JOSUA 10

10
Israel help Gibeon
1Adoni-Sedek was die koning van Jerusalem. Hy het gehoor dat Josua Ai ingeneem en dit heeltemal verwoes#10:1 Of met die banvloek getref. het, net soos hy met Jerigo gemaak het. Hy het gehoor dat hy ook so gemaak het met sowel Ai se koning as dié van Jerigo. Hy het ook gehoor van die verdrag wat die Gibeoniete met Israel gesluit het en dat hulle nou tussen hulle woon. 2Hy en sy mense het baie bang geword. Gibeon was ’n sterk stad. Dit was groter as Ai en so sterk soos ’n stad met ’n koning. Sy soldate was dapper vegters. 3Koning Adoni-Sedek van Jerusalem het toe na verskillende konings boodskappe gestuur: Hoham van Hebron, Piram van Jarmut, Jafia van Lakis en Debir van Eglon. Hy het hulle laat weet: 4“Kom en help my dat ons Gibeon kan gaan aanval. Hulle het ’n verdrag gesluit met Josua en die Israeliete.” 5Die vyf Amoritiese konings, dié van Jerusalem, Hebron, Jarmut, Lakis en Eglon, het toe hulle magte gekombineer. Hulle het gaan kamp opslaan by Gibeon om teen hom oorlog te maak.
6Die Gibeoniete het vir Josua in die kamp by Gilgal laat weet: “Moenie nou u dienaars in die steek laat nie. Kom tog vinnig hiernatoe om ons te red. Kom help ons. Al die Amoritiese konings wat in die heuwelgebied bly, het teen ons saamgespan.”
7Josua en al sy bekwame soldate het uit Gilgal opgeruk. 8“Jy hoef nie vir hulle bang te wees nie,” het die Here vir Josua gesê. “Ek gee hulle in jou mag oor. Nie een van hulle sal teen jou kan standhou nie.”
9Nadat Josua die hele nag deur van Gilgal af getrek het, het hy ’n verrassingsaanval op die Amoriete geloods. 10Die Here het hulle paniekbevange vir die Israeliete gemaak. Israel het hulle by Gibeon verpletterend verslaan. Hulle het die vyand teen die hoogte by Bet-Goron uitgedryf en hulle doodgemaak tot by Aseka en by Makkeda. 11Terwyl die Amoriete nog aan die vlug was teen die hoogte uit na Bet-Goron toe, het die Here hulle al die pad van daar af tot by Aseka met groot haelstene uit die lug neergevel. Daar is baie meer dood van die hael as wat die Israeliete met die swaard doodgemaak het.
12Op die dag dat die Here vir Israel oorwinning gegee het oor die Amoriete, het Josua die Here om hulp gevra. Voor almal het hy by die Here gebid:
“Laat die son tog stilstaan
bo Gibeon.
Laat die maan stilstaan
oor die Ajalonlaagte!”
13Die son het gaan stilstaan. Die maan het net daar bly hang totdat Israel sy vyande uitgewis het. Dit is soos dit opgeteken staan in Die boek van die Opregte#10:13 Die boek van Jasjar.. Die son het halfpad in die lug vasgesteek. Hy was nie haastig om op sy gewone tyd onder te gaan nie. 14So ’n dag was daar nog nooit voorheen en nooit daarna nie. Die Here het geluister na wat ’n mens vir Hom vra! Die Here het aan Israel se kant geveg.
Josua stel die vyf Amoritiese konings tereg
15Josua en almal saam met hom is toe terug na die kamp in Gilgal. 16Die vyf konings het op die vlug geslaan. Hulle het in ’n grot in Makkeda gaan wegkruip. 17Josua het berig gekry dat hulle ontdek is waar hulle in die grot van Makkeda wegkruip. 18Hy het opdrag gegee: “Rol groot klippe voor die bek van die grot. Sit wagte daar om dit op te pas. 19Julle ander moenie daar bly nie. Agtervolg die vyand. Vel hulle neer. Moenie toelaat dat hulle by hulle stede uitkom nie. Die Here julle God gee hulle oor aan julle.”
20Josua en die Israeliete het hulle heeltemal uitgewis. ’n Klein klompie van hulle het oorleef en na die versterkte stede ontvlug. 21Toe hulle klaar was, is al die Israeliete veilig terug na Josua by die kamp in Makkeda. Niemand het iets verder oor die Israeliete te sê gehad nie.
22Josua het toe opdrag gegee: “Maak die grot se bek oop. Bring die vyf konings uit die grot uit na my toe.” 23Hulle het so gemaak. Hulle het die vyf konings uit die grot na Josua toe gebring. Dit was die konings van Jerusalem, Hebron, Jarmut, Lakis en Eglon. 24Nadat hulle die konings na Josua toe gebring het, het hy al die Israeliete bymekaargeroep. Hy sê toe vir die offisiere wat saam met hom gegaan het: “Kom hier, kom sit julle voete op die konings se nekke.” Hulle het dit toe gedoen. 25Hy het voortgegaan: “Julle moenie bang wees nie. Moenie ontsteld wees nie. Julle moet sterk en dapper wees. Dit is soos die Here gaan maak met al julle vyande teen wie julle moet oorlog maak.”
26Josua het daarna die vyf konings doodgemaak. Hy het elkeen aan ’n boom laat ophang. Hulle het aan daardie vyf bome bly hang tot skemeraand toe. 27Terwyl die son ondergaan, het Josua beveel om hulle liggame van die bome af te haal. Hulle het dit in die grot gaan gooi waar die konings weggekruip het. Hulle het weer klippe voor die bek van die grot gerol. Dit is vandag nog daar.
Josua se suidelike veldslae
28Daardie selfde dag nog het Josua ook Makkeda ingeneem. Hy het die koning en elkeen wat in die stad bly, heeltemal uitgewis. Daar het nie ’n mens daarin oorgebly nie. Hy het met Makkeda se koning net so gemaak soos met die koning van Jerigo.
29Josua en almal by hom het van Makkeda af opgetrek teen Libna om daarteen oorlog te maak. 30Die Here het ook hierdie stad met sy koning aan Israel gegee. Josua het al die mense wat in die stad gebly het, doodgemaak. Nie een het oorleef nie. Josua het met Libna se koning gedoen wat hy met die koning van Jerigo gedoen het.
31Van Libna af is Josua en al die Israeliete na Lakis toe. Hy het dit beleër en daarteen geveg. 32Die Here het ook Lakis in Israel se hand oorgegee. Hulle het op die tweede dag die stad ingeneem en al wat daarin bly, doodgemaak, net soos hulle met Libna gemaak het. 33Horam, die koning van Geser, het Lakis gaan help. Josua het hom en sy manskappe egter verslaan. Nie een het vrygekom nie.
34Van Lakis af is Josua saam met al die Israeliete na Eglon toe. Hy het die stad beleër om daarteen te veg. 35Op dieselfde dag nog het hulle die stad ingeneem en al wat daarin leef, doodgemaak. Hy het daardie dag die stad uitgewis net soos hy met Lakis gedoen het.
36Van Eglon af het hulle Hebron gaan aanval. 37Hulle het die stad verower en die koning, asook die inwoners van al die dorpies rondom, doodgemaak. Niemand het oorleef nie. Net soos Eglon het Josua Hebron en alles wat daarin was, heeltemal uitgeroei.
38Daarna het Josua saam met al die Israeliete by hom teruggedraai na Debir om dit aan te val. 39Hy het die stad, sy koning en al die dorpies rondom verower. Hy het almal wat daar gebly het, doodgemaak. Nie ’n siel daarin het oorleef nie. Hy het met Debir en sy koning gedoen soos hy met Hebron en Libna en sy koning gedoen het.
40So het Josua die hele gebied ingeneem: die heuwelgebied, die Negevwoestyn, die kusvlakte en die hange tussenin met al hulle konings. Niemand het vrygekom nie. Hy het alles wat leef met die banvloek uitgewis, net soos die Here, die God van Israel, beveel het. 41Josua het hulle vernietig van Kades-Barnea af tot by Gasa, en die hele gebied van Gosen af tot by Gibeon. 42Hy het al hierdie gebiede en hulle konings in een enkele veldtog oorwin. Die Here, die God van Israel, het saam met Israel geveg.
43Josua en al die Israeliete saam met hom is daarna terug na die kamp in Gilgal.

Tans Gekies:

JOSUA 10: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid