Matteus 12

12
Jesus Here oor die Sabbat
(Mark 2:23-28; Luk 6:1-5)
1In daardie tyd het Jesus op die Sabbat deur die gesaaides geloop. Sy dissipels het honger geword, en begin om die are te pluk en te eet. 2Toe die •Fariseërs dit sien, sê hulle vir Hom: “Kyk, u dissipels doen iets wat op die Sabbat nie toelaatbaar is nie. ” 3Maar Hy sê vir hulle: “Het julle nie gelees wat Dawid gedoen het toe hy en dié saam met hom honger geword het nie? 4Hoe hy die huis van God binnegegaan, en hulle die •vertoonbrode geëet het – waarvan nie hy of dié saam met hom mag geëet het nie, maar net die priesters? 5Of het julle nie in die Wet gelees dat die priesters die Sabbat ontheilig wanneer hulle op die Sabbat in die •tempel diens doen, maar tog onskuldig bly nie? 6 Ek sê vir julle: Wat hiér is, is groter as die tempel. 7As julle maar net begryp het wat bedoel word met ‘Ek wil barmhartigheid hê en nie offerande nie,’ sou julle nie hierdie onskuldige mense veroordeel het nie. 8Die •Seun van die Mens is immers Here van die Sabbat.”
Genesing op die Sabbat
(Mark 3:1-6; Luk 6:6-11)
9Toe het Jesus daarvandaan vertrek en hulle •sinagoge binnegegaan. 10En kyk, daar was 'n man met 'n verdorde hand. Om Hom te kon aankla, vra hulle Hom toe: “Is dit toelaatbaar om iemand op die Sabbat gesond te maak?” 11 Hy het egter vir hulle gesê: “Watter mens onder julle wat net een skaap het, sal dit nie gryp en uithaal as dit op die Sabbat in 'n sloot val nie? 12Hoeveel meer is 'n mens dan nie werd as 'n skaap nie! Daarom is dit toelaatbaar om op die Sabbat goed te doen. ” 13Toe sê Hy vir die man: “Steek uit jou hand!” Hy het dit uitgesteek en dit het gesond geword, gesond soos die ander een. 14 Die •Fariseërs het toe uitgegaan en planne teen Hom beraam, sodat hulle Hom om die lewe kon bring.
Jesus Dienskneg van die Here
(Mark 3:7-12; Luk 6:17-19)
15 Toe Jesus dit agterkom, het Hy daarvandaan weggegaan. Groot skares het Hom gevolg. Hy het hulle almal gesond gemaak 16 en gewaarsku om Hom nie bekend te laat word nie. 17So sou vervul word wat deur die profeet Jesaja gesê is:
18 “Kyk, my Dienskneg wat Ek gekies het,
my Geliefde oor wie Ek My verbly!
Ek sal my Gees op Hom lê,
en Hy sal die reg aan die nasies verkondig.
19Hy sal nie twis nie en nie skreeu nie;
sy stem sal 'n mens nie in die strate hoor nie.
20'n Geknakte riet sal Hy nie afbreek nie,
en 'n rokende lamppit sal Hy nie uitdoof nie,
totdat Hy die reg laat seëvier.
21En op sy Naam sal die nasies
hulle hoop vestig.”
Jesus en Beëlsebul
(Mark 3:22-30; Luk 11:14-15,17-23; 12:10)
22Toe is iemand wat deur 'n demoon besete, en blind en stom was, na Jesus gebring, en Hy het hom gesond gemaak, sodat die stomme kon praat en sien. 23Al die mense was uit die veld geslaan en het gesê: “Is hierdie man nie dalk die •Seun van Dawid nie?” 24Toe die •Fariseërs hiervan te hore kom, het hulle gesê: “Dit is slegs deur Beëlsebul, die aanvoerder van die demone, dat hierdie man demone uitdryf.” 25Omdat Hy hulle gedagtes geken het, het Hy vir hulle gesê: “Elke koninkryk wat teen homself verdeeld is, gaan ten gronde, en geen dorp of huis wat teen homself verdeeld is, sal staande bly nie. 26As Satan Satan uitdryf, is hy teen homself verdeeld; hoe sal sy koninkryk dan staande bly? 27En as Ek deur Beëlsebul die demone uitdryf, deur wie dryf julle seuns hulle uit? Daarom sal hulle regters oor julle wees. 28Maar as Ek deur die Gees van God die demone uitdryf, dan het die •koninkryk van God julle bereik. 