JOSUA 1:1-9

JOSUA 1:1-9 Die Boodskap (DB)

Na die dood van Moses, die groot dienaar van die Here, het die Here met Josua kom praat. Hy was die seun van Nun. Josua was vroeër ook Moses se assistent. Die Here het vir hom gesê: “Noudat my dienaar Moses dood is, moet jy Israel deur die Jordaan na die land toe lei wat Ek self aan hulle gaan gee. Ek maak aan jou dieselfde belofte wat ek vroeër aan Moses gemaak het: elke plek waardeur julle trek, sal Ek aan julle gee. Die grense van julle land sal strek van die woestyn in die suide tot by die Libanonberge in die noorde, en van die Eufraatrivier in die ooste deur die gebied van die Hetiete tot by die Middellandse See in die weste. Jou hele lewe lank sal niemand jou kan oorwin nie. Ek sal by jou wees soos Ek by Moses was. Ek sal jou nooit in die steek laat of jou alleen los nie. Wees sterk, vertrou My blindelings. Jy is die leier wat hierdie volk die land moet inlei wat Ek met ’n plegtige belofte aan hulle voorouers beloof het. Wees sterk. Vertrou My met alles in jou. Maak seker dat jy al die wette nakom wat Moses vir jou gegee het. Gehoorsaam selfs die heel kleinste voorskrifte, dan sal jy suksesvol wees in alles wat jy ook al aanpak. Jy moet hierdie wetboek van vroeg tot laat lees. Dink dag en nag daaroor na en maak seker dat jy alles doen wat daarin geskryf staan. Dan sal dit met jou goed gaan. Dan sal jy sukses behaal. Onthou, dit is Ek self wat jou hierdie opdrag gee: wees sterk en vertrou My met alles in jou! Moenie vir iets of iemand skrik of bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou waar jy ook al gaan.”

JOSUA 1:1-9 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Ná die dood van Moses, die dienskneg van die HERE, het die HERE vir Josua, seun van Nun, Moses se helper, gesê: “Moses, my dienskneg, is dood. Daarom, maak nou gereed om hierdie Jordaan oor te steek, jy en hierdie hele volk, na die land wat Ek aan hulle, aan die Israeliete, gaan gee. Elke plek waarop julle voete trap – aan julle gee Ek dit soos Ek aan Moses beloof het. Van die woestyn en die Libanon af tot by die groot rivier, die Eufraat, die hele land van die Hetiete tot by die Groot See in die weste, sal julle gebied wees. Solank jy leef, sal niemand voor jou kan standhou nie. Soos Ek by Moses was, sal Ek by jou wees. Ek sal jou nie in die steek laat en jou nie verlaat nie. Wees dapper en sterk, want jy moet hierdie volk die land in besit laat neem wat Ek met 'n eed aan hulle voorvaders beloof het om aan hulle te gee. Wees net baie dapper en sterk, sodat jy die hele wet wat Moses, my dienskneg, jou beveel het, nougeset uitvoer. Moenie links of regs daarvan afwyk nie, sodat jy sukses kan behaal oral waar jy gaan. Hierdie •boekrol van die wet mag nie uit jou mond verdwyn nie. Jy moet dit dag en nag mymerend prewel, sodat jy alles wat daarin geskryf is, nougeset kan nakom; want dan sal jy voorspoedig wees op jou pad; dan sal jy sukses behaal. Het Ek jou nie beveel, ‘Wees dapper en sterk’ nie? Moenie paniekbevange wees nie en moet jou nie laat afskrik nie, want die HERE jou God is by jou, oral waar jy gaan.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid