Levitikus 7

7
1“ ‘ Dit is die voorskrifte vir die •hersteloffer: Dit is besonder heilig. 2 Op die plek waar die •brandoffer keelaf gesny word, moet die hersteloffer ook keelaf gesny word en die priester moet die bloed reg rondom teen die altaar sprinkel. 3 Al die vet daarvan moet hy naderbring: die vetstert en die vet wat die binnegoed bedek, 4asook die twee niere met die vet daaraan wat teen die kruis lê. Die lewerlob moet hy saam met die niere verwyder. 5 Die priester moet dit op die altaar verbrand. Dit is 'n offergawe aan die Here, 'n hersteloffer. 6 Enige manlike persoon uit die priesterfamilie mag daarvan eet. Op 'n heilige plek moet dit geëet word. Dit is besonder heilig.
7“ ‘ By die hersteloffer geld dieselfde voorskrifte as by die •reinigingsoffer: Dit kom die priester toe wat die versoening daarmee doen. 8Wanneer 'n priester namens iemand 'n brandoffer bring, behoort die vel van die brandoffer wat hy bring aan die priester; dit kom hom toe. 9 So behoort elke •graanoffer wat in 'n oond gebak is, of wat in 'n pan of op 'n bakplaat voorberei is, aan die priester wat die offer bring; dit kom hom toe. 10Elke ander graanoffer, of dit nou met olyfolie klam gemaak of droog is, kom al die seuns van Aäron toe, gelykop verdeel tussen hulle.
11“ ‘ Dit is die voorskrifte vir 'n •maaltydoffer wat vir die Here gebring word: 12As iemand dit uit dankbaarheid bring, moet hy saam met die •dankoffer ongesuurde brood aanbied: ringbrode, klam gemaak met olyfolie, platbrode, gesmeer met olyfolie, en gesifte meel, klam gemaak met olyfolie en deurgeknie. 13Saam met die ringbrode moet hy brood met suurdeeg gebak aanbied by sy maaltydoffer wat hy as dankoffer bring. 14Van elke soort brood van die offer moet hy een aanbied as 'n •wydingsgeskenk aan die Here. Dit is bedoel vir die priester wat die bloed van die maaltydoffer sprinkel; dit kom hom toe. 15 Die vleis van sy maaltydoffer wat iemand uit dankbaarheid bring, moet op die dag van sy offer geëet word. Niks daarvan mag oorbly tot die volgende oggend nie.
16“ ‘As sy offergawe 'n slagoffer is, ná 'n gelofte of vrywillig, moet dit op dieselfde dag wat hy sy offer bring, geëet word. Wat daarvan oorbly tot die volgende dag, mag ook nog geëet word. 17Wat op die derde dag nog van die offervleis oor is, moet met vuur verbrand word. 18As daar wel van die vleis van die maaltydoffer op die derde dag geëet word, sal die persoon wat die offer bring, nie aanvaar word nie. Dit sal nie in sy guns tel nie. Dit is iets walgliks en die persoon wat daarvan eet, sal sy skuld moet dra. 19 Vleis wat raak aan enigiets wat onrein is, mag nie geëet word nie. Met vuur moet dit verbrand word.
“ ‘Wat die offervleis betref: Enigiemand wat rein is, mag daarvan eet. 20Iemand wat, terwyl hy onrein is, die vleis eet van die maaltydoffer wat aan die Here behoort, sal van sy mense afgesny word. 21Wanneer iemand aan iets raak wat onrein is, of dit nou die onreinheid van 'n mens of 'n onrein dier is, of enigiets onreins wat afstootlik is, en hy eet van die vleis van die maaltydoffer wat aan die Here behoort, sal daardie persoon van sy mense afgesny word.’ ”
Verbod om vet en bloed te eet
22Die Here het met Moses gepraat en gesê: 23“ Praat met die Israeliete en sê, ‘Julle mag nie enige vet van beeste, skape of bokke eet nie. 24 Die vet van 'n dier wat doodgegaan het en die vet van 'n verskeurde dier mag gebruik word vir enige alledaagse take, maar dit mag beslis nie geëet word nie. 25Wanneer enigiemand vet eet van diere wat as offergawe na die Here gebring word, sal die persoon wat daarvan eet van sy mense afgesny word. 26Bloed mag julle glad nie eet nie, waar julle ook al woon; nie die bloed van voëls nie en ook nie die bloed van diere nie. 27 Enigiemand wat enige bloed eet, sal van sy mense afgesny word.’ ”
Priesters se deel by maaltydoffers
28Die Here het met Moses gepraat en gesê: 29“ Praat met die Israeliete en sê, ‘Wie sy maaltydoffer vir die Here bring, moet self die deel van sy maaltydoffer wat aan die Here behoort, in die heiligdom inbring. 30 Met sy eie hande moet hy die offergawe vir die Here indra; die vet moet hy saam met die borsstuk indra. Die borsstuk moet hy indra om dit voor die Here as 'n gewyde gawe heen en weer te beweeg. 31Die priester moet die vet op die altaar verbrand. Die borsstuk kom Aäron en sy seuns toe. 32Die regterboud van julle maaltydoffers moet julle as •wydingsgeskenk aan die priester gee. 33Die priester uit die seuns van Aäron wat die bloed van die maaltydoffer en die vet naderbring, hy kry die regterboud as sy deel. 34 Want die borsstuk, wat die gewyde gawe is, en die regterboud, wat die wydingsgeskenk is, het Ek uit die Israeliete se maaltydoffers geneem en aan die priester Aäron en sy seuns gegee as die deel wat hulle altyd by die Israeliete moet kry. 35 Dit is aan Aäron en sy seuns toegewys uit die offergawes aan die Here op die dag toe hulle nadergebring is om as priesters vir die Here te dien. 36Dit is wat die Here beveel het die Israeliete aan hulle moet gee, op die dag dat Hy hulle gesalf het. Dit is 'n voorskrif wat altyd geld vir hulle nageslag.’ ”
37 Dit is die voorskrifte vir die brandoffer, die graanoffer, die reinigingsoffer, die hersteloffer, die wydingsoffer en die maaltydoffer 38 wat die Here aan Moses as opdrag gegee het op die berg Sinai die dag toe hy die Israeliete in die Sinaiwoestyn beveel het om hulle offers aan die Here te bring.

Tans Gekies:

Levitikus 7: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid