LEVITIKUS 8

8
Die priesterwyding
(Vgl. Eks. 29:1-37)
1Die Here het vir Moses gesê: 2“Laat Aäron en sy seuns na die ingang van die tent van ontmoeting toe kom. Bring die klere, die salfolie, die bul vir die sondeoffer, die twee ramme en die mandjie met ongesuurde brood, 3en laat die hele gemeente ook by die ingang van die tent van ontmoeting bymekaarkom.”
4Moses het die bevel van die Here uitgevoer, en toe die gemeente bymekaar was voor die tent van ontmoeting, 5het Moses vir hulle gesê: “Ek sal nou daartoe oorgaan om te doen wat die Here my beveel het.”
6Hy het Aäron en sy seuns laat naderkom na die altaar toe en hulle gewas. 7Daarna het hy die priesterklere vir Aäron aangetrek en die serp vir hom omgebind. Hy het die mantel vir hom omgehang en die skouerkleed vir hom aangetrek deur dit met die band wat daaraan was, om sy lyf vas te maak. 8Hy het ook die borssak daaraan vasgebind en die urim en tummim in die borssak gesit. 9Hy het die tulband om sy kop gesit en die goue blom aan die voorkant van die tulband vasgesit as 'n besondere wydingsteken. Dit is alles gedoen soos die Here Moses beveel het.
10Moses het toe met die salfolie die tabernakel en alles wat daarin was, gesalf. So het hy dit vir die diens van die Here gewy. 11Hy het naamlik sewe maal van die olie teen die altaar gesprinkel en die altaar met al sy gereedskap en ook die waskom en sy staander gesalf om dit te wy. 12Hy het ook van die salfolie op Aäron se kop gegooi om hom te salf en aan die diens van die Here te wy.
13Toe het Moses die seuns van Aäron by die altaar laat plek inneem, die priesterklere vir hulle aangetrek, hulle serpe omgebind en hulle kopdoeke vasgemaak. Hy het dit gedoen soos die Here hom beveel het.
14Hierna het hy die bul vir die sondeoffer na die altaar toe gebring, en Aäron en sy seuns het hulle hande op die kop van die bul gesit. 15Moses het die bul geslag en van die bloed met sy vinger rondom die horings van die altaar gesmeer om die altaar te reinig. Hy het toe die res van die bloed teen die fondament van die altaar uitgegooi. So het hy die altaar aan die Here gewy sodat daarop versoening gedoen kan word. 16Hierna het Moses al die vet wat aan die binnegoed sit en die punt van die lewer saam met die twee niere en die niervet op die altaar verbrand. 17Die res van die bul, die vel, die vleis en die pensmis is buite die kamp verbrand soos die Here vir Moses beveel het.
18Toe is die ram vir die brandoffer nadergebring na die altaar toe. Aäron en sy seuns het hulle hande op die kop van die ram gesit. 19Moses het hom geslag en die bloed rondom teen die altaar uitgegooi. 20Hy het die ram opgesny. Hy het die kop, die opgesnyde dele, die binnevet, en 21nadat hy dit skoon gewas het, ook die binnegoed en pote verbrand. So het Moses die hele ram op die altaar verbrand. Dit was 'n brandoffer wat deur die Here aanvaar is, 'n vuuroffer wat aan die Here gebring is soos Hy Moses beveel het.
22Hierna is die ander ram wat vir die priesterwyding bedoel was, na die altaar toe gebring. Aäron en sy seuns het hulle hande ook op die kop van dié ram gesit. 23Moses het hom geslag en van die bloed aan Aäron se regteroorlel, sy regterduim en regtergroottoon gesmeer. 24Moses het die seuns van Aäron laat naderkom en van die bloed ook aan húlle regteroorlelle, regterduime en regtergroottone gesmeer. Die res van die bloed het hy rondom teen die altaar uitgegooi. 25Hy het die vet, dit is die vetstert en al die vet wat aan die binnegoed sit, saam met die punt van die lewer, die twee niere met die niervet en die regterboud eenkant gesit. 26Hy het 'n ongesuurde ringbrood, 'n ringbrood wat met olie geknie is, en 'n roosterkoek uitgehaal uit die mandjie met ongesuurde brood wat by die altaar gestaan het, en dit by die vet en die regterboud gesit. 27Daarna het hy dit alles vir Aäron en sy seuns gegee en hulle aangesê om dit as 'n beweegoffer vir die Here aan te bied. 28Moses het dit toe by hulle geneem en dit op die altaar bo-op die brandoffer verbrand. Die offer waarmee die priesters gewy is, was 'n offer wat deur die Here aanvaar is. Dit was 'n vuuroffer wat vir die Here aangebied is. 29Moses het die bors as 'n beweegoffer vir die Here aangebied. Dit was die deel van die offerram vir die priesterwyding wat Moses, volgens die bevel van die Here, gekry het.
30Daarna het Moses van die salfolie en van die bloed wat op die altaar was, oor Aäron en sy klere gesprinkel en ook oor sy seuns en hulle klere. So het Moses vir Aäron en sy seuns en hulle klere aan die Here gewy.
31Moses het vir Aäron en sy seuns gesê: “Kook die vleis by die ingang van die tent van ontmoeting en eet dit daar saam met die brood in die mandjie wat gebruik is by die priesterwyding, want die bevel aan my was: ‘Aäron en sy seuns moet dit eet.’ 32As daar iets oorbly van die vleis of die brood, moet dit verbrand word. 33Julle mag 'n week lank nie die ingang van die tent van ontmoeting verlaat nie, nie voordat die sewe dae van die wydingseremonies verby is nie. 34Die dinge wat vandag gedoen is op bevel van die Here, was bedoel om julle sonde te versoen. 35Daarom moet julle 'n week lank dag en nag by die ingang van die tent van ontmoeting bly en die bevel van die Here uitvoer, anders sal julle sterwe. Dit is die bevel wat ek van die Here ontvang het.”
36Aäron en sy seuns het toe alles wat die Here deur Moses beveel het, gedoen.

Tans Gekies:

LEVITIKUS 8: AFR83

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid