LUKAS 23:50-56
LUKAS 23:50-56 Bybel vir almal (ABA)
Daar was 'n man, sy naam was Josef. Hy was 'n lid van die Joodse Raad en hy was 'n goeie man wat gehoorsaam was aan al die Wette van Moses. Josef het gedink die Raad het verkeerd besluit oor Jesus. Josef het gekom van die Joodse stad Arimatea. Hy het ook gewag dat die tyd sal kom wanneer God Koning sal wees oor almal. Josef het na Pilatus toe gegaan en hy het vir Pilatus gevra of hy die liggaam van Jesus kan kry. Toe het Josef die liggaam van die kruis afgehaal en hy het dit in lap toegedraai. Hy het die liggaam in 'n graf gesit wat hulle in 'n rots gekap het. Hulle het nog nie voorheen iemand in daardie graf begrawe nie. Dit het alles op die Vrydag gebeur, en daarna het die Sabbatdag begin. Die vroue wat saam met Jesus gekom het van Galilea, het die graf gesien en hulle het ook gesien hoe Josef die liggaam van Jesus in die graf sit. Daarna het die vroue teruggegaan na die stad. Hulle het lekkerruik-olie en salf gereedgemaak, hulle wou dit later aan Jesus se liggaam smeer. Maar op die Sabbatdag het hulle eers gerus, soos die Wette van Moses sê.
LUKAS 23:50-56 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN daar was 'n man met die naam van Josef, 'n lid van die Raad, 'n goeie en regverdige man — hy het nie met hulle raad en handelwyse saamgestem nie — van Arimathéa, 'n stad van die Jode, wat ook self die koninkryk van God verwag het. Hy het na Pilatus gegaan en die liggaam van Jesus gevra en dit afgehaal en in linne toegedraai en dit neergelê in 'n graf wat uit 'n rots gekap was, waar nog nooit iemand in gelê het nie. En dit was die dag van voorbereiding, en die sabbat wou aanbreek. En die vroue wat saam met Hom van Galiléa gekom het, het ook gevolg en die graf gesien en hoe sy liggaam neergelê was. Daarop het hulle teruggegaan en speserye en salf berei en op die sabbat gerus volgens die gebod.
LUKAS 23:50-56 Afrikaans 1983 (AFR83)
Daar was 'n man met die naam Josef, afkomstig van 'n Joodse dorpie Arimatea. Hy was 'n goeie en opregte man en het die koms van die koninkryk van God verwag. Hoewel hy lid van die Joodse Raad was, het hy nie met hulle besluit en optrede saamgestem nie. Hierdie man het na Pilatus toe gegaan en die liggaam van Jesus gevra. Nadat hy dit van die kruis afgehaal het, het hy dit in linne toegedraai en in 'n rotsgraf neergelê waarin nog nooit tevore iemand begrawe was nie. Dit was Vrydag, en die sabbat het al begin aanbreek. Die vroue wat saam met Jesus van Galilea af gekom het, het saamgeloop en die graf gesien en gekyk hoe sy liggaam neergelê word. Daarna het hulle huis toe gegaan en reukolie en salf reggemaak. Op die sabbatdag het hulle gerus, soos die gebod bepaal.
LUKAS 23:50-56 Die Boodskap (DB)
Toe Josef van Arimatea sien Jesus is dood, het hy vir Pilatus gaan vra of hy sy liggaam kon neem om begrawe te word. Josef was ’n lid van die Joodse Raad en ’n goeie en godvresende man. Hy het nie saamgestem met die manier waarop die Joodse Raad Jesus veroordeel en laat doodmaak het nie. Want hy het geglo dat God se nuwe wêreld sou kom soos Jesus gesê het. Nadat Josef Jesus se liggaam van die kruis afgehaal het, het hy dit in skoon linnedoeke toegedraai en dit in ’n graf gaan begrawe wat aan hom behoort het. Dit was ’n nuwe graf wat in die rots uitgekap was. Hy het gesorg dat Jesus se liggaam begrawe was voordat die sabbatdag aangebreek het. Die vroue wat uit Galilea saam met Jesus na Jerusalem toe gekom het, was ook by toe Josef Jesus se liggaam begrawe het. Hulle het alles aanskou. Daarna het hulle teruggegaan na die plek waar hulle gebly het. Hulle het gou al hulle kosbare salf en speserye bymekaargesit om Jesus se liggaam te gaan salf wanneer die sabbat verby was.
LUKAS 23:50-56 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Daar was ’n man met die naam Josef, ’n lid van die Joodse Raad, ’n goeie en regverdige man. Hy het nie vrede gehad met hulle besluite en optrede nie. Hy het van die Joodse dorp Arimatea af gekom en het uitgesien na die koninkryk van God. Hierdie man het na Pilatus toe gegaan en Jesus se liggaam gevra. Nadat hy die liggaam afgehaal het, het hy dit in linne toegebind en in ’n rotsgraf gaan neerlê waarin niemand nog ooit begrawe was nie. Dit was die Vrydagmiddag laat, die tyd van voorbereiding vir die naderende Sabbat. Die vroue wat saam met Jesus van Galilea af gekom het, het Josef gevolg en die rotsgraf gesien, asook hoe sy liggaam daarin neergelê word. Daarna het hulle teruggegaan huis toe om die aromatiese olie en speserye te gaan voorberei. Op die Sabbat het hulle gerus volgens die gebod in die wet.