LEVITIKUS 23:15-21 - Compare All Versions

LEVITIKUS 23:15-21 AFR83 (Afrikaans 1983)

“Van die dag ná die sabbat af, die dag waarop julle die are as beweegoffer vir die Here aanbied, moet julle sewe volle weke tel. Die dag ná die sewende sabbat, op die vyftigste dag, moet julle vir die Here 'n graanoffer bring uit die pas geoeste graan. Elke gesin moet twee brode vir 'n beweegoffer na die heiligdom toe bring. Dit moet van drie kilogram meel met suurdeeg gebak wees en is 'n gawe aan die Here uit die eerste opbrengs van die oes. Behalwe al die brode moet daar ook sewe jaaroud lammers sonder liggaamsgebrek, 'n jong bul en twee ramme gebring word. Hulle moet as brandoffers aan die Here gebring word met die graanoffer en die drankoffers wat daarby behoort. Dit is 'n offer wat deur My, die Here, aanvaar word. Julle moet ook 'n bokram as sondeoffer bring en twee jaaroud lammers as maaltydoffer. Die priester moet die twee lammers saam met die brode uit die eerste opbrengs van die oes as beweegoffer vir die Here aanbied. Dit is 'n gewyde gawe aan die Here en dit kom die priesters toe. Op hierdie dag moet julle 'n gewyde byeenkoms hou. Niemand mag dan werk nie. Dit moet vir altyd 'n vaste instelling wees, waar julle of julle nageslag ook al woon.

LEVITIKUS 23:15-21 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

Dan moet julle tel van die dag ná die sabbat, van die dag af as julle die beweegoffergerf bring — sewe volle weke moet dit wees; tot die dag ná die sewende sabbat moet julle vyftig dae tel; dan moet julle 'n nuwe spysoffer aan die HERE bring. Julle moet uit jul woonplekke twee beweegbrode bring; dit moet van twee-tiendes van 'n efa fynmeel wees; gesuurd moet dit gebak word as eerstelinge aan die HERE. Julle moet ook by die brood sewe jaaroud lammers sonder gebrek en een jong bul en twee ramme bring. Hulle moet 'n brandoffer aan die HERE wees saam met die spysoffer en die drankoffers wat daarby behoort as vuuroffer van lieflike geur aan die HERE. En julle moet een bokram as sondoffer berei. Ook twee jaaroud lammers as dankoffer, en die priester moet hulle saam met die eerstelingsbrood as beweegoffer voor die aangesig van die HERE beweeg saam met die twee lammers; dié moet aan die HERE heilig wees, ten voordele van die priester. En julle moet op daardie selfde dag uitroep: 'n heilige vierdag moet dit vir julle wees; géén beroepswerk mag julle doen nie. Dit is 'n ewige insetting in al julle woonplekke vir julle geslagte.

LEVITIKUS 23:15-21 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

“Vanaf die dag ná die Sabbat, die dag waarop die gerf are opgelig is as ’n offer, moet julle sewe weke aftel. Hou aan tel tot die dag ná die sewende Sabbat, dit wil sê, 50 dae later, en bring dan ’n offer van graan wat pas geoes is vir die HERE. Bring van julle blyplekke af twee brode saam sodat dit as ’n offer in die teenwoordigheid van die HERE opgelig kan word. Hierdie brode moet gebak word van drie kilogram meel wat suurdeeg bevat. Dit sal ’n offer vir die HERE wees uit die eerste opbrengs van julle oes. Saam met die brood moet julle ook sewe jaaroud lammers sonder enige liggaamsgebrek, een bul en twee ramme as brandoffers vir die HERE bring. Hierdie brandoffers saam met die graanoffers en die drankoffers sal as ’n vuuroffer vir die HERE gebring word en sal aangenaam vir Hom wees. Dan moet julle ook een bokram as ’n sonde-offer en twee jaaroud skaapramme as ’n maaltydoffer bring. “Die priester sal hierdie offers in die teenwoordigheid van die HERE oplig, saam met die brode wat die eerste opbrengs van julle oes verteenwoordig. Hierdie offers is heilig vir die HERE en behoort aan die priesters. Daardie selfde dag moet julle ophou met werk en vir ’n heilige byeenkoms vergader. Dit is ’n permanente reël vir julle en moet nagekom word waar julle ook al woon.

LEVITIKUS 23:15-21 DB (Die Boodskap)

“Van die dag af nadat julle die eerste gerf graan kom offer het, moet julle ’n volle sewe weke aftel tot op die 50ste dag. Dit is die eerste dag na die sewende sabbat. Op daardie dag moet julle weer ’n offer vir die Here bring uit die graan wat so pas geoes is. Van oral waar julle woon, moet julle brood bring om vir die Here te offer. Dit moet van drie kilogram meel gebak wees. Hierdie keer moet julle dit bak met suurdeeg in. Dit is ’n offer vir die Here van die eerste opbrengs van die oes. Bo en behalwe die brood moet julle ’n offer vir die Here bring van sewe jaaroud lammers sonder foute, ’n jong bul en twee ramme. Saam met die offers uit die graan en die offer van wyn, is dit ’n offer wat vir die Here verbrand word waarvan Hy besonder baie hou. Julle moet ook ’n bokram vir die sonde offer en twee jaaroud lammers om saam met die Here te eet. Die dienaar sal die lammers saam met die brood uit die eerste opbrengs van die oes aan die Here opdra. Dit word aan die Here gewy. Sy dienaars mag ook daarvan eet. Presies op daardie 50ste dag moet julle vir die Here bymekaarkom. Julle moet ophou met al julle werk. Dit is ’n vaste afspraak elke jaar vir julle en julle nageslag, waar julle ook al woon.

LEVITIKUS 23:15-21 ABA (Bybel vir almal)

Daarna moet julle sewe weke tel, julle moet dit tel van die dag ná die Sabbatdag, die dag wanneer julle die gerf bring om 'n beweeg-offer te wees. Daarna moet julle 50 dae tel tot op die dag ná die sewende Sabbatdag, en dan moet julle 'n nuwe koring-offer bring. Julle moet uit julle woonplekke twee brode bring om beweeg-offers te wees. Julle moet elke brood bak van twee tiendes van 'n efa van die beste meel, en daar moet suurdeeg in die brood wees. Dit is 'n offer vir die Here, dit is van die eerste koring-oes. Saam met die brode moet julle sewe gesonde jaaroud ram-lammers bring en ook een jong bul en twee skaap-ramme, dit is 'n brand-offer vir die Here. Julle moet ook die koring-offers en die drank-offers bring wat daarby moet wees. Dit is vuur-offers, dit ruik lekker vir die Here. Julle moet ook 'n bok-ram bring om 'n sonde-offer te wees, en twee jaaroud ram-lammers om ete-offers te wees. Die priester moet hulle heen en weer beweeg saam met die brode van die eerste koring-oes. Saam met die twee lammers is dit 'n beweeg-offer voor die Here. Dit is aan die Here gewy, en die priester moet dit kry. Julle moet op dieselfde dag bymekaarkom en julle moet julleself wy. Julle mag nie die werk doen wat julle altyd doen nie. Julle en julle nageslag moet dit altyd so doen, oral waar julle woon.

LEVITIKUS 23:15-21 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

“ ‘ Vanaf die dag ná die Sabbat, vanaf die dag waarop julle 'n gerf as gewyde gawe bring, moet julle die dae aftel: Sewe volle weke moet dit wees. Julle moet vyftig dae tel tot op die dag ná die sewende Sabbat. Bring dan 'n nuwe graanoffer vir die HERE. Van die plekke waar julle woon, moet julle twee brode as gewyde gawe saambring, wat van twee tiendes van 'n efa gesifte meel berei moet word. Dit moet met suurdeeg gebak word as eerste opbrengs van die oes vir die HERE. Saam met die brood moet julle ook sewe jaaroud lammers sonder gebrek, een jong bul en twee ramme as offers aanbied. Dit moet brandoffers vir die HERE wees, saam met die bepaalde graan- en drankoffers – 'n offergawe, 'n geurige offer vir die HERE. Julle moet as 'n •reinigingsoffer een bokram offer, en twee jaaroud lammers as 'n •maaltydoffer. Die priester moet hulle – die twee lammers – saam met die brood van die oes se eerste opbrengs, voor die HERE as 'n gewyde gawe heen en weer beweeg. Dit is 'n heilige gawe aan die HERE wat die priester toekom. “ ‘Julle moet op daardie bepaalde dag 'n byeenkoms saamroep. Dit moet vir julle heilig wees; julle mag geen gewone take verrig nie. Dit is vir altyd 'n vaste voorskrif vir julle nageslagte, waar julle ook al woon.

LEVITIKUS 23:15-21 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

En julle moet vir julle tel van die môre ná die sabbat af, van die dag af dat julle die beweegoffergerf gebring het; sewe sabbatte moet voltooi wees: En tot die môre ná die sewende sabbat moet julle vyftig dae tel; en julle moet 'n nuwe spysoffer aan die HERE bring. Julle moet uit julle woonplekke twee beweegbrode van twee tiendes bring; dit moet fynmeel wees; hulle moet met suurdeeg gebak word; hulle is die eerstelinge vir die HERE. En julle moet saam met die brood sewe jaaroud lammers sonder gebrek en een jong bul en twee ramme berei; dit moet as brandoffer aan die HERE wees, saam met hulle spysoffer en hulle drankoffers, 'n offer wat gebring word deur vuur, van lieflike geur tot eer van die HERE. Dan moet julle een bokram as sondoffer offer en twee jaaroud lammers as dankoffer. En die priester moet dit saam met die brood van die eerstelinge as beweegoffer voor die aangesig van die HERE beweeg, saam met die twee lammers; dit moet aan die HERE heilig wees vir die priester. En julle moet op dieselfde dag uitroep, dat dit vir julle 'n heilige samekoms kan wees; geen dienswerk mag julle doen nie; dit moet 'n ewige insetting wees in al julle wonings in julle geslagte.