LEVITIKUS 7:18-20
LEVITIKUS 7:18-20 Bybel vir almal (ABA)
As iemand op die derde dag van die vleis eet, dan sal die Here nie die offer aanvaar nie. Dit sal wees soos wanneer die persoon nie 'n offer gebring het nie. Die Here sal dit haat, en Hy sal die persoon straf wat die vleis eet. Niemand mag vleis eet wat geraak het aan iets wat onrein is nie, hulle moet die vleis verbrand. Iemand wat rein is, mag vleis eet wat rein is. As iemand onrein is en hy eet saam by die offer-ete, dan moet julle hom afsny van sy volk.
LEVITIKUS 7:18-20 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En as daar van die vleis van sy dankoffer op die derde dag iets geëet word, sal dit vir hom wat dit bring, nie met welgevalle aangeneem word nie; dit sal hom nie toegereken word nie; 'n onrein iets sal dit wees, en diegene wat daarvan eet, moet sy ongeregtigheid dra. En die vleis wat aan iets onreins raak, mag nie geëet word nie; met vuur moet dit verbrand word. Maar wat verder die vleis betref — elkeen wat rein is, mag vleis eet. Maar die een wat vleis eet van die dankoffer wat die HERE toekom, terwyl sy onreinheid aan hom is, dié siel moet uit sy volksgenote uitgeroei word.
LEVITIKUS 7:18-20 Afrikaans 1983 (AFR83)
As daar tog op die derde dag van die maaltydoffervleis geëet word, word dit nie meer as offer aanvaar nie en tel dit nie in die guns van die offeraar nie. Die offervleis is dan onrein, en wie daarvan eet, is skuldig. “Vleis wat geraak het aan enigiets wat onrein is, mag nie geëet word nie; dit moet verbrand word. “Iemand wat rein is, mag offervleis eet, maar die persoon wat terwyl hy onrein is, eet van die maaltydoffervleis wat aan die Here behoort, moet van sy volksgenote afgesny word.
LEVITIKUS 7:18-20 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
As daar wel van die vleis van die maaltydoffer op die derde dag geëet word, sal die persoon wat die offer bring, nie aanvaar word nie. Dit sal nie in sy guns tel nie. Dit is iets walgliks en die persoon wat daarvan eet, sal sy skuld moet dra. Vleis wat raak aan enigiets wat onrein is, mag nie geëet word nie. Met vuur moet dit verbrand word. “ ‘Wat die offervleis betref: Enigiemand wat rein is, mag daarvan eet. Iemand wat, terwyl hy onrein is, die vleis eet van die maaltydoffer wat aan die HERE behoort, sal van sy mense afgesny word.
LEVITIKUS 7:18-20 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En as iets van die vleis van sy dankoffer enigsins op die derde dag geëet word, sal dit nie behaaglik wees nie, en dit mag nie toegereken word aan die een wat dit offer nie: dit sal 'n gruwel wees, en die siel wat eet daarvan sal sy ongeregtigheid dra. En die vleis wat aan iets onreins raak, mag nie geëet word nie; dit moet met vuur verbrand word, en wat die vleis betref, almal wat rein is, moet daarvan eet. Maar die siel wat eet van die vleis van die dankoffer wat aan die HERE behoort, met sy onreinheid op hom, dié siel moet uit sy volk uitgeroei word.
LEVITIKUS 7:18-20 Die Boodskap (DB)
As daar wel nog van die vleis van die offer oorbly op die derde dag en dan geëet word, sal dit nie meer deurgaan as ’n offer vir die Here nie. Dit sal nie langer by die Here in daardie persoon se guns tel nie. Dit sal as slegte vleis gesien word. Iemand wat ook nog daarvan eet, oortree teen die bevele van die Here. Vleis wat in aanraking kom met enigiets anders wat as onwenslik en vuil beskou word, mag nie geëet word nie. Dit moet met vuur verbrand word. Elkeen wat aan die Here se voorskrifte voldoen en aan Hom toegewyd is, mag van die vleis van die offer eet. Elkeen wat nie aan die Here behoort nie en van die vleis van die altaar eet wat as ’n offer vir die Here gebring is, moet uit die volk weggejaag word.
LEVITIKUS 7:18-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
As enige vleis van die maaltydoffer op die derde dag geëet word, sal die HERE dit nie aanvaar nie. Dit sal geen waarde as ’n offer hê nie en dit sal ook nie in die guns tel van die een wat die offer gebring het nie. Op daardie stadium sal die vleis al sleg wees en as jy dit eet, sal jy verantwoording moet doen vir jou sonde. “Vleis wat aan enigiets wat onrein is, geraak het, mag nie geëet word nie, dit moet heeltemal verbrand word. Vleis wat geëet mag word, mag net geëet word deur iemand wat rein is. Iemand wat onrein is, maar wat vleis van ’n maaltydoffer vir die HERE geëet het, moet uit die gemeenskap verwyder word.