Josua 10:1-15

Josua 10:1-15 AFR20

Toe Adoni-Sedek, die koning van Jerusalem, hoor dat Josua Ai ingeneem en dit met die banvloek getref het, dat hy met Ai en sy koning gedoen het wat hy met Jerigo en sy koning gedoen het, en dat die inwoners van Gibeon met Israel vrede gesluit het en tussen hulle was, het hy vreesbevange geword. Gibeon was immers 'n groot stad, soos een van die koningstede – ja, dit was groter as Ai, en al sy manne was helde. Adoni-Sedek, die koning van Jerusalem, stuur toe 'n boodskap na Hoham, die koning van Hebron, na Piram, die koning van Jarmut, na Jafia, die koning van Lagis, en na Debir, die koning van Eglon met die woorde: “Trek op na my toe, en help my dat ons Gibeon aanval; want hulle het met Josua en die Israeliete vrede gesluit.” Die vyf konings van die Amoriete het toe bymekaargekom en opgetrek – die koning van Jerusalem, die koning van Hebron, die koning van Jarmut, die koning van Lagis en die koning van Eglon – hulle met al hulle leërs. Hulle het Gibeon beleër en teen die stad oorlog gevoer. Die manne van Gibeon het hierdie boodskap na Josua gestuur, na die kamp by Gilgal: “Moet u dienaars nie in die steek laat nie! Trek gou na ons op! Red ons en help ons! Want al die konings van die Amoriete wat in die bergland woon, het teen ons saamgetrek.” Josua het toe van Gilgal af opgetrek, hy en al die weerbare manskappe saam met hom, al die dapper krygers. Die HERE het vir Josua gesê: “Moenie vir hulle bang wees nie, want Ek gee hulle in jou hand. Niemand van hulle sal voor jou staande bly nie.” Josua het hulle verras; hy het die hele nag vanaf Gilgal getrek. Die HERE het hulle verward laat raak voor Israel, en Josua het hulle 'n groot nederlaag toegedien by Gibeon. Hy het hulle agtervolg in die rigting van die opdraande by Bet-Goron, en hulle afgemaai tot by Aseka en Makkeda. Terwyl hulle op vlug was voor Israel teen die afdraande by Bet-Goron, het die HERE groot klippe uit die hemel op hulle gewerp, tot by Aseka, sodat hulle gesterf het. Dié wat deur die haelstene gesterf het, was meer as dié wat deur die Israeliete met die swaard doodgemaak is. Dit was in dié tyd dat Josua met die HERE gepraat het, die dag toe die HERE die Amoriete aan die Israeliete oorgelewer het. Hy het, terwyl Israel toekyk, gesê: “Son, staan stil in Gibeon, en maan, in die vallei van Ajalon! ” En die son het stilgestaan en die maan het gaan staan, totdat 'n nasie wraak geneem het op sy vyande. Staan dit nie geskryf in die Boekrol van die Opregte nie? Ja, die son het gaan staan in die middel van die hemelruim, en hy was ongeveer 'n volle dag nie haastig om onder te gaan nie. Daar was nooit tevore of daarna 'n dag soos hierdie nie, waarop die HERE geluister het na die stem van 'n mens. Ja, die HERE het vir Israel geveg. Josua en die hele Israel saam met hom het na die kamp in Gilgal teruggekeer.