JOB 14:7-13
JOB 14:7-13 Bybel vir almal (ABA)
Wanneer iemand 'n boom afgekap het, dan kan 'n mens hoop dat die boom weer sal groei en nie sal doodgaan nie. Sy wortels in die grond word oud, dit lyk of hulle droog en dood is, maar wanneer die wortels water kry, dan groei die boom weer, hy kry nuwe takkies. Maar 'n mens word swak, hy sterf en hy is nie meer daar nie. Water raak weg uit die see, en 'n rivier word droog. So sterf 'n mens en hy lewe nie weer nie, hy word nie weer wakker nie, niemand sal hom wakker maak nie, so lank soos wat die hemel daar is. Ek wens dat U my wil wegsteek in die doderyk en dat U my daar wil hou totdat U nie meer kwaad is nie. Ek wens dat U wil besluit hoe lank ek daar moet bly en dat U dan weer aan my sal dink.
JOB 14:7-13 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Want vir 'n boom is daar verwagting: as dit afgekap word, loop dit weer uit en sy loot ontbreek nie. As sy wortel oud word in die aarde en sy stam sterf in die stof — van die reuk van die water spruit dit weer uit, en dit maak 'n tak soos 'n jong plantjie. Maar 'n man sterwe en is magteloos; ja, 'n mens blaas die asem uit en — waar is hy? Die waters verdwyn uit die groot waterplas, en die rivier droog uit en lê droog — so lê die mens daar sonder om weer op te staan; totdat die hemele nie meer is nie, word hulle nie wakker of uit hul slaap opgewek nie. Ag, as U my maar in die doderyk wou wegsteek, my wou verberg totdat u toorn bedaar het, my 'n bepaalde tyd wou stel en dan aan my wou dink!
JOB 14:7-13 Afrikaans 1983 (AFR83)
Vir 'n boom is daar nog hoop; al is dit afgekap, kan dit weer uitloop, en sy lote sal aanhou groei. Al word sy wortels oud in die aarde en al gaan sy stam dood in die grond, spruit hy weer uit as hy net water ruik, en groei sy takke asof hy pas geplant is. Maar die mens sterf en verdwyn, hy blaas sy laaste asem uit, en waar is hy? Soos water uit die see verdamp, en 'n rivier opdroog, so ontslaap die mens en staan nie weer op nie; totdat die hemel nie meer daar is nie, sal hy nie wakker skrik nie, nie weer wakker gemaak word nie. As U my maar liewer in die doderyk wou wegsteek, my daar wou hou tot u toorn afgekoel het, as U maar liewer 'n tyd vir my wou vasstel en dan weer aan my wou dink!
JOB 14:7-13 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Ja, vir 'n boom is daar hoop: As hy afgekap word, loop hy weer uit, sy jong lote hou nie op uitspruit nie. Al word sy wortel oud in die grond, en al gaan sy stomp dood in die grond, van die reuk van water spruit hy uit, maak hy lote soos 'n jong plant. Maar 'n man sterf en is magteloos; 'n mens kom om – en waar is hy dan? Water verdwyn uit 'n see, en 'n rivier droog op en lê uitgedor; so gaan lê 'n mens en staan nie weer op nie. Tot die hemel nie meer daar is nie, word hulle nie wakker nie, word hulle nie wakker gemaak uit hulle slaap nie. “As U my maar in die •doderyk wou wegsteek, my verberg totdat u toorn bedaar het, 'n vasgestelde tyd vir my bepaal, en my dan onthou!
JOB 14:7-13 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want daar is hoop op 'n boom, as dit afgekap word, dat dit weer sal uitspruit, en dat sy sagte tak nie sal ophou nie. Al word sy wortel in die aarde oud, en sy stam sterf in die grond; Maar deur die geur van water sal dit bot en takke voortbring soos 'n plant. Maar die mens sterf en verdwaal; ja, die mens gee die blaas op, en waar is hy? Soos die waters van die see wegraak en die vloed vergaan en opdroog; So gaan die mens gaan lê en staan nie op nie; totdat die hemel daar nie meer is nie, sal hulle nie wakker word en uit hul slaap opstaan nie. Ag, dat U my in die doderyk wou wegsteek, dat U my verborge sou hou totdat u toorn verby is, dat U vir my 'n vasgestelde tyd sou bepaal en aan my dink!
JOB 14:7-13 Die Boodskap (DB)
“As ’n boom afgekap word, is die kans goed dat daar weer nuwe lote en takke uit die stomp sal groei. Dit is dalk so dat die boom se wortels al baie oud is. Dit kan ook wees dat die stomp al in die grond begin vrot het. Maar as daar water kom, kan dit weer soos ’n jong boom groei en nuwe takkies laat uitskiet. “As mense doodgaan, verloor hulle al hulle krag. As die mens sy laaste asem uitblaas, is dit verby. Waar is hulle dan? Water verdamp uit ’n meer. In droogtetye droog riviere op. Met mense gaan dit net so. Hulle gaan lê en staan net nooit weer op nie. Solank daar nog ’n hemel is, sal hulle nie weer wakker word nie. Hulle sal nie weer uit hulle slaap uit opstaan nie.” Job het vir die Here gesê: “Ek wens U wil my tussen die dooie mense wegsteek en my daar hou totdat U nie meer so kwaad is nie. Besluit vir hoe lank U van my wil vergeet. As hierdie tyd verby is, kan U dan weer van my onthou.
JOB 14:7-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Selfs ’n boom het hoop. As dit afgekap is, sal dit weer groei en nuwe takke uitspruit. Al was sy wortels al oud op die grond en die stam dood in die stof, met die geur van water kan dit weer bloei en lote laat uitspruit soos ’n jong boom. Maar wanneer mense sterf, verloor hulle alle krag. Hulle blaas hulle asem uit, en waar is hulle dan? Soos water verdamp uit ’n meer, en ’n rivier verdwyn in droogte, so gaan lê die mens wanneer hy sterf en kom nie weer regop nie. Tot die hemele ophou bestaan, sal hulle nie weer wakker word of uit hulle slaap gewek word nie. “Ek wens U wou my wegsteek in ’n graf en van my vergeet totdat u woede verby is. Maar merk my op u kalender om my weer te onthou!