Levitikus 23:15-21

Levitikus 23:15-21 AFR20

“ ‘ Vanaf die dag ná die Sabbat, vanaf die dag waarop julle 'n gerf as gewyde gawe bring, moet julle die dae aftel: Sewe volle weke moet dit wees. Julle moet vyftig dae tel tot op die dag ná die sewende Sabbat. Bring dan 'n nuwe graanoffer vir die HERE. Van die plekke waar julle woon, moet julle twee brode as gewyde gawe saambring, wat van twee tiendes van 'n efa gesifte meel berei moet word. Dit moet met suurdeeg gebak word as eerste opbrengs van die oes vir die HERE. Saam met die brood moet julle ook sewe jaaroud lammers sonder gebrek, een jong bul en twee ramme as offers aanbied. Dit moet brandoffers vir die HERE wees, saam met die bepaalde graan- en drankoffers – 'n offergawe, 'n geurige offer vir die HERE. Julle moet as 'n •reinigingsoffer een bokram offer, en twee jaaroud lammers as 'n •maaltydoffer. Die priester moet hulle – die twee lammers – saam met die brood van die oes se eerste opbrengs, voor die HERE as 'n gewyde gawe heen en weer beweeg. Dit is 'n heilige gawe aan die HERE wat die priester toekom. “ ‘Julle moet op daardie bepaalde dag 'n byeenkoms saamroep. Dit moet vir julle heilig wees; julle mag geen gewone take verrig nie. Dit is vir altyd 'n vaste voorskrif vir julle nageslagte, waar julle ook al woon.