LEVITIKUS 7:1-38
LEVITIKUS 7:1-38 Bybel vir almal (ABA)
Die Here het vir Moses gesê: “Dit is wat die priesters met die skuld-offer moet doen, die skuld-offer is hoog-gewyd: Hulle moet die dier wat die skuld-offer moet wees, slag op dieselfde plek waar hulle die diere vir die brand-offer slag. Die priester moet al die vet van die dier offer, die stertvet en die vet wat oor die binnegoed is. Hy moet ook die twee niere offer, en die vet wat aan die niere is by die kruis, en ook die punt van die lewer wat hy saam met die niere uitsny. Die priester moet dit op die altaar verbrand. Dit is 'n vuur-offer vir die Here, dit is 'n skuld-offer. 'n Man of 'n seun van die priesters se familie mag die vleis van die skuld-offer eet. Hulle moet dit eet op 'n gewyde plek, dit is hoog-gewyd. Hulle moet dieselfde doen met die skuld-offer soos met die sonde-offer. Die priester wat versoening doen, kry dit. “Die priester wat iemand se brand-offer offer, mag die vel kry van die dier wat hy ge-offer het. Elke koring-offer wat iemand in 'n oond bak of gereedmaak in 'n pan of op 'n bakplaat, behoort aan die priester wat dit ge-offer het. Elke ander koring-offer, die koring-offer wat hulle met olyf-olie gemeng het, en die koring-offer wat droog is, behoort aan die priesters van die nageslag van Aäron, enige een van hulle kan dit kry.” “En dit is hoe iemand vir die Here 'n ete-offer moet bring: As hy offer om vir die Here dankie te sê, dan moet hy saam met die dank-offer ook ongesuurde rondebrood van meel offer. Hy moet dit meng met olyf-olie, ongesuurde roosterkoek waarop hy olyf-olie gesmeer het, en rondebrood van die beste meel wat hy gemeng het met olyf-olie. Saam met die dank-offer, sy ete-offer, moet hy ook 'n offer bring van rondebrood wat hy met suurdeeg gebak het. Hy moet 'n deel van alles wat hy offer, vir die Here present gee. Die priester wat die bloed van die ete-offers sprinkel, moet dit kry. Die persoon wat die offer bring en sy mense moet die vleis vir die dank-offer, die ete-offer, op-eet op die dag wanneer hy dit bring. Daar mag niks oorbly tot die volgende dag nie. As hy offer omdat hy 'n gelofte gemaak het of omdat hy self besluit het om 'n offer te bring, dan eet hulle die vleis op die dag wanneer hy die offer bring, maar as daar vleis oorbly, dan mag hulle dit die volgende dag eet. As daar dan nog vleis oorbly tot die derde dag, dan moet hulle dit verbrand. As iemand op die derde dag van die vleis eet, dan sal die Here nie die offer aanvaar nie. Dit sal wees soos wanneer die persoon nie 'n offer gebring het nie. Die Here sal dit haat, en Hy sal die persoon straf wat die vleis eet. Niemand mag vleis eet wat geraak het aan iets wat onrein is nie, hulle moet die vleis verbrand. Iemand wat rein is, mag vleis eet wat rein is. As iemand onrein is en hy eet saam by die offer-ete, dan moet julle hom afsny van sy volk. Iemand raak miskien aan iets wat onrein is, dit is miskien 'n mens of 'n dier wat onrein is, of iets anders wat die Here haat. As die persoon dan van die vleis eet wat aan die Here behoort, die vleis van die ete-offer, dan moet julle hom afsny van sy volk.” Die Here het vir Moses gesê: “Jy moet vir die Israeliete sê: Julle mag nooit vet van 'n bees of 'n skaap of 'n bok eet nie. Wanneer 'n dier gevrek het, of wanneer 'n wilde dier dit doodgemaak het, dan mag julle die vet gebruik vir julle werk, maar julle mag glad nie die vet eet nie. Ja, julle moet enige iemand afsny van sy volk wanneer hy die vet eet van 'n dier wat iemand vir die Here op die altaar ge-offer het. “Julle mag ook nooit bloed eet nie, oral waar julle woon, nie 'n voël se bloed nie en ook nie 'n dier se bloed nie. Julle moet enige iemand wat bloed eet, afsny van sy volk.” Die Here het vir Moses gesê: “Jy moet vir die Israeliete sê: Wanneer iemand vir die Here 'n ete-offer bring, dan moet hy 'n deel van die vleis vir die Here offer. Hy moet self die vet en die bors van die dier vir die Here gee. Die bors moet 'n beweeg-offer vir die Here wees. Die priester moet die vet op die altaar verbrand, en Aäron en sy seuns moet die bors kry. Julle moet die regter-boud van die ete-offer ook vir die priesters present gee. Die priester wat die bloed en die vet van die ete-offer verbrand, moet die regter-boud kry, want Ek het die bors van die beweeg-offer en die boud geneem van die Israeliete en Ek het dit vir die priester Aäron en sy seuns gegee. Die boud is 'n present, dit is 'n deel van die ete-offers, en die Israeliete moet dit altyd gee. Dit is die dele wat Aäron en sy seuns moet kry van die vuur-offers van die Here. Hulle moet dit kry van die dag toe hulle gewy is om priesters van die Here te wees. Toe die Here die priesters gesalf het, het Hy gesê die Israeliete moet hierdie dele vir die priesters gee. “Dit is wat moet gebeur met die brand-offer, die koring-offer, die sonde-offer, die skuld-offer, die offer wanneer priesters gewy word, en die ete-offer.” Die Here het dit vir Moses gesê op Sinai-berg, in die Sinai-woestyn. Die Here het dit gedoen toe Hy gesê het dat die Israeliete offers vir Hom moet gee.
