LEVÍTIKUS 7

7
Voorskrifte omtrent die skuld- en dankoffers.
1EN dit is die wet van die skuldoffer: dit is hoogheilig.
2 Op die plek waar hulle die brandoffer slag, moet hulle die skuldoffer slag, en hy moet die bloed rondom teen die altaar uitgooi.
3En hy moet al die vet daarvan offer: die vetstert en die vet wat oor die binnegoed lê,
4en die twee niere en die vet daarop wat aan die lendene is, en die lap aan die lewer — by die niere moet hy dit wegneem.
5En die priester moet dit op die altaar aan die brand steek as vuuroffer aan die Here; dit is 'n skuldoffer.
6 Almal wat manlik is onder die priesters, mag dit eet. Op 'n heilige plek moet dit geëet word; dit is hoogheilig.
7Soos die sondoffer, so die skuldoffer; een wet geld vir hulle — die priester wat daardeur versoening doen, aan hom kom dit toe.
8En die priester wat die brandoffer van iemand bring — die vel van die brandoffer wat hy gebring het, aan die priester, aan hom kom dit toe.
9En elke spysoffer wat in die oond gebak word, en alles wat in die pan of op die bakplaat berei is, aan die priester wat dit offer, aan hom kom dit toe.
10En elke spysoffer, met olie gemeng of droog, aan al die seuns van Aäron kom dit toe, aan die een so goed as aan die ander.
11En dit is die wet van die dankoffer wat hulle aan die Here bring:
12Ingeval hy dit as lofoffer bring, moet hy by die lofoffer bring: ongesuurde koeke met olie gemeng en ongesuurde platkoeke met olie bestryk en fynmeel wat as koeke deurmekaargeroer is, met olie gemeng;
13saam met koeke van gesuurde brood moet hy sy offergawe by sy lofdankoffer bring.
14En hy moet daarvan, een koek van elke gawe, as offergawe aan die Here bring; aan die priester wat die bloed van die dankoffer uitgooi, aan hom kom dit toe.
15Maar die vleis van sy lofdankoffer moet geëet word op die dag as hy dit bring; daarvan mag hy niks tot die môre laat lê nie.
16En as die offer wat hy bring, 'n gelofte of vrywillige offer is, moet dit geëet word op die dag as hy sy offer bring; en op die volgende dag, dan kan geëet word wat daarvan oorbly.
17Maar wat van die offervleis oorgebly het, moet op die derde dag met vuur verbrand word.
18En as daar van die vleis van sy dankoffer op die derde dag iets geëet word, sal dit vir hom wat dit bring, nie met welgevalle aangeneem word nie; dit sal hom nie toegereken word nie; 'n onrein iets sal dit wees, en diegene wat daarvan eet, moet sy ongeregtigheid dra.
19En die vleis wat aan iets onreins raak, mag nie geëet word nie; met vuur moet dit verbrand word. Maar wat verder die vleis betref — elkeen wat rein is, mag vleis eet.
20Maar die een wat vleis eet van die dankoffer wat die Here toekom, terwyl sy onreinheid aan hom is, dié siel moet uit sy volksgenote uitgeroei word.
21En as iemand aan iets onreins raak, aan die onreinheid van 'n mens of aan 'n onrein dier of aan enige onrein verfoeisel, en dan eet van die vleis van die dankoffer wat die Here toekom, dié siel moet uit sy volksgenote uitgeroei word.
Die verbod om vet of bloed te eet.
22VERDER het die Here met Moses gespreek en gesê:
23Spreek met die kinders van Israel en sê: Géén vet van 'n bees of skaap of bok mag julle eet nie.
24Maar die vet van aas en die vet van wat verskeur is, kan vir allerhande werk gebruik word, maar jy mag niks daarvan eet nie.
25Want elkeen wat vet eet van die vee waarvan hulle aan die Here 'n vuuroffer bring, diegene wat dit eet, moet uit sy volksgenote uitgeroei word.
26 Ook mag julle géén bloed van voëls of van vee in enigeen van julle woonplekke eet nie.
27Elkeen wat maar enigsins bloed eet, dié siel moet uit sy volksgenote uitgeroei word.
28Verder het die Here met Moses gespreek en gesê:
29Spreek met die kinders van Israel en sê: Hy wat aan die Here sy dankoffer bring, moet self aan die Here die gawe uit sy dankoffer bring;
30 sy hande moet die vuuroffers van die Here bring: die vet met die bors moet hy bring; die bors, om dit as beweegoffer voor die aangesig van die Here te beweeg.
31 En die priester moet die vet op die altaar aan die brand steek, maar die bors kom Aäron en sy seuns toe.
32Julle moet ook die regterboud aan die priester as hefoffer gee uit julle dankoffers.
33Hy wat uit die seuns van Aäron die bloed van die dankoffers en die vet offer, aan hom kom die regterboud as deel toe.
34Want die beweegbors en die hefboud het Ek van die kinders van Israel uit hulle dankoffers geneem en dit aan Aäron, die priester, en aan sy seuns gegee as 'n deel wat hulle vir ewig toekom van die kant van die kinders van Israel.
35Dit is die aandeel van Aäron en die aandeel van sy seuns uit die vuuroffers van die Here, op die dag toe Hy hulle laat nader kom het om die priesteramp vir die Here te bedien —
36wat die Here beveel het om hulle te gee van die kant van die kinders van Israel, op die dag toe Hy hulle gesalf het. Dit is 'n ewige insetting vir hulle geslagte.
37Dit is die wet vir die brandoffer, die spysoffer en die sondoffer en die skuldoffer en die wydingsoffer en die dankoffer
38wat die Here Moses by die berg Sinai beveel het, op die dag toe hy die kinders van Israel in die woestyn Sinai beveel het om hulle offers aan die Here te bring.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid