LEVITIKUS 8:1-17

LEVITIKUS 8:1-17 Bybel vir almal (ABA)

Die Here het vir Moses gesê: “Jy moet vir Aäron en sy seuns neem, en die klere, die salf-olie, die bul wat 'n sonde-offer moet wees, die twee skaap-ramme en die mandjie ongesuurde brood. En jy moet die hele volksvergadering laat bymekaarkom by die ingang van die tent waar Ek aan die Israeliete verskyn.” Moses het gedoen wat die Here gesê het. Hy het die volksvergadering laat bymekaarkom by die ingang van die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn. Moses het vir die volksvergadering gesê: “Dit is wat die Here vir ons gesê het om te doen.” Daarna het Moses vir Aäron en sy seuns laat nader kom en hy het hulle gewas. Toe het Moses vir Aäron die rok aangetrek, hy het die skouer-serp om Aäron vasgemaak, die bo-kleed om hom gedraai, die skouer-kleed oorgesit en die belt van die skouer-kleed om sy middellyf vasgemaak. Hy het die borssak vasgemaak en hy het die urim en tummim in die borssak gesit. Hy het die tulband op Aäron se kop gesit en voor op die tulband het hy die blom van goud gesit, die gewyde kroon, soos die Here vir Moses gesê het. Daarna het Moses die salf-olie geneem en hy het die tempel-tent en alles daarin gesalf en gewy. Hy het van die salf-olie sewe maal teen die altaar gespat en hy het die altaar en al die gereedskap van die altaar en die was-skottel en sy voetstuk gesalf en gewy. Toe het Moses van die salf-olie op Aäron se kop gegooi en hy het Aäron gesalf en gewy. Daarna het Moses die seuns van Aäron laat nader kom en hy het vir hulle die rokke aangetrek en die skouer-serpe omgesit en die kopdoeke om hulle koppe gebind, soos die Here vir Moses gesê het. Toe het Moses die bul nader gebring wat die sonde-offer moet wees. Aäron en sy seuns het hulle hande op die bul se kop gesit. Moses het die bul geslag. Hy het die bloed geneem en hy het van die bloed met sy vinger aan die horings van die altaar gesmeer. Hy het die altaar gereinig. Hy het toe die bloed wat oorgebly het, onder teen die altaar uitgegooi en so het hy dit gewy en versoening gedoen vir die altaar. Moses het al die vet geneem wat om die binnegoed was en ook die punt van die lewer en die twee niere en die vet aan die niere en hy het dit op die altaar verbrand. Hy het die vel en vleis van die bul en die pensmis buite die kamp verbrand, soos die Here vir hom gesê het.

LEVITIKUS 8:1-17 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

VERDER het die HERE met Moses gespreek en gesê: Neem Aäron en sy seuns saam met hom, en die klere en die salfolie en die sondofferbul en die twee ramme en die mandjie met ongesuurde koeke, en versamel die hele vergadering by die ingang van die tent van samekoms. En Moses het gedoen soos die HERE hom beveel het, en die vergadering het bymekaargekom by die ingang van die tent van samekoms. Toe sê Moses aan die vergadering: Dit is die saak wat die HERE beveel het om te doen. En Moses het Aäron en sy seuns laat nader kom en hulle met water gewas. Daarop het hy hom die rok aangetrek en hom met die gordel gegord en hom die mantel aangetrek; ook het hy hom die skouerkleed aangetrek en hom gegord met die band van die skouerkleed en daarmee hom die skouerkleed omgebind. Verder het hy hom die borstas aangeheg en in die borstas die Urim en die Tummim gesit. En hy het die tulband op sy hoof gesit en aan die tulband, aan die voorkant, die goue plaat, die heilige kroon, bevestig, soos die HERE Moses beveel het. Toe het Moses die salfolie geneem en die tabernakel en alles wat daarin was, gesalf en dit geheilig. En hy het daarvan sewe maal op die altaar gesprinkel en die altaar gesalf en al sy gereedskap, met die waskom en sy voetstuk, om dit te heilig. Daarna het hy van die salfolie op die hoof van Aäron gegiet en hom gesalf om hom te heilig. Ook het Moses die seuns van Aäron laat nader kom en hulle die rokke aangetrek en hulle gegord met 'n gordel en hulle die musse omgebind soos die HERE Moses beveel het. Daarop het hy die sondofferbul laat aankom, en Aäron en sy seuns het hulle hande op die kop van die sondofferbul gelê. En Moses het dit geslag en die bloed geneem en daarvan met sy vinger rondom aan die horings van die altaar gestryk en die altaar ontsondig; maar die orige bloed het hy aan die onderkant van die altaar uitgegooi. So het hy dit dan geheilig deur daar versoening voor te doen. Verder het hy al die vet wat aan die binnegoed was en die lap aan die lewer en die twee niere en hulle vet geneem, en Moses het dit op die altaar aan die brand gesteek. Maar die bul met sy vel en sy vleis en sy mis het hy buitekant die laer met vuur verbrand, soos die HERE Moses beveel het.

LEVITIKUS 8:1-17 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die Here het vir Moses gesê: “Laat Aäron en sy seuns na die ingang van die tent van ontmoeting toe kom. Bring die klere, die salfolie, die bul vir die sondeoffer, die twee ramme en die mandjie met ongesuurde brood, en laat die hele gemeente ook by die ingang van die tent van ontmoeting bymekaarkom.” Moses het die bevel van die Here uitgevoer, en toe die gemeente bymekaar was voor die tent van ontmoeting, het Moses vir hulle gesê: “Ek sal nou daartoe oorgaan om te doen wat die Here my beveel het.” Hy het Aäron en sy seuns laat naderkom na die altaar toe en hulle gewas. Daarna het hy die priesterklere vir Aäron aangetrek en die serp vir hom omgebind. Hy het die mantel vir hom omgehang en die skouerkleed vir hom aangetrek deur dit met die band wat daaraan was, om sy lyf vas te maak. Hy het ook die borssak daaraan vasgebind en die urim en tummim in die borssak gesit. Hy het die tulband om sy kop gesit en die goue blom aan die voorkant van die tulband vasgesit as 'n besondere wydingsteken. Dit is alles gedoen soos die Here Moses beveel het. Moses het toe met die salfolie die tabernakel en alles wat daarin was, gesalf. So het hy dit vir die diens van die Here gewy. Hy het naamlik sewe maal van die olie teen die altaar gesprinkel en die altaar met al sy gereedskap en ook die waskom en sy staander gesalf om dit te wy. Hy het ook van die salfolie op Aäron se kop gegooi om hom te salf en aan die diens van die Here te wy. Toe het Moses die seuns van Aäron by die altaar laat plek inneem, die priesterklere vir hulle aangetrek, hulle serpe omgebind en hulle kopdoeke vasgemaak. Hy het dit gedoen soos die Here hom beveel het. Hierna het hy die bul vir die sondeoffer na die altaar toe gebring, en Aäron en sy seuns het hulle hande op die kop van die bul gesit. Moses het die bul geslag en van die bloed met sy vinger rondom die horings van die altaar gesmeer om die altaar te reinig. Hy het toe die res van die bloed teen die fondament van die altaar uitgegooi. So het hy die altaar aan die Here gewy sodat daarop versoening gedoen kan word. Hierna het Moses al die vet wat aan die binnegoed sit en die punt van die lewer saam met die twee niere en die niervet op die altaar verbrand. Die res van die bul, die vel, die vleis en die pensmis is buite die kamp verbrand soos die Here vir Moses beveel het.

LEVITIKUS 8:1-17 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Die HERE het met Moses gepraat en gesê: “ Neem Aäron en sy seuns saam met hom, asook die klere, die salfolie, die bul vir die •reinigingsoffer, die twee ramme en die mandjie ongesuurde brood na die ingang van die •Tent van Ontmoeting. Laat die hele geloofsgemeenskap ook daar bymekaarkom.” Moses het gemaak soos die HERE hom beveel het en die geloofsgemeenskap het by die ingang van die Tent van Ontmoeting bymekaargekom. Toe sê Moses vir die volksvergadering: “Dit is wat die HERE beveel het gedoen moet word.” Moses het vir Aäron en sy seuns laat nader kom en hulle met water afgespoel. Hy het vir Aäron die priesterrok aangetrek, die lyfserp vir hom omgebind en die mantel om hom gehang. Toe het hy die efod oorgesit, die band daarvan om sy lyf gesit en dit styf vasgemaak. Hy het die borstas vir hom aangesit en die Urim en Tummim daarin gesit. Daarna het hy die •tulband op sy kop gesit en aan die voorkant van die tulband die goue roset, die heilige wydingsteken, vasgemaak soos die HERE Moses beveel het. Moses het die salfolie geneem en die •tabernakel en alles wat daarin was, gesalf en dit geheilig: Hy het die altaar sewe maal daarmee besprinkel. Hy het die altaar en al die toebehore daarvan, asook die waskom en sy voetstuk, gesalf om dit te heilig. Hy het van die salfolie oor Aäron se kop uitgegooi en hom gesalf om hom te heilig. Moses het die seuns van Aäron na vore laat tree en vir hulle priesterrokke aangetrek, vir hulle lyfserpe omgebind en vir hulle kopdoeke omgesit soos die HERE hom beveel het. Daarna het hy die bul vir die reinigingsoffer laat nader kom. Aäron en sy seuns het hulle hande op die bul se kop vir die reinigingsoffer geplaas. Moses het die bul keelaf gesny, van die bloed geneem en dit met sy vinger aan die horings van die altaar gesmeer. Hy het die altaar gereinig en die res van die bloed teen die basis van die altaar uitgegooi. Hy het dit geheilig om versoening daarvoor te doen. Moses het al die vet aan die binnegoed, die lewerlob en die twee niere met die niervet geneem en dit op die altaar verbrand. Maar die bul – sy vel, sy vleis en die pensmis – het hy buite die kamp met vuur verbrand, soos die HERE hom beveel het.

LEVITIKUS 8:1-17 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En die HERE het met Moses gespreek en gesê: Neem Aäron en sy seuns saam met hom en die klere en die salfolie en 'n sondofferbul en twee ramme en 'n mandjie ongesuurde brode; En versamel jy die hele vergadering by die ingang van die tent van samekoms. En Moses het gedoen soos die HERE hom beveel het; en die vergadering het byeengekom by die ingang van die tent van samekoms. Toe sê Moses aan die vergadering: Dit is die ding wat die HERE beveel het om te doen. En Moses het Aäron en sy seuns gebring en hulle met water gewas. En hy het hom die mantel aangetrek en hom met die gordel gegord en hom die mantel aangetrek en hom die skouerkleed aangetrek, en hy het hom met die skouerkleed omgord en dit daarmee aan hom vasgebind. En hy het hom die borstas aangesit; ook het hy die Urim en die Tummim in die borstas gesit. En hy het die tulband op sy hoof gesit; ook op die tulband, selfs op sy voorkant, het hy die goue plaat, die heilige kroon, gesit; soos die HERE Moses beveel het. En Moses het die salfolie geneem en die tabernakel en alles wat daarin was gesalf en hulle geheilig. En hy het daarvan sewe maal op die altaar gesprinkel en die altaar en al sy voorwerpe, sowel die waskom as sy voet, gesalf om dit te heilig. En hy het van die salfolie op Aäron se hoof gegooi en hom gesalf om hom te heilig. En Moses het die seuns van Aäron gebring en hulle rokke aangetrek en hulle met gordels omgord en hulle hoede aangetrek; soos die HERE Moses beveel het. En hy het die sondofferbul gebring, en Aäron en sy seuns het hulle hande op die kop van die sondofferbul gelê. En hy het dit gedood; en Moses het die bloed geneem en dit met sy vinger rondom aan die horings van die altaar gegooi, en die altaar gereinig en die bloed aan die onderkant van die altaar gegooi en dit geheilig om daarmee versoening te doen. En hy het al die vet geneem wat aan die binnegoed was, en die oorblyfsel bokant die lewer, en die twee niere en hulle vet, en Moses het dit op die altaar verbrand. Maar die bul en sy vel, sy vleis en sy mis het hy buitekant die laer met vuur verbrand; soos die HERE Moses beveel het.

LEVITIKUS 8:1-17 Die Boodskap (DB)

Toe het die Here vir Moses gesê: “Vat Aäron en sy seuns na die ingang van die tent waar die Here gedien word. Bring ook vir hulle spesiale klere saam vir hulle werk. Bring ook die olyfolie wat jy gaan gebruik om hulle in hulle werk te bevestig, die bul wat vir die sonde geoffer moet word, die twee ramme en die mandjie met brode sonder suurdeeg wat jy nodig gaan hê. Laat sommer ook al die mense uit die laer saam kom na die tent van ontmoeting toe.” Moses het toe gemaak soos die Here vir hom gesê het. Die hele gemeenskap het by die ingang van die tent waar die Here gedien word, saamgekom. Moses het vir hulle gesê: “Dit is soos die Here gesê het ons moet maak.” Moses het Aäron en sy seuns laat nader staan en hulle met water gewas. Hy het Aäron sy spesiale hemp vir sy dienswerk laat aantrek, die serp vir hom omgehang wat die dienaars by die Here se tent moet dra, daar bo-oor nog ’n mantel omgehang, die deel wat oor sy skouers kom oor sy skouers gesit en die mantel met ’n belt vasgebind. Daar was ook ’n sak wat voor sy bors vasgekom het waarin die urim en tummim (waarmee die lot gewerp is om die Here se besluite te bepaal) was wat hy aan die mantel vasgesit het. Hy het ook ’n hoed op Aäron se kop gesit en aan die voorkant daarvan ’n goue wapen vasgesteek, soos die Here hom beveel het. Moses het toe die olyfolie gevat en daarvan aan die tent van ontmoeting gesmeer en aan alles wat daar binne-in was om dit aan die Here op te dra. Hy het ook sewe maal daarvan teen die altaar gespat en die altaar saam met alles wat daaraan behoort, asook die wasbak wat daar staan en die voetstuk waarop dit rus met die olie gesmeer om dit aan God op te dra. Hy het ook van die olie op Aäron se kop laat uitloop om hom so aan die diens van die Here te wy. Moses het Aäron se seuns laat nader staan en ook hulle die spesiale hemde vir hulle dienswerk laat aantrek, hulle serpe vir hulle omgehang en hulle die kopbande laat opsit wat hulle moes dra wanneer hulle by die tent werk, soos die Here gesê het hy moet maak. Toe het Moses die bul wat vir die sonde geslag moes word, nader gebring. Aäron en sy seuns het hulle hande op die bul se kop gesit en dit is toe geslag. Moses het van die bul se bloed gevat en daarvan met sy vinger reg rondom aan die horings van die altaar gesmeer om dit aan die Here op te dra. Hy het ook van die bloed teen die onderkant van die altaar uitgegooi om dit aan God te wy sodat die offers wat daarop gebring word, vir die oortredings kon betaal. Daarna het hy die hele vetlaag oor die binnegoed, die twee niere met die vet daaroor en die lewervet uitgesny en dit op die altaar verbrand. Die res van die bul met sy vel, sy vleis en sy pensmis het Moses buite die kamp in die vuur gaan verbrand. Dit was soos die Here gesê het hy dit moet doen.

LEVITIKUS 8:1-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die HERE het vir Moses gesê: “Bring vir Aäron en sy seuns, met die spesiale klere, die salfolie, die bul vir die sonde-offer, die twee ramme en die mandjie met ongesuurde brood na die ingang van die tent van ontmoeting. Roep dan die hele gemeenskap van Israel bymekaar om jou daar te ontmoet.” Moses het die opdrag van die HERE uitgevoer en so het die hele volk by die ingang van die tent van ontmoeting bymekaargekom. Moses het die volgende aankondiging gemaak: “Die HERE het my beveel om te doen wat ek nou gaan doen!” Hy het Aäron en sy seuns laat naderkom en hulle met water gewas. Hy het toe vir Aäron priesterklere aangetrek en die ampserp om hom gebind. Hy het ook die priestermantel en die priesterlike skouerkleed vir hom aangetrek. Hy het die skouerkleed met die ampserp vasgemaak. Daarna het Moses ook die borssak aan Aäron vasgemaak en die Urim en Tummim daarin gesit. Hy het toe ook die tulband met die goue plaat voor op sy kop gesit, net soos die HERE hom beveel het om te doen. Moses het toe die salfolie geneem en die tent van ontmoeting en alles daarin gesalf om dit aan die Here op te dra. Hy het die altaar sewe keer besprinkel en sodoende die altaar, al die gereedskap en die waskom met sy staander gesalf en dit geheilig. Hy het toe ook van die salfolie op Aäron se kop gegooi en hom gesalf en hom sodoende vir sy werk heilig gemaak. Moses het ook Aäron se seuns laat naderkom en vir hulle priesterklere, ampserpe en tulbande aangetrek, net soos die HERE hom beveel het om te doen. Toe het Moses die bul vir die sonde-offer ingebring. Aäron en sy seuns het hulle hande op die kop van die bul gesit. Moses het die bul geslag, van die bloed gevat en met sy vinger van die bloed op die vier horings van die altaar gesmeer om dit te reinig. Die res van die bloed het hy teen die kant van die altaar uitgegooi. Op dié manier het hy die altaar geheilig sodat daarop versoening gedoen kan word. Hy het toe al die vet rondom die binnegoed, die punt van die lewer, die twee niere en hulle vet geneem en dit alles op die altaar verbrand. Die res van die bul met sy vel, vleis en mis is aan die buitekant van die kamp verbrand, net soos die HERE hom beveel het om te doen.