LEVITIKUS 7:1-38 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN dit is die wet van die skuldoffer: dit is hoogheilig. Op die plek waar hulle die brandoffer slag, moet hulle die skuldoffer slag, en hy moet die bloed rondom teen die altaar uitgooi. En hy moet al die vet daarvan offer: die vetstert en die vet wat oor die binnegoed lê, en die twee niere en die vet daarop wat aan die lendene is, en die lap aan die lewer — by die niere moet hy dit wegneem. En die priester moet dit op die altaar aan die brand steek as vuuroffer aan die HERE; dit is 'n skuldoffer. Almal wat manlik is onder die priesters, mag dit eet. Op 'n heilige plek moet dit geëet word; dit is hoogheilig. Soos die sondoffer, so die skuldoffer; een wet geld vir hulle — die priester wat daardeur versoening doen, aan hom kom dit toe. En die priester wat die brandoffer van iemand bring — die vel van die brandoffer wat hy gebring het, aan die priester, aan hom kom dit toe. En elke spysoffer wat in die oond gebak word, en alles wat in die pan of op die bakplaat berei is, aan die priester wat dit offer, aan hom kom dit toe. En elke spysoffer, met olie gemeng of droog, aan al die seuns van Aäron kom dit toe, aan die een so goed as aan die ander. En dit is die wet van die dankoffer wat hulle aan die HERE bring: Ingeval hy dit as lofoffer bring, moet hy by die lofoffer bring: ongesuurde koeke met olie gemeng en ongesuurde platkoeke met olie bestryk en fynmeel wat as koeke deurmekaargeroer is, met olie gemeng; saam met koeke van gesuurde brood moet hy sy offergawe by sy lofdankoffer bring. En hy moet daarvan, een koek van elke gawe, as offergawe aan die HERE bring; aan die priester wat die bloed van die dankoffer uitgooi, aan hom kom dit toe. Maar die vleis van sy lofdankoffer moet geëet word op die dag as hy dit bring; daarvan mag hy niks tot die môre laat lê nie. En as die offer wat hy bring, 'n gelofte of vrywillige offer is, moet dit geëet word op die dag as hy sy offer bring; en op die volgende dag, dan kan geëet word wat daarvan oorbly. Maar wat van die offervleis oorgebly het, moet op die derde dag met vuur verbrand word. En as daar van die vleis van sy dankoffer op die derde dag iets geëet word, sal dit vir hom wat dit bring, nie met welgevalle aangeneem word nie; dit sal hom nie toegereken word nie; 'n onrein iets sal dit wees, en diegene wat daarvan eet, moet sy ongeregtigheid dra. En die vleis wat aan iets onreins raak, mag nie geëet word nie; met vuur moet dit verbrand word. Maar wat verder die vleis betref — elkeen wat rein is, mag vleis eet. Maar die een wat vleis eet van die dankoffer wat die HERE toekom, terwyl sy onreinheid aan hom is, dié siel moet uit sy volksgenote uitgeroei word. En as iemand aan iets onreins raak, aan die onreinheid van 'n mens of aan 'n onrein dier of aan enige onrein verfoeisel, en dan eet van die vleis van die dankoffer wat die HERE toekom, dié siel moet uit sy volksgenote uitgeroei word. VERDER het die HERE met Moses gespreek en gesê: Spreek met die kinders van Israel en sê: Géén vet van 'n bees of skaap of bok mag julle eet nie. Maar die vet van aas en die vet van wat verskeur is, kan vir allerhande werk gebruik word, maar jy mag niks daarvan eet nie. Want elkeen wat vet eet van die vee waarvan hulle aan die HERE 'n vuuroffer bring, diegene wat dit eet, moet uit sy volksgenote uitgeroei word. Ook mag julle géén bloed van voëls of van vee in enigeen van julle woonplekke eet nie. Elkeen wat maar enigsins bloed eet, dié siel moet uit sy volksgenote uitgeroei word. Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê: Spreek met die kinders van Israel en sê: Hy wat aan die HERE sy dankoffer bring, moet self aan die HERE die gawe uit sy dankoffer bring; sy hande moet die vuuroffers van die HERE bring: die vet met die bors moet hy bring; die bors, om dit as beweegoffer voor die aangesig van die HERE te beweeg. En die priester moet die vet op die altaar aan die brand steek, maar die bors kom Aäron en sy seuns toe. Julle moet ook die regterboud aan die priester as hefoffer gee uit julle dankoffers. Hy wat uit die seuns van Aäron die bloed van die dankoffers en die vet offer, aan hom kom die regterboud as deel toe. Want die beweegbors en die hefboud het Ek van die kinders van Israel uit hulle dankoffers geneem en dit aan Aäron, die priester, en aan sy seuns gegee as 'n deel wat hulle vir ewig toekom van die kant van die kinders van Israel. Dit is die aandeel van Aäron en die aandeel van sy seuns uit die vuuroffers van die HERE, op die dag toe Hy hulle laat nader kom het om die priesteramp vir die HERE te bedien — wat die HERE beveel het om hulle te gee van die kant van die kinders van Israel, op die dag toe Hy hulle gesalf het. Dit is 'n ewige insetting vir hulle geslagte. Dit is die wet vir die brandoffer, die spysoffer en die sondoffer en die skuldoffer en die wydingsoffer en die dankoffer wat die HERE Moses by die berg Sinai beveel het, op die dag toe hy die kinders van Israel in die woestyn Sinai beveel het om hulle offers aan die HERE te bring.
LEVITIKUS 7:1-38 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Die skuldoffer is 'n besondere gewyde gawe. Die reëlings daaroor is soos volg: die skuldofferdier word geslag op dieselfde plek as die brandoffer en sy bloed word rondom teen die altaar gesprinkel. Al die vet word aangebied: die vetstert, die vet wat die binnegoed bedek, die twee niertjies met die vet oor hulle teen die kruis en die lewerpunt wat saam met die niertjies verwyder word. Die priester verbrand dit op die altaar. Dit is 'n vuuroffer vir die Here. Dit is die skuldoffer. Enige manlike persoon onder die priesters mag die skuldoffer eet. Dit is 'n besondere gewyde gawe. Dit word op die gewyde plek geëet. Die aanwysings vir die skuldoffer is dieselfde as dié vir die sondeoffer. Dit kom die priester toe wat daarmee vir iemand versoening doen.” “Waar 'n priester vir iemand 'n brandoffer aanbied, kom die vel van die offerdier die priester toe wat die offer aanbied. “Elke graanoffer wat in 'n oond gebak is, en dié wat in 'n bakpan of op 'n bakplaat gaargemaak is, kom die priester toe wat die offer aanbied. “Elke graanoffer wat met olie aangemaak is, en ook dié sonder olie, kom egter die seuns van Aäron toe, sonder voorkeur.” “Die reëlings oor die maaltydoffers wat vir die Here aangebied word, is soos volg: as iemand dit aanbied as dankoffer, bied hy saam met die dankoffer ongesuurde ringbrood aan, met olie geknie, of ongesuurde roosterkoek met olie gesmeer, of 'n deegmengsel vir ringbrood, met olie geknie. Hy bied sy offer aan saam met ringbrood met suurdeeg, saam met sy maaltydoffer waarmee hy sy dank wil uitspreek. Hy bied een brood uit elk van hierdie offers aan as 'n spesiale gawe aan die Here. Die priester wat die bloed van die maaltydoffers sprinkel, kry die brood. “Die vleis van die maaltydoffer waarmee iemand sy dank wil uitspreek, word geëet op die dag van die offer. Dit mag nie oorstaan tot die volgende môre nie. “As iemand 'n offer aanbied om 'n gelofte na te kom of as hy 'n ander vrywillige offer aanbied, word die vleis dieselfde dag geëet. Wat oorbly, mag ook nog die volgende dag geëet word, maar wat op die derde dag nog oor is, moet verbrand word. As daar tog op die derde dag van die maaltydoffervleis geëet word, word dit nie meer as offer aanvaar nie en tel dit nie in die guns van die offeraar nie. Die offervleis is dan onrein, en wie daarvan eet, is skuldig. “Vleis wat geraak het aan enigiets wat onrein is, mag nie geëet word nie; dit moet verbrand word. “Iemand wat rein is, mag offervleis eet, maar die persoon wat terwyl hy onrein is, eet van die maaltydoffervleis wat aan die Here behoort, moet van sy volksgenote afgesny word. As iemand aan iets onreins van 'n mens of van 'n dier raak, aan enigiets wat afstootlik en onrein is, en so iemand eet van die maaltydoffervleis wat aan die Here behoort, moet dié persoon van sy volksgenote afgesny word.” Die Here het vir Moses gesê: “Sê vir die Israeliete: Julle mag geen vet van beeste, skape en bokke eet nie. Die vet van 'n dooie dier of van 'n dier wat deur roofdiere gevang is, mag wel gebruik word, maar dit mag glad nie geëet word nie. Iemand wat die vet eet van 'n dier wat as vuuroffer vir die Here aangebied is, moet van sy volksgenote afgesny word. “Julle mag, waar julle ook al woon, geen bloed eet nie, nie van voëls of van diere nie. Iemand wat enige bloed eet, moet van sy volksgenote afgesny word.” Die Here het vir Moses gesê: “Sê vir die Israeliete: Wanneer iemand vir die Here 'n maaltydoffer aanbied, moet hy self uit sy maaltydoffer 'n offer aan die Here bring. Hy moet dit met sy eie hand as vuuroffer vir die Here bring. Hy moet die vuuroffer, die vet van die bors, saam met die bors bring en dit in die teenwoordigheid van die Here heen en weer beweeg as 'n beweegoffer. Die priester verbrand dan die vet op die altaar, maar die bors kom Aäron en sy seuns toe. “Julle moet die regterboud van die maaltydofferdier as 'n offergawe aan die priester gee. Die priester uit die seuns van Aäron wat die bloed en die vet van die maaltydoffers hanteer, het aanspraak op die regterboud as sy aandeel. “Die Here het die bors van die beweegoffer en die boud wat as offergawe gebring is, uit die maaltydoffers van Israel gevat en dit aan die priester Aäron en sy seuns gegee. Dit is 'n vaste instelling vir die Israeliete. “Dit is die aandeel van Aäron en sy seuns aan die vuuroffers van die Here, van die dag af dat hulle as priesters vir die Here gewy is. Die dag toe hulle gesalf is, het die Here beveel dat hulle dié gawes van die Israeliete moet ontvang. Dit is 'n vaste instelling, ook vir hulle nageslag.” Dit is dan die reëlings vir die brandoffer, die graanoffer, die sondeoffer, die skuldoffer, die offers by die priesterwyding en die maaltydoffers. So het die Here aan Moses opdrag gegee by Sinaiberg in die Sinaiwoestyn die dag toe Hy die Israeliete beveel het om vir Hom offers te bring.
LEVITIKUS 7:1-38 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“ ‘ Dit is die voorskrifte vir die •hersteloffer: Dit is besonder heilig. Op die plek waar die •brandoffer keelaf gesny word, moet die hersteloffer ook keelaf gesny word en die priester moet die bloed reg rondom teen die altaar sprinkel. Al die vet daarvan moet hy naderbring: die vetstert en die vet wat die binnegoed bedek, asook die twee niere met die vet daaraan wat teen die kruis lê. Die lewerlob moet hy saam met die niere verwyder. Die priester moet dit op die altaar verbrand. Dit is 'n offergawe aan die HERE, 'n hersteloffer. Enige manlike persoon uit die priesterfamilie mag daarvan eet. Op 'n heilige plek moet dit geëet word. Dit is besonder heilig. “ ‘ By die hersteloffer geld dieselfde voorskrifte as by die •reinigingsoffer: Dit kom die priester toe wat die versoening daarmee doen. Wanneer 'n priester namens iemand 'n brandoffer bring, behoort die vel van die brandoffer wat hy bring aan die priester; dit kom hom toe. So behoort elke •graanoffer wat in 'n oond gebak is, of wat in 'n pan of op 'n bakplaat voorberei is, aan die priester wat die offer bring; dit kom hom toe. Elke ander graanoffer, of dit nou met olyfolie klam gemaak of droog is, kom al die seuns van Aäron toe, gelykop verdeel tussen hulle. “ ‘ Dit is die voorskrifte vir 'n •maaltydoffer wat vir die HERE gebring word: As iemand dit uit dankbaarheid bring, moet hy saam met die •dankoffer ongesuurde brood aanbied: ringbrode, klam gemaak met olyfolie, platbrode, gesmeer met olyfolie, en gesifte meel, klam gemaak met olyfolie en deurgeknie. Saam met die ringbrode moet hy brood met suurdeeg gebak aanbied by sy maaltydoffer wat hy as dankoffer bring. Van elke soort brood van die offer moet hy een aanbied as 'n •wydingsgeskenk aan die HERE. Dit is bedoel vir die priester wat die bloed van die maaltydoffer sprinkel; dit kom hom toe. Die vleis van sy maaltydoffer wat iemand uit dankbaarheid bring, moet op die dag van sy offer geëet word. Niks daarvan mag oorbly tot die volgende oggend nie. “ ‘As sy offergawe 'n slagoffer is, ná 'n gelofte of vrywillig, moet dit op dieselfde dag wat hy sy offer bring, geëet word. Wat daarvan oorbly tot die volgende dag, mag ook nog geëet word. Wat op die derde dag nog van die offervleis oor is, moet met vuur verbrand word. As daar wel van die vleis van die maaltydoffer op die derde dag geëet word, sal die persoon wat die offer bring, nie aanvaar word nie. Dit sal nie in sy guns tel nie. Dit is iets walgliks en die persoon wat daarvan eet, sal sy skuld moet dra. Vleis wat raak aan enigiets wat onrein is, mag nie geëet word nie. Met vuur moet dit verbrand word. “ ‘Wat die offervleis betref: Enigiemand wat rein is, mag daarvan eet. Iemand wat, terwyl hy onrein is, die vleis eet van die maaltydoffer wat aan die HERE behoort, sal van sy mense afgesny word. Wanneer iemand aan iets raak wat onrein is, of dit nou die onreinheid van 'n mens of 'n onrein dier is, of enigiets onreins wat afstootlik is, en hy eet van die vleis van die maaltydoffer wat aan die HERE behoort, sal daardie persoon van sy mense afgesny word.’ ” Die HERE het met Moses gepraat en gesê: “ Praat met die Israeliete en sê, ‘Julle mag nie enige vet van beeste, skape of bokke eet nie. Die vet van 'n dier wat doodgegaan het en die vet van 'n verskeurde dier mag gebruik word vir enige alledaagse take, maar dit mag beslis nie geëet word nie. Wanneer enigiemand vet eet van diere wat as offergawe na die HERE gebring word, sal die persoon wat daarvan eet van sy mense afgesny word. Bloed mag julle glad nie eet nie, waar julle ook al woon; nie die bloed van voëls nie en ook nie die bloed van diere nie. Enigiemand wat enige bloed eet, sal van sy mense afgesny word.’ ” Die HERE het met Moses gepraat en gesê: “ Praat met die Israeliete en sê, ‘Wie sy maaltydoffer vir die HERE bring, moet self die deel van sy maaltydoffer wat aan die HERE behoort, in die heiligdom inbring. Met sy eie hande moet hy die offergawe vir die HERE indra; die vet moet hy saam met die borsstuk indra. Die borsstuk moet hy indra om dit voor die HERE as 'n gewyde gawe heen en weer te beweeg. Die priester moet die vet op die altaar verbrand. Die borsstuk kom Aäron en sy seuns toe. Die regterboud van julle maaltydoffers moet julle as •wydingsgeskenk aan die priester gee. Die priester uit die seuns van Aäron wat die bloed van die maaltydoffer en die vet naderbring, hy kry die regterboud as sy deel. Want die borsstuk, wat die gewyde gawe is, en die regterboud, wat die wydingsgeskenk is, het Ek uit die Israeliete se maaltydoffers geneem en aan die priester Aäron en sy seuns gegee as die deel wat hulle altyd by die Israeliete moet kry. Dit is aan Aäron en sy seuns toegewys uit die offergawes aan die HERE op die dag toe hulle nadergebring is om as priesters vir die HERE te dien. Dit is wat die HERE beveel het die Israeliete aan hulle moet gee, op die dag dat Hy hulle gesalf het. Dit is 'n voorskrif wat altyd geld vir hulle nageslag.’ ” Dit is die voorskrifte vir die brandoffer, die graanoffer, die reinigingsoffer, die hersteloffer, die wydingsoffer en die maaltydoffer wat die HERE aan Moses as opdrag gegee het op die berg Sinai die dag toe hy die Israeliete in die Sinaiwoestyn beveel het om hulle offers aan die HERE te bring.
LEVITIKUS 7:1-38 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Net so is dit die wet van die skuldoffer: dit is hoogheilig. Op die plek waar hulle die brandoffer slag, moet hulle die skuldoffer slag; en die bloed daarvan moet hy rondom op die altaar sprinkel. En hy moet al die vet daarvan offer; die kruis en die vet wat die binnegoed bedek, En die twee niere en die vet wat daarop is, wat aan die sye is, en die sel wat bokant die lewer is, saam met die niere, moet hy wegneem. En die priester moet dit op die altaar aan die brand steek as 'n vuuroffer aan die HERE; dit is 'n skuldoffer. Elke manlike onder die priesters mag daarvan eet; dit moet in die heiligdom geëet word; dit is hoogheilig. Soos die sondoffer is, so is die skuldoffer: daar is een wet vir hulle: die priester wat daarmee versoening doen, moet dit hê. En die priester wat iemand se brandoffer bring, die priester moet vir hom die vel hê van die brandoffer wat hy gebring het. En al die spysoffer wat in die oond gebak word en alles wat in die braaipan en in die pan berei word, moet die priester s'n wees wat dit offer. En elke spysoffer, gemeng met olie en droog, moet aan al die seuns van Aäron, die een soos die ander, hê. En dit is die wet van die dankoffer wat hy aan die HERE moet bring. As hy dit as dankoffer bring, moet hy saam met die lofoffer ongesuurde koeke gemeng met olie en ongesuurde platkoeke wat met olie gesalf is, en koeke gemeng met olie, fyn meel, gebraai. Behalwe die koeke moet hy as sy offer gesuurde brood saam met die dankoffer van sy dankoffers offer. En daarvan moet hy een uit die hele spysoffer as hefoffer aan die HERE berei, en dit moet aan die priester behoort wat die bloed van die dankoffers sprinkel. En die vleis van die dankoffer van sy dankoffer moet geëet word op dieselfde dag as wat dit gebring word; hy mag niks daarvan laat tot die môre toe nie. Maar as die offer van sy offer 'n gelofte of 'n vrywillige offer is, moet dit geëet word op dieselfde dag as wat hy sy offer bring; Maar die oorblyfsel van die vleis van die offer op die derde dag moet met vuur verbrand word. En as iets van die vleis van sy dankoffer enigsins op die derde dag geëet word, sal dit nie behaaglik wees nie, en dit mag nie toegereken word aan die een wat dit offer nie: dit sal 'n gruwel wees, en die siel wat eet daarvan sal sy ongeregtigheid dra. En die vleis wat aan iets onreins raak, mag nie geëet word nie; dit moet met vuur verbrand word, en wat die vleis betref, almal wat rein is, moet daarvan eet. Maar die siel wat eet van die vleis van die dankoffer wat aan die HERE behoort, met sy onreinheid op hom, dié siel moet uit sy volk uitgeroei word. En die siel wat aan alles wat onrein is, aanraak soos die onreinheid van die mens, of enige onrein dier of enige afskuwelike onrein ding, en eet van die vleis van die dankoffer wat aan die HERE behoort, dié siel moet afgesny van sy volk. En die HERE het met Moses gespreek en gesê: Spreek met die kinders van Israel en sê: Julle mag geen vet eet nie, van bees of kleinvee of bok nie. En die vet van die dier wat vanself vrek, en die vet van die wat verskeur is, mag vir enige ander gebruik gebruik word, maar julle mag daarvan nie eet nie. Want elkeen wat die vet van die dier eet waarvan 'n mens 'n vuuroffer aan die HERE bring, die siel wat dit eet, moet uit sy volk uitgeroei word. En julle mag geen bloed eet nie, of dit van voëls of van diere is, in enige van julle woonplekke. Elke siel wat enige soort bloed eet, dié siel moet uit sy volk uitgeroei word. En die HERE het met Moses gespreek en gesê: Spreek met die kinders van Israel en sê: Wie sy dankoffers aan die HERE bring, moet sy offer aan die HERE bring van sy dankoffers. Sy eie hande moet die vuuroffers van die HERE bring, die vet met die bors, dit moet hy bring, dat die bors as beweegoffer voor die aangesig van die HERE beweeg kan word. En die priester moet die vet op die altaar aan die brand steek, maar die bors moet aan Aäron en sy seuns behoort. En die regterskouer moet julle aan die priester as hefoffer gee van die slagoffers van julle dankoffers. Hy onder die seuns van Aäron wat die bloed van die dankoffers en die vet bring, moet die regterskouer vir sy deel hê. Want die beweegbors en die skouer het Ek van die kinders van Israel van die dankoffers af weggeneem en dit aan die priester Aäron en aan sy seuns gegee as 'n ewige insetting uit die kinders van Israel. Dit is die deel van die salwing van Aäron en van die salwing van sy seuns, uit die vuuroffers van die HERE, op die dag toe Hy hulle gebring het om die HERE te dien in die priesteramp; wat die HERE beveel het om aan hulle uit die kinders van Israel gegee te word op die dag dat Hy hulle gesalf het, volgens 'n ewige insetting vir hulle geslagte. Dit is die wet van die brandoffer, van die spysoffer en van die sondoffer en van die skuldoffer en van die wydings en van die dankoffers; wat die HERE Moses beveel het op die berg Sinai, op die dag toe Hy die kinders van Israel beveel het om hulle offergawes aan die HERE te bring, in die woestyn Sinai.
LEVITIKUS 7:1-38 Die Boodskap (DB)
Hier volg nog reëls vir die offer wat vir die Here gebring word om vir die skuld te betaal: “Hierdie offer behoort uitsluitlik aan die Here. Die dienaars by die tent moet hierdie offer op presies dieselfde plek slag waar hulle ook die offers slag wat verbrand word. Die bloed word reg rondom teen die altaar gespat. Die dienaar moet ook al die vet van die dier op die altaar offer, dit wil sê, ook die vetstert, die vet aan die binnegoed, die twee niere met die vet daaraan by die kruis en die lewer wat saam met die niertjies verwyder is. Hy moet dit alles op die altaar verbrand as ’n offer wat vir die Here verbrand word. Hierdie offer betaal vir die oortreding wat begaan is. Al die manlike werkers by die tent mag ook daarvan eet. Hulle moet dit egter op ’n plek gaan eet wat daarvoor eenkant gesit is, omdat dit uitsluitlik vir die diens van die Here afgesonder is. “Dieselfde reël as vir die offer wat vir die sondeskuld gebring word, geld ook vir die offer wat vir die sonde gebring word: die dienaar wat die offer bring om vir die sonde te betaal mag die vleis daarvan eet. Die werker wat die offer op die altaar verbrand, mag die vel van die dier vir homself hou. Enige offer wat van graan gebring word en wat in ’n oond gebak is of in ’n braaipan gebraai of op ’n rooster gaargemaak is, behoort ook aan die dienaar wat dit geoffer het. Al die ander graanoffers, of dit nou met olie gemeng is of nie, behoort egter aan al die dienaars uit Aäron se familie.” Nou volg die aanwysings vir die offer wat vir die Here gebring word om die verbintenis met Hom te versterk: “As iemand hierdie offer bring om vir die Here dankie te sê, bring hy saam met die offer ook brood waarin daar nie suurdeeg is nie en wat in olie gebak is, of beskuitjies sonder suurdeeg wat in olie gedoop is, of ’n roosterkoek wat in olie geweek is. Saam met hierdie offer waarmee hy dankie wil sê, bring hy verder ook nog ’n ronde brood waarin daar wel suurdeeg is. Hy vat van elkeen van hierdie verskillende soorte brood en bied dit vir die Here as ’n buitengewone offer aan. Die dienaar wat dit na die altaar vat, mag self ook daarvan eet. “Die vleis van die offer waarmee iemand kom dankie sê, moet op dieselfde dag waarop die offer gebring word, opgeëet word. Daar mag niks daarvan oorbly tot die volgende oggend nie. As iemand ’n offer vir die Here bring om ’n belofte na te kom, of sommer net vrywillig iets vir die Here offer, moet dit nog dieselfde dag geëet word. As daar wel iets oorbly, mag dit egter nog op die volgende dag geëet word. Die vleis wat op die derde dag nog oor is, moet egter heeltemal verbrand word. As daar wel nog van die vleis van die offer oorbly op die derde dag en dan geëet word, sal dit nie meer deurgaan as ’n offer vir die Here nie. Dit sal nie langer by die Here in daardie persoon se guns tel nie. Dit sal as slegte vleis gesien word. Iemand wat ook nog daarvan eet, oortree teen die bevele van die Here. Vleis wat in aanraking kom met enigiets anders wat as onwenslik en vuil beskou word, mag nie geëet word nie. Dit moet met vuur verbrand word. Elkeen wat aan die Here se voorskrifte voldoen en aan Hom toegewyd is, mag van die vleis van die offer eet. Elkeen wat nie aan die Here behoort nie en van die vleis van die altaar eet wat as ’n offer vir die Here gebring is, moet uit die volk weggejaag word. Iemand wat aan enigiets gevat het wat die Here as vuil beskou, of dit ’n mens of ’n dier is, en dan van die vleis van die altaar eet wat as ’n offer vir die Here gebring is, moet uit die gemeenskap verstoot word.” Die Here het nog verder deur Moses die mense van Israel beveel: “Sê vir die Israeliete: Julle mag nie beeste, skape of bokke se vet eet nie. Die vet van ’n dier wat vanself doodgegaan het, of deur roofdiere verskeur is, kan wel vir ander dinge gebruik word, maar julle mag dit nie eet nie. Enigiemand wat die vet eet van ’n dier wat vir die Here geoffer is, moet uit sy volk weggejaag word. Waar julle ook al woon, julle mag nooit voëls of diere se bloed drink nie. Enige persoon wat sulke bloed drink, sal uit die volk verwyder word.” Die Here het nog verder deur Moses die volgende opdrag aan die Israeliete gegee: “’n Persoon kan vir die Here ’n offer bring om sy goeie gesindheid teenoor die Here te bewys. Hy moet dan die deel daarvan wat vir die Here gegee word, in sy hand vat en dit nader bring sodat dit vir die Here verbrand kan word. Hy bring die vet van die dier se bors en die bors self en hou dit na die Here uit. Die dienaar by die tent verbrand dan die vet op die altaar. Die bors self gaan na Aäron en sy mense toe. Julle moet die regterblad van die dier wat julle vir die Here offer om julle goeie gesindheid teenoor Hom te bewys as ’n spesiale porsie aan die dienaar afstaan. Die regterblad van die dier behoort uitsluitlik aan die dienaars uit Aäron se familie wat die bloed en die vet van die offer by die altaar hanteer. Ek het die bors wat vir My geoffer word en die blad wat aan My opgedra word, by die Israeliete weggevat uit die deel van die offers wat hulle mag eet, en Ek het dit uitsluitlik vir die dienaars uit Aäron se familie en hulle gesinne gegee. Dit is ’n reël vir die Israeliete wat nooit verander mag word nie. “Dit is die gedeelte van die offers vir die Here wat op die altaar verbrand word, wat aan Aäron en sy seuns behoort van die dag dat die Here hulle aangestel het om sy dienaars by die tent van ontmoeting te wees. Dit is ook die gedeelte van die offer wat die Here beveel het hulle moet kry van die dag dat Hy hulle uit die Israeliete gekies en laat aanstel het om Hom te dien. Dit is ’n reël wat altyd vas sal staan tot in die verre toekoms.” So moet dan gemaak word met die offer wat heeltemal verbrand word, met die offer wat uit die graan uit kom, die offer wat vir die sonde gebring word, die offer wat gebring word om vir die skuld van die oortreding reg te maak, die offers wat gebring word as iemand as dienaar aangestel word by die tent van ontmoeting, en met die offers wat mense bring om hulle positiewe gesindheid teenoor die Here te wys. Dit is ook die voorskrifte wat die Here vir Moses gegee het by die berg Sinai op die dag toe hy vir die Israeliete voorgeskryf het hoe hulle vir die Here in die Sinaiwoestyn moet offer.
LEVITIKUS 7:1-38 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Dit is die voorskrifte vir die skuldoffer, wat ’n baie heilige offer is. Die dier wat geoffer word as ’n skuldoffer, moet geslag word waar die brandoffers geslag word. Die bloed moet teen die kante van die altaar gesprinkel word. Die priester sal dan al die vet op die altaar offer, dit beteken die vet van die stert, die vet aan die binnegoed, die twee niere met die vet rondom hulle naby die kruis, en die punt van die lewer, wat saam met die niere verwyder moet word. Die priester sal al sy dele op die altaar verbrand as ’n vuuroffer vir die HERE. Alle manlike lede van ’n priester se familie mag van die vleis eet en dit moet op ’n gewyde plek geëet word, want dit is ’n baie heilige offer. “In die geval van beide die sonde-offer en die skuldoffer behoort die vleis van die offerdier aan die priester in beheer van die versoeningseremonie. In die geval van die brandoffer behoort die vel van die offerdier ook aan die priester. Enige graanoffer wat in ’n oond gebak is of in ’n pan gaargemaak is of op ’n plaat voorberei is, behoort aan die priester wat die offer aanbied. Alle ander graanoffers, met of sonder olyfolie, moet verdeel word onder al die priesters en hulle seuns.” “Hier volg die instruksies vir die verskillende soorte maaltydoffers wat vir die HERE gebring mag word. As jy ’n maaltydoffer as ’n dankoffer bring, moet die gebruiklike offerdiere saam met verskillende soorte brood sonder enige suurdeeg gebring word. Dit moet in olyfolie gedoop word. Dit kan ringbrood, of dun broodjies of roosterkoeke wees. By hierdie maaltydoffer wat as danksegging gebring word, moet daar ook brode wees wat met suurdeeg gemaak is. Een van elke soort brood moet as ’n gawe vir die HERE gegee word. Hierdie brood sal dan aan die priester behoort wat die altaar met die bloed van die offerdier besprinkel het. Die vleis van die offerdier moet op dieselfde dag as wat dit geslag is, geëet word. Niks mag oorbly tot die volgende oggend toe nie. “As jy egter ’n offer bring om ’n gelofte na te kom, of as jy ’n vrywillige offer bring, moet die vleis op dieselfde dag geëet word. Vleis wat oorbly, mag wel ook op die volgende dag geëet word. Enigiets wat oorbly tot op die derde dag moet heeltemal verbrand word. As enige vleis van die maaltydoffer op die derde dag geëet word, sal die HERE dit nie aanvaar nie. Dit sal geen waarde as ’n offer hê nie en dit sal ook nie in die guns tel van die een wat die offer gebring het nie. Op daardie stadium sal die vleis al sleg wees en as jy dit eet, sal jy verantwoording moet doen vir jou sonde. “Vleis wat aan enigiets wat onrein is, geraak het, mag nie geëet word nie, dit moet heeltemal verbrand word. Vleis wat geëet mag word, mag net geëet word deur iemand wat rein is. Iemand wat onrein is, maar wat vleis van ’n maaltydoffer vir die HERE geëet het, moet uit die gemeenskap verwyder word. As iemand aan iets raak wat onrein is, of dit nou iets onreins aan ’n mens of van ’n onrein dier is, en so ’n persoon eet vleis van offers vir die HERE, moet so iemand uit die gemeenskap verwyder word.” Die HERE het vir Moses gesê: “Gee vir die Israeliete hierdie instruksies: Julle mag nooit vet eet nie, nie die vet van osse of skape of bokke nie. Die vet van ’n dooie dier of van ’n dier wat deur roofdiere gevang is, mag nooit geëet word nie. Dit mag egter wel vir ander doeleindes gebruik word. Enigiemand wat vet van ’n dier eet wat as vuuroffer vir die HERE gegee word, moet uit die gemeenskap verwyder word. Selfs in julle huise mag julle nooit die bloed van enige voël of dier eet nie. Enigiemand wat bloed eet, moet uit die gemeenskap verwyder word.” Toe het die HERE vir Moses gesê: “Gee hierdie verdere instruksies vir die Israeliete: Wanneer jy ’n maaltydoffer vir die HERE bring, bring ’n deel daarvan as ’n spesiale gawe vir die HERE. Gee dit vir Hom met jou eie hande as ’n vuuroffer vir die HERE. Bring die vet van die dier, saam met die bors, en gee dit vir die HERE deur dit voor Hom op te lig. Die priester sal dan die vet op die altaar verbrand, maar die bors sal aan Aäron en sy seuns behoort. Jy moet die regterboud van die maaltydoffer as ’n gawe aan die priester gee. Die regterboud moet altyd aan die priester wat die bloed sprinkel en die vet van die maaltydoffer offer, gegee word. Ek het die bors en die regterboud vir die priesters bepaal. Dit is hulle deel van die maaltydoffers wat die Israeliete bring. Dit is ’n vaste instelling. Dit is hulle deel. Van die vuuroffers wat vir die HERE gebring word, is dit opsy gesit vir Aäron en sy afstammelinge vanaf die tyd dat hulle aangewys is om die HERE as priesters te dien. Die HERE het die Israeliete beveel om hierdie dele vir die priesters te gee as hulle regmatige deel. Dit geld van die tyd dat die priesters gesalf is. Hierdie reëling geld ook vir die geslagte wat nog kom.” Dit is die instruksies vir die brandoffer, die graanoffer, die sonde-offer, die skuldoffer, die wydingsoffer en die maaltydoffer. Die HERE het hierdie instruksies vir Moses op Sinaiberg gegee toe hy die Israeliete beveel het om hulle offers vir die HERE in die Sinaiwoestyn te bring.