JOSUA 1:1-9

JOSUA 1:1-9 NLV

Moses, die dienaar van die HERE, is dood. Daarna het die HERE met Josua, seun van Nun, gepraat. Hy was vroeër die assistent van Moses. Die HERE het vir hom gesê: “Noudat my dienaar Moses dood is, moet jy gereedmaak om my volk deur die Jordaanrivier te lei na die land toe wat Ek vir die Israeliete gee. Soos Ek vir Moses belowe het, sal Ek elke plek waar julle kom vir julle gee. Alles sal julle grond wees, van die Negevwoestyn af tot by die Libanonberge, die hele gebied van die Hetiete, van die Eufraatrivier af tot by die Middellandse See in die weste. “Niemand sal teen jou bestand wees solank jy leef nie. Soos Ek by Moses was, so sal Ek ook saam met jou wees. Ek sal jou nooit in die steek laat nie. Ek sal jou nooit los nie. “Wees sterk en dapper. Jy is die een wat hierdie volk moet lei om die land in besit te neem. Ek het dit met ’n eed aan hulle voorouers beloof. “Wees sterk en baie dapper! Voer al die opdragte uit wat Ek vir my dienaar Moses gegee het. Moenie links of regs daarvan afwyk nie. Jy sal dan suksesvol wees in alles wat jy doen. Hou hierdie wetboek altyd by jou. Dink dag en nag daaroor na sodat jy alles kan doen wat daarin geskryf is. Jy sal dan sukses behaal op jou pad. Jy sal voorspoedig wees. My opdrag aan jou is dat jy sterk en dapper moet wees. Moenie bang of huiwerig wees nie. Die HERE jou God is saam met jou oral waar jy gaan.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid