Levitikus 8

8
Moses wy die priesters
1Die Here het vir Moses gesê: 2“Jy moet vir Aäron en sy seuns neem, en die klere, die salf-olie, die bul wat 'n sonde-offer moet wees, die twee skaap-ramme en die mandjie ongesuurde brood. 3En jy moet die hele volksvergadering laat bymekaarkom by die ingang van die tent waar Ek aan die Israeliete verskyn.”
4Moses het gedoen wat die Here gesê het. Hy het die volksvergadering laat bymekaarkom by die ingang van die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn. 5Moses het vir die volksvergadering gesê: “Dit is wat die Here vir ons gesê het om te doen.”
6Daarna het Moses vir Aäron en sy seuns laat nader kom en hy het hulle gewas. 7Toe het Moses vir Aäron die rok aangetrek, hy het die skouer-serp om Aäron vasgemaak, die bo-kleed om hom gedraai, die skouer-kleed oorgesit en die belt van die skouer-kleed om sy middellyf vasgemaak. 8Hy het die borssak vasgemaak en hy het die urim en tummim in die borssak gesit. 9Hy het die tulband op Aäron se kop gesit en voor op die tulband het hy die blom van goud gesit, die gewyde kroon, soos die Here vir Moses gesê het. 10Daarna het Moses die salf-olie geneem en hy het die tempel-tent en alles daarin gesalf en gewy. 11Hy het van die salf-olie sewe maal teen die altaar gespat en hy het die altaar en al die gereedskap van die altaar en die was-skottel en sy voetstuk gesalf en gewy. 12Toe het Moses van die salf-olie op Aäron se kop gegooi en hy het Aäron gesalf en gewy. 13Daarna het Moses die seuns van Aäron laat nader kom en hy het vir hulle die rokke aangetrek en die skouer-serpe omgesit en die kopdoeke om hulle koppe gebind, soos die Here vir Moses gesê het.
14Toe het Moses die bul nader gebring wat die sonde-offer moet wees. Aäron en sy seuns het hulle hande op die bul se kop gesit. 15Moses het die bul geslag. Hy het die bloed geneem en hy het van die bloed met sy vinger aan die horings van die altaar gesmeer. Hy het die altaar gereinig. Hy het toe die bloed wat oorgebly het, onder teen die altaar uitgegooi en so het hy dit gewy en versoening gedoen vir die altaar. 16Moses het al die vet geneem wat om die binnegoed was en ook die punt van die lewer en die twee niere en die vet aan die niere en hy het dit op die altaar verbrand. 17Hy het die vel en vleis van die bul en die pensmis buite die kamp verbrand, soos die Here vir hom gesê het.
18Daarna het Moses die skaap-ram nader gebring wat 'n brand-offer moes wees, en Aäron en sy seuns het hulle hande op die ram se kop gesit. 19Toe het Moses die ram geslag en hy het die bloed rondom teen die altaar gespat. 20Hy het die ram in stukke gesny en hy het die kop en die stukke vleis en die vet verbrand. 21Hy het die binnegoed en die pote gewas en hy het dit ook verbrand. Hy het die hele ram op die altaar verbrand. Dit was 'n brand-offer, 'n vuur-offer, soos die Here vir Moses gesê het. Dit ruik lekker vir die Here.
22Moses het die ander skaap-ram nader gebring, dit was die ram om die priesters te wy. Aäron en sy seuns het hulle hande op die ram se kop gesit. 23Moses het die ram geslag en hy het van die bloed gesmeer aan Aäron se regter-oor, sy regter-duim en sy regter-groottoon. 24Toe het hy die seuns van Aäron laat nader kom en hy het ook aan hulle regter-ore, regter-duime en regter-groottone bloed gesmeer. Daarna het hy die ander bloed teen die altaar gespat, hy het dit oral rondom die altaar gespat. 25Hy het die vet geneem, die vetstert en al die vet aan die binnegoed en ook die punt van die lewer en die twee niere en die vet wat aan die niere is en die regter-boud. 26Daar was ongesuurde brood in 'n mandjie by die altaar. Moses het een ongesuurde rondebrood uit die mandjie geneem, en ook een rondebrood met olyf-olie en een roosterkoek, en hy het dit by die vet en die regter-boud gesit. 27Toe het hy alles op Aäron en sy seuns se hande gesit en hy het dit heen en weer voor die Here beweeg om 'n beweeg-offer te wees. 28Toe het Moses dit by hulle geneem en hy het dit op die altaar verbrand saam met die brand-offer. Dit was 'n offer om die priesters te wy, dit was 'n vuur-offer, dit ruik lekker vir die Here. 29Moses het die bors van die skaap-ram geneem en hy het dit heen en weer voor die Here beweeg om 'n beweeg-offer te wees. Die bors van die ram was die deel wat Moses kon kry, soos die Here vir hom gesê het.
30Toe het Moses van die salf-olie geneem en van die bloed op die altaar, en hy het dit gespat op Aäron en sy seuns en op hulle klere. So het hy hulle en hulle klere gewy. 31Moses het vir Aäron en sy seuns gesê: “Julle moet die vleis gaarmaak by die ingang van die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn, en julle moet dit daar eet saam met die brood wat in die mandjie is. Die Here het vir my gesê dat Aäron en sy seuns dit moet eet. 32Julle moet die vleis en brood wat oorbly, verbrand. 33Julle mag sewe dae lank nie weggaan van die ingang van die tent nie. Julle moet daar bly totdat die tyd verby is om julle te wy, want om julle te wy, hou sewe dae lank aan. 34Die Here het gesê ons moet hierdie dinge doen soos ons dit vandag gedoen het om vir julle versoening te doen. 35Julle moet sewe dae lank elke dag en nag by die ingang van die tent bly en julle moet doen wat die Here gesê het, dan sal julle nie sterf nie.”
36Aäron en sy seuns het alles gedoen wat die Here vir Moses gesê het om vir hulle te sê.

Tans Gekies:

Levitikus 8: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid