Josua 1:1-9

Josua 1:1-9 ABA

Moses, die dienaar van die Here, het gesterf. Josua seun van Nun het vir Moses gewerk. Die Here het vir Josua gesê: “My dienaar Moses is dood. Daarom moet jy nou gereedmaak, jy en hierdie hele volk, en julle moet oor die Jordaan-rivier gaan na die land wat Ek vir hulle, die Israeliete, gee. Ek het dit vir Moses belowe, en daarom sal Ek vir julle elke plek gee waar julle sal kom, van die woestyn en die Libanon-berg tot by die groot rivier, die Eufraat. Die hele land van die Hetiete tot by die Groot See in die weste sal julle land word. So lank soos jy lewe, sal niemand jou kan oorwin nie. Ek sal by jou wees, soos Ek by Moses was. Ek sal jou nie los nie, Ek sal altyd by jou wees. Jy moet sterk en dapper wees, want jý sal hierdie volk lei om die land te vat wat Ek vir hulle voorvaders belowe het. Ja, jy moet sterk en dapper wees, jy moet seker maak dat jy alles doen wat die wette sê, die wette wat my dienaar Moses vir jou gegee het. Jy moet presies so doen, dan sal jy slaag met alles wat jy doen. Jy moet aanhou om te lees wat in hierdie wetboek staan, jy moet elke dag en elke nag daaroor dink, dan sal jy seker maak dat jy alles doen wat daarin geskryf is. Jy sal kan doen wat jy moet doen en jy sal slaag. Ek het vir jou gesê jy moet sterk en dapper wees. Jy moenie bang wees nie, jy moet vir niks skrik nie, want jou God die Here sal by jou wees, oral waar jy gaan.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid