JOSUA 10:1-15 - Compare All Versions

JOSUA 10:1-15 AFR83 (Afrikaans 1983)

Koning Adoni-Sedek van Jerusalem het gehoor dat Josua Ai ingeneem en heeltemal vernietig het, dat hy met Ai en sy koning dieselfde gedoen het as wat hy met Jerigo en sy koning gedoen het, en ook dat die inwoners van Gibeon met Israel vrede gemaak het en by hulle woon. Die mense van Jerusalem het baie bang geword, want Gibeon was 'n belangrike stad, soos 'n stad met 'n koning, en groter as Ai, en al sy manne was dapper vegters. Koning Adoni-Sedek van Jerusalem het toe vir koning Hoham van Hebron, vir koning Piram van Jarmut, vir koning Jafia van Lakis en vir koning Debir van Eglon laat weet: “Kom help my dat ons Gibeon aanval; hulle het vrede gemaak met Josua en die Israeliete.” Die vyf Amoritiese konings, die konings van Jerusalem, Hebron, Jarmut, Lakis en Eglon, het toe elkeen met sy hele leër gekom, hulle manskappe teen Gibeon ontplooi en die aanval begin. Die manne van Gibeon het vir Josua in die kamp by Gilgal laat weet: “Moet ons tog nie nou in die steek laat nie, u moet gou hiernatoe kom en ons red. U moet ons help, want al die Amoritiese konings in die Bergland het 'n bondgenootskap teen ons gesluit.” Josua en al sy manskappe, al die dapper vegters, het toe uit Gilgal vertrek. Die Here het vir Josua gesê: “Moenie vir hulle bang wees nie, Ek gee hulle in jou mag oor. Nie een van hulle is teen jou bestand nie.” Josua het van Gilgal af die hele nag deur getrek en die Amoriete skielik oorval. Die Here het hulle paniekbevange laat word vir Israel. Israel het 'n groot slagting onder hulle aangerig in Gibeon, hulle agtervolg deur die pas na Bet-Goron toe en hulle bly doodmaak tot by Aseka en tot by Makkeda. Terwyl hulle op die vlug was vir Israel met die afdraand na Bet-Goron toe, het die Here van daar af tot by Aseka groot haelstene uit die lug op hulle laat val. Daar is meer van hulle deur die hael dood as wat deur die Israeliete met die swaard doodgemaak is. Dié dag toe die Here die Amoriete in die mag van die Israeliete gegee het, het Josua die Here om hulp gevra. Ten aanhore van Israel het hy gesê: “Son, staan stil in Gibeon, en maan, staan stil in Ajalonlaagte!” Die son het stilgestaan, die maan het nie geroer nie totdat Israel sy vyande verslaan het. Dit staan so geskrywe in die Boek van die Opregte. Die son het halfpad in die hemel bly staan. Byna 'n volle dag was hy nie haastig om onder te gaan nie. So 'n dag was daar nie voorheen of daarna nie, toe die Here vir 'n mens geluister het! Die Here het vir Israel die oorlog gevoer. Daarna is Josua, en die hele Israel saam met hom, terug na die kamp toe in Gilgal.

JOSUA 10:1-15 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

EN toe Adóni-Sedek, die koning van Jerusalem, hoor dat Josua Ai ingeneem en dit met die banvloek getref het — soos hy met Jérigo en sy koning gedoen het, so het hy met Ai en sy koning gedoen — en dat die inwoners van Gíbeon vrede gesluit het met Israel en in hulle midde was, het hulle baie bevrees geword, omdat Gíbeon 'n groot stad was, soos een van die koningstede, en omdat hy groter as Ai en al sy manne helde was. Adóni-Sedek, die koning van Jerusalem, stuur toe na Hoham, die koning van Hebron, en na Píream, die koning van Jarmut, en na Jáfia, die koning van Lagis, en na Debir, die koning van Eglon, om te sê: Trek na my toe op en help my, dat ons Gíbeon kan verslaan, omdat hy met Josua en met die kinders van Israel vrede gesluit het. So het dan die vyf Amoritiese konings vergader en opgetrek: die koning van Jerusalem, die koning van Hebron, die koning van Jarmut, die koning van Lagis, die koning van Eglon, hulle en al hul leërmagte; en hulle het Gíbeon beleër en daarteen geveg. Maar die manne van Gíbeon het na Josua gestuur, in die laer van Gilgal, om te sê: Trek u hande nie af van u dienaars nie, kom gou op na ons toe en verlos ons en help ons; want al die konings van die Amoriete wat die Gebergte bewoon, het hulle teen ons verenig. Daarop het Josua opgetrek uit Gilgal, hy en al die weerbare manskappe en al die dapper helde met hom saam. En die HERE het aan Josua gesê: Wees nie bevrees vir hulle nie, want Ek gee hulle in jou hand; niemand van hulle sal voor jou standhou nie. Toe Josua hulle skielik oorval — hy het die hele nag deur van Gilgal af opgetrek — het die HERE hulle in verwarring gebring voor Israel, en hy het 'n groot slag onder hulle geslaan by Gíbeon en hulle agtervolg op pad na die hoogte van Bet-Horon en hulle verslaan tot by Aséka en tot by Makkéda. En toe hulle voor Israel uit vlug terwyl hulle op die afdraand van Bet-Horon was, het die HERE groot haelstene uit die hemel op hulle gewerp tot by Aséka, sodat hulle gesterf het; daar het meer gesterf deur die haelstene as wat die kinders van Israel met die swaard doodgeslaan het. Toe het Josua met die HERE gespreek, op die dag dat die HERE die Amoriete aan die kinders van Israel oorgegee het, en voor die oë van Israel gesê: Son, staan stil in Gíbeon, en maan, in die dal van Ájalon! Toe staan die son stil en bly die maan staan totdat die volk hulle gewreek het op hul vyande. Staan dit nie geskrywe in die Boek van die Opregte nie? En die son het bly staan in die middel van die hemel en het hom nie gehaas om onder te gaan nie, omtrent 'n volle dag. En daar was geen dag soos hierdie een, voor hom en ná hom, dat die HERE na die stem van 'n man geluister het nie; want die HERE het vir Israel gestry. Daarop het Josua, en die hele Israel met hom saam, na die laer van Gilgal teruggekeer.

JOSUA 10:1-15 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Adoni-Sedek was die koning van Jerusalem. Hy het gehoor dat Josua Ai ingeneem en dit heeltemal verwoes het, net soos hy met Jerigo gemaak het. Hy het gehoor dat hy ook so gemaak het met sowel Ai se koning as dié van Jerigo. Hy het ook gehoor van die verdrag wat die Gibeoniete met Israel gesluit het en dat hulle nou tussen hulle woon. Hy en sy mense het baie bang geword. Gibeon was ’n sterk stad. Dit was groter as Ai en so sterk soos ’n stad met ’n koning. Sy soldate was dapper vegters. Koning Adoni-Sedek van Jerusalem het toe na verskillende konings boodskappe gestuur: Hoham van Hebron, Piram van Jarmut, Jafia van Lakis en Debir van Eglon. Hy het hulle laat weet: “Kom en help my dat ons Gibeon kan gaan aanval. Hulle het ’n verdrag gesluit met Josua en die Israeliete.” Die vyf Amoritiese konings, dié van Jerusalem, Hebron, Jarmut, Lakis en Eglon, het toe hulle magte gekombineer. Hulle het gaan kamp opslaan by Gibeon om teen hom oorlog te maak. Die Gibeoniete het vir Josua in die kamp by Gilgal laat weet: “Moenie nou u dienaars in die steek laat nie. Kom tog vinnig hiernatoe om ons te red. Kom help ons. Al die Amoritiese konings wat in die heuwelgebied bly, het teen ons saamgespan.” Josua en al sy bekwame soldate het uit Gilgal opgeruk. “Jy hoef nie vir hulle bang te wees nie,” het die HERE vir Josua gesê. “Ek gee hulle in jou mag oor. Nie een van hulle sal teen jou kan standhou nie.” Nadat Josua die hele nag deur van Gilgal af getrek het, het hy ’n verrassingsaanval op die Amoriete geloods. Die HERE het hulle paniekbevange vir die Israeliete gemaak. Israel het hulle by Gibeon verpletterend verslaan. Hulle het die vyand teen die hoogte by Bet-Goron uitgedryf en hulle doodgemaak tot by Aseka en by Makkeda. Terwyl die Amoriete nog aan die vlug was teen die hoogte uit na Bet-Goron toe, het die HERE hulle al die pad van daar af tot by Aseka met groot haelstene uit die lug neergevel. Daar is baie meer dood van die hael as wat die Israeliete met die swaard doodgemaak het. Op die dag dat die HERE vir Israel oorwinning gegee het oor die Amoriete, het Josua die HERE om hulp gevra. Voor almal het hy by die HERE gebid: “Laat die son tog stilstaan bo Gibeon. Laat die maan stilstaan oor die Ajalonlaagte!” Die son het gaan stilstaan. Die maan het net daar bly hang totdat Israel sy vyande uitgewis het. Dit is soos dit opgeteken staan in Die boek van die Opregte. Die son het halfpad in die lug vasgesteek. Hy was nie haastig om op sy gewone tyd onder te gaan nie. So ’n dag was daar nog nooit voorheen en nooit daarna nie. Die HERE het geluister na wat ’n mens vir Hom vra! Die HERE het aan Israel se kant geveg. Josua en almal saam met hom is toe terug na die kamp in Gilgal.

JOSUA 10:1-15 DB (Die Boodskap)

Koning Adoni-Sedek van Jerusalem het gehoor dat Josua Ai verower en heeltemal vernietig het en dat hy die koning van Ai doodgemaak het, net soos hy met Jerigo en sy koning gedoen het. Hy het ook gehoor dat die Gibeoniete vrede gemaak het met die Israeliete en nou by hulle bly. Dit het die mense van Jerusalem baie bang gemaak, want Gibeon was ’n groot stad net soos enigeen van die ander koninklike stede; dit was selfs groter as Ai en die soldate van dié stad was baie goeie vegters. Koning Adoni-Sedek van Jerusalem stuur toe die volgende boodskap aan koning Hoham van Hebron, koning Piram van Jarmut, koning Jafia van Lakis en koning Debir van Eglon: “Kom help my om Gibeon aan te val en te vernietig, want hulle het ’n vredesverdrag met Josua en die Israeliete gesluit.” Toe het hierdie vyf Amoritiese konings, die konings van Jerusalem, Hebron, Jarmut, Lakis en Eglon, hulle magte saamgesnoer en Gibeon aangeval. Die mense van Gibeon het dadelik boodskappers na Josua toe gestuur waar hy in die kamp by Gilgal was en vir hom gesê: “Moet julle dienaar asseblief nie nou in die steek laat nie! Kom gou! Kom red ons! Al die Amoritiese konings van die berggebiede het saamgespan en ons aangeval!” Josua en al sy soldate het hulle dadelik te hulp gesnel, hy en sy soldate en al die dapper manne. Die Here het vir Josua gesê: “Moenie vir hulle bang wees nie. Die oorwinning is joune. Nie een van hulle sal teen jou kan bly staan nie.” Josua het die Amoriete onkant gevang, want hy en sy soldate het die hele nag deur getrek van Gilgal af. Toe die Amoriete die Israelitiese soldate sien, het die Here hulle paniekbevange gemaak. Die Israeliete het hulle daar by Gibeon verslaan. Toe hulle op die vlug slaan, het die Israeliete hulle agternagesit deur die bergpas by Bet-Goron en hulle bly uitroei tot by Aseka en Makkeda. Terwyl die Amoriete langs die bergpas by Bet-Goron af vir die Israeliete gevlug het, het die Here groot haelstene uit die lug op hulle laat neerreën. Hierdie hael het aangehou tot by Aseka en meer van hulle doodgemaak as Israel se soldate. Op die dag waarop die Here aan Israel die oorwinning oor die Amoriete gegee het, het Josua voor die manskappe vir die Here hulp gevra en gesê: “Son, staan asseblief stil oor Gibeon en maan, oor die vallei van Ajalon.” Toe het die son en maan nie beweeg nie totdat die volk hulle vyande verslaan het. So is dit ook opgeteken in die Boek van die opregte. Die son het in die middel van die hemel bly staan, vir byna ’n volle dag, en nie soos op ’n gewone dag ondergegaan nie. Dit het nooit voor hierdie dag of ooit weer daarna gebeur nie. Maar op daardie dag het die Here na ’n mens se versoek geluister en dit gedoen omdat Hy vir Israel die oorwinning wou gee. Hierna is Josua en sy soldate terug na die kamp toe in Gilgal.

JOSUA 10:1-15 ABA (Bybel vir almal)

Koning Adoni-Sedek van Jerusalem het gehoor wat gebeur het. Hy het gehoor dat Josua die stad Ai oorwin het en dat hy die stad heeltemal verwoes het. Hy het gehoor dat Josua met Ai en sy koning dieselfde gedoen het wat hy gedoen het met Jerigo en sy koning. Hy het ook gehoor dat die mense van Gibeon vrede gemaak het met die Israeliete, en dat die Israeliete tussen die mense van Gibeon gaan woon het. Die mense van Jerusalem het toe baie bang geword, want Gibeon was 'n groot stad. Dit was soos die stad van 'n koning, dit was groter as die stad Ai, en al die manne van Gibeon kon goed oorlog maak. Koning Adoni-Sedek van Jerusalem het 'n boodskap gestuur na koning Hoham van die stad Hebron, koning Piram van die stad Jarmut, koning Jafia van die stad Lakis en koning Debir van die stad Eglon. Hy het gevra: “Julle moet my kom help, ons moet Gibeon aanval, want daardie mense het vrede gemaak met Josua en die Israeliete.” Die vyf konings van die Amoriete het toe bymekaargekom, dit was die konings van Jerusalem, Hebron, Jarmut, Lakis en Eglon. Hulle en hulle leërs het hulle tente opgeslaan by Gibeon en hulle het begin om oorlog te maak teen die stad. Die mense van Gibeon het toe 'n boodskap gestuur na Josua in die kamp by Gilgal en hulle het gevra: “Jy moenie vir ons los nie, jy moet gou na ons toe kom en jy moet ons red en help, want al die konings van die Amoriete wat in die berge woon, het bymekaargekom om teen ons oorlog te maak.” Josua het van Gilgal gegaan en al die manne wat kon oorlog maak, het saam met hom gegaan, almal wat goed kon veg. Die Here het vir Josua gesê: “Jy moenie bang wees vir hulle nie, want Ek sal jou laat wen teen hulle, nie een van hulle sal iets teen jou kan doen nie.” Josua het weggegaan van Gilgal. Hy het die hele nag geloop en hy het by die Amoriete gekom toe hulle dit nie verwag het nie. Die Here het die Amoriete laat vlug vir die Israeliete, en die Israeliete het baie Amoriete daar by Gibeon doodgemaak. Hulle het die Amoriete gevolg en gejaag op die pad oor die berg na die stad Bet-Goron. Hulle het aangehou om die Amoriete te volg en dood te maak tot by die stede Aseka en Makkeda. Die Amoriete het weggevlug van die Israeliete, en toe die Amoriete op die pad was van die berg na die stad Bet-Goron, het die Here groot haelstene laat val op hulle. Baie Amoriete het gesterf, meer Amoriete as wat die Israeliete met hulle swaarde doodgemaak het. Josua het daardie dag met die Here gepraat, die dag toe die Here die Israeliete laat wen het teen die Amoriete. Die Israeliete het gehoor toe Josua sê: “Son, jy moet stilstaan by die stad Gibeon, maan, jy moet stilstaan in die Ajalon-vallei.” Die son en die maan het toe stilgestaan totdat die Israeliete hulle vyande oorwin het. Dit is so geskryf in die Boek van Jasar: Die son het stilgestaan hoog in die lug, die son het omtrent 'n hele dag lank nie ondergegaan nie. Daar was nog nooit 'n dag soos hierdie dag nie, nie voorheen nie en ook nie later nie. Die Here het gedoen wat 'n mens vir Hom gevra het, want die Here het self oorlog gemaak, sodat die Israeliete hulle vyande kon oorwin. Josua en al die manne van Israel het teruggegaan na die kamp by die stad Gilgal.

JOSUA 10:1-15 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Toe Adoni-Sedek, die koning van Jerusalem, hoor dat Josua Ai ingeneem en dit met die banvloek getref het, dat hy met Ai en sy koning gedoen het wat hy met Jerigo en sy koning gedoen het, en dat die inwoners van Gibeon met Israel vrede gesluit het en tussen hulle was, het hy vreesbevange geword. Gibeon was immers 'n groot stad, soos een van die koningstede – ja, dit was groter as Ai, en al sy manne was helde. Adoni-Sedek, die koning van Jerusalem, stuur toe 'n boodskap na Hoham, die koning van Hebron, na Piram, die koning van Jarmut, na Jafia, die koning van Lagis, en na Debir, die koning van Eglon met die woorde: “Trek op na my toe, en help my dat ons Gibeon aanval; want hulle het met Josua en die Israeliete vrede gesluit.” Die vyf konings van die Amoriete het toe bymekaargekom en opgetrek – die koning van Jerusalem, die koning van Hebron, die koning van Jarmut, die koning van Lagis en die koning van Eglon – hulle met al hulle leërs. Hulle het Gibeon beleër en teen die stad oorlog gevoer. Die manne van Gibeon het hierdie boodskap na Josua gestuur, na die kamp by Gilgal: “Moet u dienaars nie in die steek laat nie! Trek gou na ons op! Red ons en help ons! Want al die konings van die Amoriete wat in die bergland woon, het teen ons saamgetrek.” Josua het toe van Gilgal af opgetrek, hy en al die weerbare manskappe saam met hom, al die dapper krygers. Die HERE het vir Josua gesê: “Moenie vir hulle bang wees nie, want Ek gee hulle in jou hand. Niemand van hulle sal voor jou staande bly nie.” Josua het hulle verras; hy het die hele nag vanaf Gilgal getrek. Die HERE het hulle verward laat raak voor Israel, en Josua het hulle 'n groot nederlaag toegedien by Gibeon. Hy het hulle agtervolg in die rigting van die opdraande by Bet-Goron, en hulle afgemaai tot by Aseka en Makkeda. Terwyl hulle op vlug was voor Israel teen die afdraande by Bet-Goron, het die HERE groot klippe uit die hemel op hulle gewerp, tot by Aseka, sodat hulle gesterf het. Dié wat deur die haelstene gesterf het, was meer as dié wat deur die Israeliete met die swaard doodgemaak is. Dit was in dié tyd dat Josua met die HERE gepraat het, die dag toe die HERE die Amoriete aan die Israeliete oorgelewer het. Hy het, terwyl Israel toekyk, gesê: “Son, staan stil in Gibeon, en maan, in die vallei van Ajalon! ” En die son het stilgestaan en die maan het gaan staan, totdat 'n nasie wraak geneem het op sy vyande. Staan dit nie geskryf in die Boekrol van die Opregte nie? Ja, die son het gaan staan in die middel van die hemelruim, en hy was ongeveer 'n volle dag nie haastig om onder te gaan nie. Daar was nooit tevore of daarna 'n dag soos hierdie nie, waarop die HERE geluister het na die stem van 'n mens. Ja, die HERE het vir Israel geveg. Josua en die hele Israel saam met hom het na die kamp in Gilgal teruggekeer.

JOSUA 10:1-15 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

En dit het gebeur toe Adonisédek, die koning van Jerusalem, hoor hoe Josua Ai ingeneem en met die banvloek getref het; soos hy met Jerigo en haar koning gedoen het, so het hy met Ai en haar koning gedoen; en hoe die inwoners van Gíbeon vrede gemaak het met Israel en onder hulle was; Dat hulle baie bang was, omdat Gíbeon 'n groot stad was, soos een van die koninklike stede, en omdat dit groter was as Ai, en al sy manne was magtiges. Daarom het Adonisédek, die koning van Jerusalem, na Hoham, die koning van Hebron, en na Piram, die koning van Jarmut, en na Jafia, die koning van Lagis, en na Debir, die koning van Eglon, gestuur om te sê: Klim op na my toe en help my, dat ons Gíbeon kan verslaan, want dit het vrede gesluit met Josua en met die kinders van Israel. Daarom het die vyf konings van die Amoriete, die koning van Jerusalem, die koning van Hebron, die koning van Jarmut, die koning van Lagis, die koning van Eglon, bymekaargekom en opgetrek, hulle en al hulle leërs, en laer opgeslaan voor Gibeon en daarteen oorlog gevoer. En die manne van Gíbeon het na Josua na die laer na Gilgal gestuur om te sê: Moenie jou hand van u dienaars aftrek nie; kom gou na ons toe en verlos ons en help ons, want al die konings van die Amoriete wat op die berge woon, het teen ons vergader. En Josua het van Gilgal af opgevaar, hy en al die krygsmanne saam met hom en al die dapper helde. Toe sê die HERE vir Josua: Wees nie bevrees vir hulle nie, want Ek het hulle in jou hand gegee; daar mag geen man van hulle voor jou staan nie. Josua het dan skielik na hulle gekom en die hele nag van Gilgal af opgetrek. En die HERE het hulle voor Israel in beroering gebring en hulle by Gíbeon met 'n groot slagting verslaan en hulle agtervolg op die pad wat opgaan na Bet-Horon, en hulle verslaan tot by Aséka en tot by Makkeda. En terwyl hulle voor Israel uit vlug en op pad was na Bet-horon, het die HERE groot klippe uit die hemel op hulle neergegooi na Aséka toe, en hulle het gesterwe; die kinders van Israel het met die swaard gedood. Toe het Josua met die HERE gespreek op die dag toe die HERE die Amoriete aan die kinders van Israel oorgegee het, en hy het voor die oë van Israel gesê: Son, staan stil op Gíbeon; en jy, maan, in die dal Ajalon. En die son het stilgestaan, en die maan het gebly totdat die volk hulle op hulle vyande gewreek het. Is dit nie in die boek Jasher geskrywe nie? En die son het stilgestaan in die middel van die hemel en het hom omtrent 'n hele dag nie gehaas om onder te gaan nie. En daar was geen dag soos dié voor hom of daarna dat die HERE na die stem van 'n man geluister het nie; want die HERE het vir Israel geveg. En Josua het teruggekeer, en die hele Israel saam met hom, na die laer na Gilgal.