29Of hoe kan iemand in die huis van 'n sterk man ingaan om sy besittings te steel as hy nie eers die sterk man vasbind nie? Eers dan sal hy sy huis beroof. 30Wie hulle nie by My skaar nie, is teen My, en wie nie saam met My bymekaarmaak nie, verstrooi. 31Daarom sê Ek vir julle, elke sonde en lastering sal die mense vergewe word, maar lastering teen die Gees sal nie vergewe word nie. 32En wie iets teen die •Seun van die Mens sê, dit sal hom vergewe word. Maar wie iets teen die Heilige Gees sê, dit sal hom nie vergewe word nie, nóg in hierdie bedeling, nóg in die een wat kom.”
'n Boom en sy vrugte
(Luk 6:43-45)
33“ Óf julle beskou die boom as goed en sy vrugte as goed, óf julle beskou die boom as sleg en sy vrugte as sleg. Aan sy vrugte word die boom immers geken. 34Addergeslag! Hoe kan julle iets goeds sê as julle sleg is? Want waar die hart van vol is, loop die mond van oor. 35Die goeie mens bring uit die goeie skatkamer goeie dinge na vore, en die slegte mens bring uit die slegte skatkamer slegte dinge na vore. 36Ek sê vir julle, van elke onbesonne woord wat mense kwytraak, sal hulle op die dag van oordeel rekenskap moet gee. 37Want op grond van jou woorde sal jy geregverdig word, en op grond van jou woorde sal jy veroordeel word.”
Teken van Jona
(Mark 8:11-12; Luk 11:16,29-32)
38 Toe het sommige van die skrifkenners en •Fariseërs gereageer en gesê: “Meester, ons wil graag 'n teken van u sien.” 39Hy het hulle geantwoord: “'n Bose en owerspelige geslag vra 'n teken, maar geen teken sal aan hulle gegee word behalwe die teken van die profeet Jona nie. 40Want net soos ‘Jona drie dae en drie nagte in die ingewande van die groot vis was,’ so sal die •Seun van die Mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees. 41Die mense van Nineve sal in die oordeel saam met hierdie geslag opstaan en dit veroordeel, omdat hulle op grond van die prediking van Jona tot bekering gekom het; en waarlik, wat hier is, is meer as Jona. 42Die koningin van die Suide sal in die oordeel saam met hierdie geslag opgewek word en hulle veroordeel; want sy het van die eindes van die aarde gekom om die wysheid van Salomo aan te hoor; en waarlik, wat hier is, is groter as Salomo. ”
Terugkeer van 'n onrein gees
(Luk 11:24-26)
43“Wanneer 'n •onrein gees 'n mens verlaat, swerf hy deur waterlose streke op soek na rus, maar kry dit nie. 44Dan sê hy, ‘Ek sal terugkeer na my huis wat ek verlaat het.’ En by sy terugkeer kry hy dit onbewoon, uitgevee en aan die kant gemaak. 45Dan gaan hy en neem sewe ander geeste saam met hom, slegter as hyself, trek in en woon daar. Die uiteinde van daardie mens is erger as sy begin. So sal dit ook gaan met hierdie bose geslag.”
Jesus se moeder en broers
(Mark 3:31-35; Luk 8:19-21)
46Terwyl Jesus nog met die skare praat, het sy moeder en broers onverwags buite gestaan en wou met Hom praat. 47Iemand het vir Hom gesê: “Kyk, u moeder en broers staan buite en wil met U praat.” 48Maar Hy het die een wat dit vir Hom gesê het, geantwoord: “Wie is my moeder en wie is my broers?” 49Toe het Hy sy hand na sy dissipels uitgesteek met die woorde: “Kyk, hier is my moeder en my broers. 50Want elkeen wat die wil doen van my Vader in die •hemele, dié is my broer en suster en moeder.”

Tans Gekies:

Matteus 12: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid