JOHANNES 4:5-42

JOHANNES 4:5-42 Bybel vir almal (ABA)

Hy kom toe by die stad Sigar in Samaria. Sigar was naby die stuk grond wat Jakob vir sy seun Josef gegee het. Die put van Jakob was daar. Jesus was moeg omdat hulle ver geloop het en Hy het by die put gaan sit. Dit was omtrent twaalfuur die middag. 'n Vrou uit Samaria het daar kom water skep. Jesus het vir haar gevra: “Gee asseblief vir my water om te drink.” Jesus was alleen, want sy dissipels het in die stad gaan kos koop. Die Samaritaanse vrou sê toe vir Jesus: “Jy is 'n Jood! Hoekom vra jy vir my, 'n Samaritaanse vrou, water om te drink?” Sy het dit gesê omdat die Jode nie saam met die Samaritane wou wees nie. Jesus het vir die vrou gesê: “Jy weet nie wat God vir die mense wil gee nie. Jy weet ook nie wie dit is wat nou vir jou water vra om te drink nie. Jy weet nie, en daarom vra jy nie vir My nie, en daarom kan Ek nie vir jou water gee nie, water wat 'n mens waarlik laat lewe.” Die vrou sê toe: “Meneer, jy het niks waarmee jy water kan skep nie, en hierdie put is diep. Waar sal jy die water kry wat 'n mens waarlik laat lewe? Jy is nie beter as ons voorvader Jakob nie. Hy en sy seuns en sy diere het almal hier water gedrink en hy het hierdie put vir ons gegee.” Jesus het vir haar gesê: “Elkeen wat van hierdie put se water drink, sal weer dors word. Maar wanneer iemand drink van die water wat Ek vir hom gee, dan sal hy nooit weer dors word nie. Die water wat Ek vir hom gee, sal binne-in hom word soos 'n fontein wat vir hom die ewige lewe gee.” Die vrou sê toe vir Jesus: “Meneer, gee vir my van daardie soort water. Dan sal ek nie weer dors word nie en dan sal ek nie weer hier water moet kom haal nie.” Jesus het vir haar gesê: “Gaan roep jou man en kom terug hiernatoe!” Die vrou het vir Hom gesê: “Ek het nie 'n man nie.” Toe sê Jesus: “Jy praat die waarheid, jy het nie 'n man nie. Jy het vyf mans gehad en die man by wie jy nou bly, is nie jou man nie. Jy praat die waarheid.” Die vrou sê toe vir Jesus: “Meneer, ek sien jy is 'n profeet. Ons voorvaders het God aanbid op hierdie berg, maar julle Jode sê Jerusalem is die regte plek waar ons God moet aanbid.” Jesus het vir haar gesê: “Mevrou, glo My, daar sal 'n tyd kom wanneer mense die Vader nie hier op die berg sal aanbid nie, en ook nie in Jerusalem nie. Julle Samaritane aanbid God, maar julle ken Hom nie. Ons Jode ken Hom, want die Redder is 'n Jood. Ek het gesê daar sal 'n tyd kom, en die tyd is nou hier. Nou sal die Heilige Gees die mense help om God reg te aanbid. Die Vader wil graag mense hê wat Hom so aanbid. God is Gees. Daarom moet die mense wat Hom aanbid, vra dat die Gees hulle moet help om God reg te aanbid.” Die vrou sê toe: “Ek weet daar sal 'n Messias kom. Die mense noem Hom ook die Christus. Wanneer Hy hier is, dan sal Hy vir ons alles vertel wat ons moet weet.” Jesus sê toe vir haar: “Dit is Ek, Ek wat nou met jou praat.” Jesus se dissipels het teruggekom. Hulle het gesien Jesus praat met 'n vrou en hulle was verbaas. Maar nie een van hulle het vir Hom gevra wat Hy van haar wil hê of hoekom Hy met haar praat nie. Die vrou het haar waterkruik daar gelos en sy het teruggegaan na die stad. Sy het vir die mense gaan sê: “Julle moet kom kyk! Daar is 'n Man wat vir my alles vertel het wat ek gedoen het. Ek wonder of Hy die Christus is.” Die mense het uit die stad na Jesus toe gekom. Voordat die mense daar gekom het, het die dissipels vir Jesus gesê: “ Rabbi, U moet iets eet.” Maar Jesus het vir hulle gesê: “Ek het kos om te eet, maar julle weet nie wat dit is nie.” Toe vra die dissipels vir mekaar: “Het iemand miskien kos vir Hom gebring?” Jesus het vir hulle gesê: “My kos is om te doen wat God wil hê Ek moet doen. God het My na die wêreld gestuur. Ek moet alles klaar doen wat Hy gesê het. Wanneer julle na die koringlande kyk, dan sê julle: ‘Oor vier maande sal die koring ryp wees, dan kan ons die koring afsny.’ Maar Ek sê vir julle: Kyk na die mense wat daar aankom, hulle is soos koring wat klaar ryp is. Die man wat die koring afsny, kry nou al klaar sy beloning, want hy maak 'n oes bymekaar vir die ewige lewe. Dan sal die man wat saai en die man wat die koring afsny, saam bly wees. Dit is waar wat die mense altyd sê: ‘Een man saai die koring en 'n ander man kom sny dit af.’ Ek het julle gestuur om koring te gaan afsny, maar julle het dit nie gesaai nie. Ander mense het gesaai, maar julle maak die koring bymekaar.” Baie van die Samaritane in daardie stad het in Jesus geglo omdat die vrou vir hulle gesê het Jesus het vir haar alles vertel wat sy gedoen het. Toe die Samaritane by Jesus kom, het hulle vir Hom gevra om by hulle te bly. Hy het twee dae daar gebly. Nog baie meer Samaritane het in Jesus geglo toe hulle gehoor het wat Hy alles sê. Hulle het vir die vrou gesê: “Ons het eers geglo omdat jy vir ons vertel het van Jesus. Maar nou het ons self na Hom geluister. Nou weet ons Hy is die Redder van die wêreld.”

JOHANNES 4:5-42 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Hy kom toe by 'n stad van Samaría wat Sígar genoem word, naby die stuk grond wat Jakob aan sy seun Josef gegee het. En die fontein van Jakob was daar. Jesus het toe, omdat Hy moeg was van die reis, sommer by die fontein gaan sit. Dit was omtrent die sesde uur. Daar kom 'n vrou uit Samaría om water te skep. Jesus sê vir haar: Gee vir My water om te drink — want sy dissipels het na die stad gegaan om voedsel te koop. En die Samaritaanse vrou sê vir Hom: Hoe is dit dat U wat 'n Jood is, van my vra om te drink terwyl ek 'n Samaritaanse vrou is? Want die Jode hou geen gemeenskap met die Samaritane nie. Jesus antwoord en sê vir haar: As jy die gawe van God geken het en geweet het wie Hy is wat vir jou sê: Gee vir My water om te drink, sou jy Hom gevra het en Hy sou vir jou lewende water gegee het. Die vrou sê vir Hom: Here, U het nie eens 'n skepding nie, en die put is diep; waarvandaan kry U dan die lewende water? U is tog nie groter as ons vader Jakob nie, wat die put aan ons gegee het en self daaruit gedrink het, en sy seuns en sy vee? Jesus antwoord en sê vir haar: Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry; maar elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word 'n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe. Die vrou sê vir Hom: Here, gee my daardie water, sodat ek nie dors kry en hier hoef te kom skep nie. Jesus sê vir haar: Gaan roep jou man en kom hier. Die vrou antwoord en sê: Ek het nie 'n man nie. Jesus sê vir haar: Jy het reg gesê: Ek het nie 'n man nie; want jy het vyf mans gehad; en die een wat jy nou het, is nie jou man nie. Dit het jy met waarheid gesê. Die vrou sê vir Hom: Here, ek sien dat U 'n profeet is. Ons vaders het op hierdie berg aanbid, en julle sê dat die plek waar ons behoort te aanbid, in Jerusalem is. Jesus sê vir haar: Vrou, glo My, daar kom 'n uur wanneer julle nie op hierdie berg en ook nie in Jerusalem die Vader sal aanbid nie. Julle aanbid wat julle nie weet nie; ons aanbid wat ons weet, want die saligheid is uit die Jode. Maar daar kom 'n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid. God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid. Die vrou sê vir Hom: Ek weet dat die Messías kom, Hy wat Christus genoem word. Wanneer Hy kom, sal Hy ons alles verkondig. Jesus sê vir haar: Dit is Ek wat met jou spreek! En op dié oomblik het sy dissipels gekom en hulle verwonder dat Hy met 'n vrou in gesprek was. Tog het niemand gesê: Wat verlang U nie? of: Waarom spreek U met haar? Die vrou het toe haar waterkan laat staan en na die stad gegaan en vir die mense gesê: Kom kyk 'n man wat my alles vertel het wat ek gedoen het. Is Hy nie miskien die Christus nie? Hulle het toe uit die stad gegaan en na Hom gekom. EN intussen het sy dissipels by Hom aangedring en gesê: Rabbi, eet. Maar Hy sê vir hulle: Ek het voedsel om te eet waar julle nie van weet nie. Die dissipels sê toe vir mekaar: Het iemand dan vir Hom ete gebring? Jesus sê vir hulle: My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het en om sy werk te volbring. Sê julle nie: Dit is nog vier maande, dan kom die oes nie? Kyk, Ek sê vir julle, slaan julle oë op en aanskou die lande dat hulle al wit is vir die oes. En hy wat maai, ontvang loon en vergader vrug vir die ewige lewe, sodat die saaier en die maaier saam bly kan wees. Want hierin is die woord waar: Dit is een wat saai, en 'n ander wat maai. Ek het julle gestuur om te maai waar julle nie aan gewerk het nie. Ander het gewerk, en julle het in hulle arbeid ingegaan. En baie van die Samaritane uit daardie stad het in Hom geglo oor die woord van die vrou wat getuig het: Hy het my alles vertel wat ek gedoen het. Toe die Samaritane dan by Hom kom, het hulle by Hom aangedring om by hulle te bly; en Hy het daar twee dae gebly. En baie meer het op grond van sy woord geglo en aan die vrou gesê: Ons glo nie meer op grond van wat jy gesê het nie, want ons het self gehoor en ons weet dat Hy waarlik die Christus, die Saligmaker van die wêreld, is.

JOHANNES 4:5-42 Afrikaans 1983 (AFR83)

Hy kom toe by 'n dorp in Samaria met die naam Sigar, naby die stuk grond wat Jakob aan sy seun Josef gegee het. Die fontein van Jakob was daar, en Jesus het toe, omdat Hy moeg was van die reis, sommer by die fontein gaan sit. Dit was omtrent twaalfuur die middag. Daar kom toe 'n Samaritaanse vrou water haal, en Jesus vra vir haar: “Gee My 'n bietjie water om te drink.” Sy dissipels was intussen weg dorp toe om te gaan kos koop. Die Samaritaanse vrou sê toe vir Hom: “Hoe vra jy, wat 'n Jood is, vir my, 'n Samaritaanse vrou, water om te drink?” Die Jode en die Samaritane gaan immers nie met mekaar om nie. Jesus het haar geantwoord: “As jy geweet het wat God gee, en wie dit is wat vir jou sê: ‘Gee My 'n bietjie water om te drink,’ sou jy Hom gevra het, en Hy sou vir jou lewende water gegee het.” Die vrou sê toe vir Hom: “Meneer, jy het nie eens 'n skepding nie, en die put is diep. Waar gaan jy die lewende water vandaan kry? Jy is tog nie tot meer in staat as ons voorvader Jakob wat hierdie put vir ons gegee het en self saam met sy seuns en sy diere daaruit gedrink het nie?” Maar Jesus antwoord haar: “Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry; maar wie van die water gedrink het wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie. Nee, die water wat Ek hom sal gee, sal in hom 'n fontein wees met water wat opborrel en vir hom die ewige lewe gee.” Die vrou het vir Hom gesê: “Meneer, gee vir my van daardie water, sodat ek nie weer dors sal kry en hier hoef te kom water haal nie.” Hy sê toe vir haar: “Gaan roep jou man en kom terug hierheen.” Die vrou het Hom geantwoord: “Ek het nie 'n man nie.” En Jesus sê vir haar: “Dis reg wat jy nou gesê het: ‘Ek het nie 'n man nie.’ Jy het reeds vyf gehad, en die een wat jy nou het, is nie jou man nie. Jy het die waarheid gepraat.” Die vrou het vir Hom gesê: “Meneer, ek sien dat u 'n profeet is. Ons voorouers het God op hierdie berg aanbid, en tog sê julle die plek waar 'n mens God moet aanbid, is in Jerusalem.” Jesus sê toe vir haar: “Glo My, Mevrou, daar kom 'n tyd wanneer julle die Vader nie op hierdie berg en ook nie in Jerusalem sal aanbid nie. Julle aanbid sonder om te weet wat julle aanbid; ons weet wat ons aanbid, want die verlossing kom uit die Jode. Maar daar kom 'n tyd, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader deur die Gees en in waarheid sal aanbid, want die Vader wil juis hê dat die mense wat Hom aanbid, dit so moet doen. God is Gees, en dié wat Hom aanbid, moet Hom deur die Gees en in waarheid aanbid.” Die vrou het vir Hom gesê: “Ek weet dat die Messias kom, Hy wat ook die Christus genoem word. Wanneer Hy kom, sal Hy alles aan ons bekend maak.” Toe sê Jesus vir haar: “Dit is Ek, Ek wat met jou praat.” Net toe het sy dissipels teruggekom en hulle was verbaas dat Hy met 'n vrou praat. Tog het niemand vir haar gevra: “Wat wil jy hê?” of vir Hom: “Waarom praat U met haar?” nie. Die vrou het toe haar waterkruik net daar laat staan en na die dorp toe gegaan en vir die mense gesê: “Kom kyk, hier is 'n man wat my alles vertel het wat ek gedoen het. Is Hy nie miskien die Christus nie?” Die mense het toe uit die dorp uit na Jesus toe begin kom. Intussen het sy dissipels by Hom aangedring: “Rabbi, eet tog 'n stukkie.” Maar Hy sê vir hulle: “Ek het voedsel om te eet waarvan julle nie weet nie.” Die dissipels sê toe vir mekaar: “Sou iemand dalk vir Hom iets te ete gebring het?” Maar Jesus het vir hulle gesê: “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om sy werk te voltooi. Sê julle nie: ‘Nog vier maande, dan is die oes daar’ nie? Maar Ek sê vir julle: Kyk daar, kyk na die lande; hulle is ryp vir die oes. Nou al ontvang die man wat oes, sy loon en samel hy die oes in vir die ewige lewe. So is die een wat saai, en die een wat oes, saam bly. Hier is die gesegde waar: ‘Die een saai, en die ander een maai.’ Ek het julle gestuur om 'n oes in te samel waaraan julle nie gearbei het nie. Ander het gearbei, en julle pluk die vrug van hulle arbeid.” Baie van die Samaritane in daardie dorp het tot geloof in Jesus gekom op grond van die woorde van die vrou wat getuig het: “Hy het my alles vertel wat ek gedoen het.” Toe die Samaritane by Hom kom, het hulle by Hom daarop aangedring om by hulle te bly. Hy het twee dae daar gebly. Nog baie meer van hulle het toe tot geloof in Hom gekom op grond van wat Hy gesê het; en hulle het vir die vrou gesê: “Ons glo nie meer op grond van wat jy vertel het nie, want ons het self na Hom geluister, en ons weet dat Hy waarlik die Verlosser van die wêreld is.”

JOHANNES 4:5-42 Die Boodskap (DB)

Op pad het Jesus besluit om by Sigar in Samaria te gaan rus. Sigar het naby die stuk grond gelê wat Jakob destyds aan sy seun Josef gegee het. Dit was juis ook die plek waar ’n put oor die fontein van Jakob gebou is. Jesus het sommer by die put gaan uitspan, moeg van die lang pad. Dit was omtrent twaalfuur die middag. ’n Samaritaanse vrou kom toe daar aan om water te skep. Jesus vra haar toe: “Gee My asseblief ’n bietjie water om te drink.” (Sy dissipels was toe reeds dorp toe om kos te gaan koop.) “Verskoon my,” sê sy, “maar waarom vra jy my water om te drink? Is jy nie ’n Joodse man en ek ’n Samaritaanse vrou nie?” (Sy het dit gevra omdat die Jode normaalweg niks met die Samaritane te doen wou hê nie.) “As jy geweet het wat God vir mense wil gee en besef het wie vir jou water vra, sou jy nie so ’n vraag gevra het nie. Jy sou eerder vir Hom water gevra het en Hy sou vir jou lewende water gegee het, het Jesus gesê.” “Meneer, hierdie put is diep en jy het nie eens ’n emmer en tou nie. Waar dink jy gaan jy daardie vars water vandaan kry?” vra sy. “Jy is tog sekerlik nie beter as ons voorvader Jakob wat hierdie put vir ons nagelaat het nie. Hy self het water uit hierdie put gedrink, soos sy kinders en diere ook.” “Wel, elkeen wat van hierdie put se water drink, sal na ’n rukkie weer dors word,” antwoord Jesus. “Wie egter van die water drink wat Ek hom sal gee, sal nooit ooit weer dors word nie. Daar sal iets in daardie persoon gebeur. Die water wat Ek vir hom sal gee, sal in ’n fontein binne-in hom verander. Hierdie borrelende, lewende water sal maak dat hy vir ewig sal lewe.” “Meneer, gee my asseblief van daardie water,” vra sy dadelik. “Dink net, ek sal dan nooit weer dors word nie en ook nooit weer die moeite hoef te doen om hier te kom water haal nie.” Hy vra haar toe: “Gaan roep gou jou man en kom hier.” “Ek het nie ’n man nie,” sê sy. “Dit is ’n eerlike antwoord,” sê Jesus. “Jy was voorheen al vyf maal getroud. Boonop is jy nie eens getroud met die man met wie jy nou saambly nie. Ja, jy het die waarheid gepraat.” “Meneer, jy is sowaar ’n profeet. Kom, sê my ’n bietjie, ons voorvaders het God op hierdie berg aanbid. Julle Jode sê weer dat Jerusalem die regte plek is om God te aanbid. Wat sê jy daarvan?” vra sy. “Mevrou,” sê Jesus, “dit is nie meer lank nie, dan gaan julle die Vader nie meer hier op hierdie berg of in Jerusalem aanbid nie. Julle Samaritane ken nie regtig die God wat julle aanbid nie. Ons Jode ken daardie God. Geen wonder nie, want God se stroom van redding borrel eers in die Jodedom op en vloei dan na almal. Die tyd is nou ryp! Opregte gelowiges sal nie meer na ’n spesiale heilige plek hoef te gaan om die Vader daar te dien nie. Tye verander. Hulle sal nou op enige plek met God kan praat, net solank hulle dit opreg met die hulp van die Heilige Gees doen. Die Vader self het besluit dat dit so moet wees. Immers, God is Gees. Daarom is dit verstaanbaar en nodig dat die Heilige Gees die gelowiges moet help om Hom opreg te dien soos Hy daarvan hou.” Die vrou sê toe weer: “Ek weet dat die Messias kom. Die Grieke praat mos van Hom as ‘Christus’. Nou ja, wanneer Hy kom, sal Hy vir ons van al die nuwe dinge kom vertel.” Toe sê Jesus vir haar: “Ek is die Redder, die Messias, wat nou met jou praat.” Net toe kom sy dissipels daar aan. Hulle was nogal verbaas toe hulle Jesus met die vrou sien gesels, maar het nie ’n woord gesê nie. Nie een het eens vir haar gevra: “Wat soek jy?” of vir Hom: “Waarom praat U met haar?” nie. Die vrou is toe terug dorp toe, sonder haar waterkruik. “Kom gou!” het sy die mense geroep. “Ek het ’n vreemde man raakgeloop wat my hele lewensverhaal vir my vertel het. Kom kyk, is Hy nie dalk die Christus nie?” Die mense het nie op hulle laat wag nie, maar is inderhaas uit die dorp uit na Hom toe. By die put het die dissipels intussen vir Hom gesê: “Rabbi, U moet iets eet.” Sy antwoord was: “Ek het my eie kos waarvan julle nie eens weet nie.” Die dissipels bespiegel toe onder mekaar: “Het iemand anders dalk intussen vir Hom iets gebring om te eet?” Jesus help hulle toe reg: “Weet julle wat is vir My soos kos? Dít: om presies te doen wat God wat My gestuur het, wil hê Ek moet doen. Alles wat Hy wil hê Ek moet doen, wil Ek klaarmaak. Wanneer Ek dit doen, voel Ek ‘versadig’, net soos iemand wat lekker geëet het. “Julle sê mos partykeer: ‘Oor vier maande kan ons begin oes.’ Ek het vir julle nuus. Maak julle geestelike oë oop en kyk om julle. Kyk mooi na die ‘lande’. ‘Oestyd’ is hier. Kyk net hoe ryp staan die ‘oes’. Die oes word nou reeds volstoom ingesamel. Mense wat ‘oes’, kry al hulle ‘lone’. Dit gaan natuurlik nie om ’n gewone oes nie, maar om die ‘oes van mense’. Omdat hulle deel van die ‘oes’ is, sal hulle vir altyd saam met God leef. Julle ken mos die gesegde: ‘Die een saai en die ander een maai.’ Dit is ook hier waar. Julle weet wat julle in die wêreld vir My moet doen: julle moet gaan om hierdie ‘oes’ in te samel, al het julle nie self daaraan gewerk nie. Ander mense het hard daaraan gewerk. Julle moet egter die goeie resultate van wat hulle gedoen het, gaan insamel.” Baie Samaritane uit daardie dorp het in Jesus geglo. Die vrou het mos aan hulle vertel dat Jesus alles van haar geweet het. Dit het hulle oortuig. Die Samaritane is toe na Jesus toe. Hulle het by Hom aangehou om by hulle te kom oorbly. Jesus het toe twee dae daar by hulle gebly. In die twee dae het Jesus verder met hulle gesels. Die gevolg was dat baie meer van hulle sy vriende geword het. Hulle het vir die vrou gesê: “Ons glo nou nie meer net omdat jy ons van Hom kom vertel het nie. Ons het die kans gehad om self na Hom te luister. “Ons twyfel nie meer nie: hierdie man is waarlik die Redder wat sou kom. Hy bring nie net vir ons of die Jode redding nie, maar vir al die mense in die wêreld.”

JOHANNES 4:5-42 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Hy kom toe in ’n dorp in Samaria wat Sigar genoem word. Dit was naby die stuk grond wat Jakob aan sy seun Josef gegee het. Die put van Jakob was daar geleë. Jesus het toe, omdat Hy regtig uitgeput was van die reis, sommer by die put gaan sit. Dit was omtrent twaalfuur die middag. ’n Samaritaanse vrou kom toe daar aan om water te skep. Jesus vra haar: “Gee vir My asseblief water om te drink.” Sy dissipels was toe nog in die dorp om kos te gaan koop. Die Samaritaanse vrou sê toe vir Hom: “Hoe op aarde vra jy wat ’n Jood is, van my wat ’n Samaritaanse vrou is, water om te drink?” Jode wou immers niks met Samaritane te doen hê nie. Jesus het daarop reageer: “As jy maar net hierdie gawe van God vir jou geken het, en geweet het wie dit is wat vir jou vra: ‘Gee vir My water om te drink,’ sou jy Hóm gevra het en Hy sou vir jou lewende water gegee het.” Die vrou sê vir Jesus: “Meneer, jy het nie eers ’n skepding nie, en die put is diép. Van waar kry jy dié lewende water? Jy is beslis nie belangriker as ons vader Jakob wat hierdie put vir ons gegee het en self saam met sy seuns en sy diere daaruit gedrink het nie.” Jesus antwoord haar: “Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors word. Wie egter van die water drink wat Ek hom gee, sal nimmer as te nooit weer dors word nie. Die water wat Ek vir hom sal gee, sal ’n fontein in hom word waarvan die water vir altyd sal bly opborrel.” Die vrou sê toe vir Hom: “Meneer, gee my van hierdie water sodat ek nie weer dors word en hierheen hoef te kom om water te skep nie.” Hy sê vir haar: “Gaan roep jou man en kom dan terug hiernatoe.” Die vrou het dadelik reageer: “Ek het nie ’n man nie.” Jesus beaam dit toe: “Jy het tereg gesê: ‘Ek het nie ’n man nie.’ Want jy het reeds vyf mans gehad en die een wat jy nou het, is eintlik nie jou man nie. Dit wat jy gesê het, is die waarheid.” Die vrou sê vir Hom: “Meneer, ek sien dat u ’n profeet is. Ons voorouers het op hierdie berg aanbid, maar julle sê die plek waar ’n mens moet aanbid, is in Jerusalem.” Jesus merk toe op: “Glo My, Vrou, daar kom ’n tyd wanneer julle die Vader nie op hierdie berg en ook nie in Jerusalem sal aanbid nie. Júlle aanbid wat julle nie ken nie; ons aanbid wat ons ken, want die verlossing is uit die geledere van die Jode. Daar kom egter ’n tyd, en dit het reeds aangebreek, wanneer die egte aanbidders die Vader vanuit ’n hegte verhouding met die Gees en in waarheid sal aanbid, want die Vader verkies dat die mense Hom só aanbid. God is Gees, en dié wat Hom aanbid, moet Hom vanuit ’n hegte verhouding met die Gees en in waarheid aanbid.” Die vrou sê vir Jesus: “Ek weet dat die Messias kom, Hy wat die Christus genoem word. Wanneer Hy ook al kom, sal Hy ons oor alles inlig.” Toe sê Jesus vir haar: “Ék is Hy – Ek wat nou met jou praat!” Op daardie oomblik het sy dissipels teruggekom. Hulle was verstom dat Jesus besig was om met ’n vrou te praat. Nietemin het niemand haar gevra: “Wat wil jy nou eintlik hê?” of vir Hom: “Waarom knoop U ’n gesprek met haar aan?” nie. Die vrou het haar waterkruik net daar gelos, na die dorp toe gegaan en vir die mense gesê: “Kom kyk self – ’n man het my alles vertel wat ek al gedoen het. Is hy nie dalk die Messias nie?” Die inwoners het toe van die dorp af na Jesus toe begin stroom. Intussen het sy dissipels Hom gesmeek en gesê: “Rabbi, eet tog net iets.” Maar Hy het reageer: “Ék het kos om te eet waarvan júlle nie eers weet nie.” Die dissipels sê toe onder mekaar: “Het iemand anders dalk vir Hom iets gebring om te eet?” Jesus antwoord hulle: “My kos is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om sy werk klaar te maak. Sê julle dan nie: ‘Daar is nog vier maande voor die oes’ nie? Ek sê nou vir julle, kyk na die landerye; hulle vertoon reeds wit van die oes. Dié wat die oes insamel, ontvang vergoeding: Die vrug wat hulle insamel, is mense wat die ewige lewe beërf. Op só ’n manier is hulle wat saai en hulle wat die oes insamel, saam bly. In hierdie geval is die spreekwoord só waar: ‘Die een saai en die ander een versamel die oes.’ Ek het julle gestuur om ’n oes in te samel waaraan julle nie hard gewerk het nie. Ander het hard gewerk en julle het net toegetree om die vrug van hulle werk te benut.” Uit daardie dorp het baie van die Samaritane in Jesus begin glo op grond van die woorde van die vrou wat met oortuiging kom vertel het: “Hy het my alles vertel wat ek gedoen het.” Toe die Samaritane by Jesus aankom, het hulle Hom gevra om by hulle tuis te gaan. En Hy het twee dae lank daar oorgebly. Baie meer van hulle eie mense het op grond van sy woorde begin glo. Hulle het vir die vrou gesê: “Ons glo nie net meer op grond van wat jy gesê het nie; ons het nou self gehoor wat Hy sê, en ons weet dat Hy regtig die Verlosser van die wêreld is.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid