LUKAS 23

23
Jesus voor Pilatus en voor Herodes.
(Mt. 27:1,2,11-31 en ooreenk. pl.)
1EN die hele menigte van hulle het opgestaan en Hom na Pilatus gelei.
2En hulle het Hom begin beskuldig en sê: Ons het gevind dat hierdie man die volk verlei en verbied om aan die keiser belasting te betaal, terwyl Hy sê dat Hy self Christus, die Koning, is.
3Toe vra Pilatus Hom en sê: Is U die Koning van die Jode? En Hy antwoord hom en sê: U sê dit.
4En Pilatus sê vir die owerpriesters en die skare: Ek vind geen skuld in hierdie man nie.
5Maar hulle het aangehou en gesê: Hy maak die volk oproerig met sy leer die hele Judéa deur, vandat Hy in Galiléa begin het tot hiertoe.
6En toe Pilatus van Galiléa hoor, vra hy of die man 'n Galiléër is.
7En nadat hy verneem het dat Hy uit die magsgebied van Herodes was, stuur hy Hom na Herodes wat self ook in daardie dae in Jerusalem was.
8En toe Herodes Jesus sien, was hy baie bly, want hy was al geruime tyd begerig om Hom te sien, omdat hy veel van Hom gehoor het; en hy het gehoop om een of ander teken te sien wat deur Hom gedoen sou word.
9En hy het Hom met baie woorde uitgevra, maar Hy het hom niks geantwoord nie.
10En die owerpriesters en die skrifgeleerdes het Hom heftig staan en beskuldig.
11En nadat Herodes saam met sy soldate Hom met veragting behandel en bespot het, werp hy Hom 'n blink kleed om en stuur Hom terug na Pilatus.
12En Pilatus en Herodes het op daardie dag goeie vriende geword, want hulle was vantevore in vyandskap teenoor mekaar.
13Toe roep Pilatus die owerpriesters en die owerstes en die volk bymekaar en sê vir hulle:
14Julle het hierdie man na my gebring as een wat die volk afvallig maak. En nou het ek in julle teenwoordigheid ondersoek ingestel en in hierdie man geen skuld gevind aan die dinge waarvan julle Hom beskuldig nie;
15ja, ook Herodes nie, want ek het julle na hom gestuur; en daar is deur Hom niks gedoen wat die dood verdien nie.
16Nadat ek Hom dan gekasty het, sal ek Hom loslaat.
17 En hy was verplig om vir hulle op die fees een los te laat.
18Maar die hele menigte skreeu en sê: Weg met Hom, en laat vir ons Barábbas los!
19Dié was oor 'n sekere opstand wat in die stad plaasgevind het, en oor 'n moord in die gevangenis gewerp.
20Daarop spreek Pilatus hulle weer toe, omdat hy Jesus wou loslaat;
21maar hulle het aangehou roep en sê: Kruisig, kruisig Hom!
22En vir die derde keer sê hy vir hulle: Watter kwaad het Hy dan gedoen? Ek het in Hom niks gevind wat die dood verdien nie. Ek sal Hom dan kasty en loslaat.
23Maar hulle het aangehou met 'n harde geroep en geëis dat Hy gekruisig moes word; en hulle geroep en dié van die owerpriesters het die oorhand gekry.
24Toe gee Pilatus uitspraak dat aan hulle eis voldoen moet word.
25En hy het die een vir hulle losgelaat wat oor opstand en moord in die gevangenis gewerp was, die een wat hulle geëis het. Maar Jesus het hy aan hulle wil oorgelewer.
Jesus op weg na Gólgota.
26 EN toe hulle Hom weglei, neem hulle 'n sekere Simon van Ciréne wat van die veld af gekom het, en sit die kruis op hom om dit agter Jesus aan te dra.
27En 'n groot menigte van die volk het Hom gevolg, en vroue wat rou bedryf en Hom beklaag het.
28Maar Jesus het Hom omgedraai en vir hulle gesê: Dogters van Jerusalem, moenie oor My ween nie, maar ween oor julleself en oor julle kinders;
29want daar kom dae waarin hulle sal sê: Gelukkig is die onvrugbares en die moederskote wat nie gebaar en die borste wat nie gesoog het nie.
30 Dan sal hulle vir die berge begin sê: Val op ons! en vir die heuwels: Bedek ons!
31Want as hulle dit doen aan die groen hout, wat sal met die droë gebeur!
32 En daar is nog twee ander, kwaaddoeners, weggelei om saam met Hom tereggestel te word.
Die kruisiging.
(Mt. 27:33-56 en ooreenk. pl.)
33EN toe hulle op die plek kom wat Hoofskedel genoem word, het hulle Hom daar gekruisig, en die kwaaddoeners, een aan die regter- en een aan die linkerkant.
34En Jesus sê: Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie. En hulle het sy klere verdeel en die lot daaroor gewerp.
35En die volk het dit staan en aanskou. En die owerstes het saam met hulle ook geskimp en gesê: Ander het Hy verlos; laat Hy Homself verlos as Hy die Christus, die uitverkorene van God, is.
36En die soldate het Hom ook bespot en gekom en vir Hom asyn gebring
37en gesê: As U die Koning van die Jode is, verlos Uself.
38En daar was ook 'n opskrif bokant Hom geskrywe in Griekse en Romeinse en Hebreeuse letters: HY IS DIE KONING VAN DIE JODE.
39 En een van die kwaaddoeners wat opgehang is, het Hom gesmaad en gesê: As U die Christus is, verlos Uself en ons.
40Maar die ander een antwoord en bestraf hom en sê: Vrees jý ook God nie, terwyl jy in dieselfde oordeel is? —
41ons tog regverdiglik, want ons ontvang die verdiende loon vir ons dade, maar Hy het niks verkeerds gedoen nie.
42En hy sê vir Jesus: Dink aan my, Here, wanneer U in u koninkryk kom.
43En Jesus antwoord hom: Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees.
44En dit was omtrent die sesde uur, en daar het duisternis oor die hele aarde gekom tot die negende uur toe;
45en die son is verduister; en die voorhangsel van die tempel het middeldeur geskeur.
46En Jesus het met 'n groot stem uitgeroep en gesê: Vader, in u hande gee Ek my gees oor! En toe Hy dit gesê het, blaas Hy die laaste asem uit.
47 En toe die hoofman oor honderd sien wat daar gebeur, het hy God verheerlik en gesê: Waarlik, hierdie man was regverdig.
48En die hele skare wat vir hierdie skouspel bymekaar was, het op hulle borste geslaan toe hulle sien wat gebeur het, en hulle het teruggegaan.
49En al sy bekendes het ver weg gestaan; ook die vroue wat Hom van Galiléa gevolg het, het hierdie dinge gesien.
Die begrafnis.
(Mt. 27:57-66 en ooreenk. pl.)
50 EN daar was 'n man met die naam van Josef, 'n lid van die Raad, 'n goeie en regverdige man
51— hy het nie met hulle raad en handelwyse saamgestem nie — van Arimathéa, 'n stad van die Jode, wat ook self die koninkryk van God verwag het.
52Hy het na Pilatus gegaan en die liggaam van Jesus gevra
53en dit afgehaal en in linne toegedraai en dit neergelê in 'n graf wat uit 'n rots gekap was, waar nog nooit iemand in gelê het nie.
54En dit was die dag van voorbereiding, en die sabbat wou aanbreek.
55En die vroue wat saam met Hom van Galiléa gekom het, het ook gevolg en die graf gesien en hoe sy liggaam neergelê was.
56Daarop het hulle teruggegaan en speserye en salf berei en op die sabbat gerus volgens die gebod.

Tans Gekies:

LUKAS 23: AFR53

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid