit hoor sê nie. “Nee wat, moenie julle laat kul nie,” het hulle probeer keer. “Hierdie man is baie goeie vriende met die duiwel self. Daarom luister die bose geeste so na hom.” Hierdie skynheiliges kon egter niks vir Jesus wegsteek nie. Hy het geweet wat hulle dink. Daarom was sy teenargument gereed: “’n Weermag met soldate wat oor elke liewe ding onder mekaar baklei, sal nooit ’n oorlog kan wen nie. ’n Gesin waarin elkeen net heeltyd die ander wil teengaan, sal uitmekaarspat. Nou ja, met Satan is dit nie anders nie. As Satan nou teen homself oorlog verklaar en homself oral uitdryf, waar gaan alles vir hom eindig? Hy sal dit mos nooit doen nie! “Dit is nie al nie. Sê My, julle dryf ook mos demone uit. As julle sê Ek kan dit net doen omdat Ek die duiwel se groot vriend is, wie se vriende maak dit julle? Toe, werk die antwoord uit. As julle die regte antwoord gekry het, sal julle ook weet waarom Ek demone kan verjaag. Julle sal agterkom dat Ek die demone deur die hulp en krag van God se Gees verwilder. Dan sal julle ook moet toegee: waar Ek hier tussen julle werk, is God ook aan die werk. Hy heers tog oor alles en almal.
MATTEUS 12:22-28 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Hulle het ’n man na Hom toe gebring in wie daar ’n bose gees was. Die man was blind én stom. Jesus het hom gesond gemaak sodat hy kon sien en ook kon praat. Die hele menigte was verstom en het gesê: “Is Hy nie dalk tog die Seun van Dawid, die Messias, nie?” Toe die Fariseërs egter van die wonder hoor, het hulle geskimp: “Geen wonder dat hy bose geeste kan uitdryf nie. Hy kry sy krag immers van Beëlsebul, die baasduiwel.” Jesus het egter hulle gedagtes geken en vir hulle gesê: “Enige koninkryk wat teen homself verdeeld is, gaan ten gronde. En geen dorp of huis wat teen homself verdeeld is, sal bly staan nie. As Satan Satan uitdryf, is hy mos teen homself verdeeld. Hoe sal sy koninkryk dan kan staande bly? En as Ek met die krag van Beëlsebul die bose geeste uitdryf, met wie se hulp doen julle volgelinge dit dan? Daarom sal hulle julle regters wees. “Maar as dit die Gees van God is wat My in staat stel om die bose geeste uit te dryf, moet julle besef dat die koningsheerskappy van God nou by julle is.