JOHANNES 18:1-40

JOHANNES 18:1-40 Bybel vir almal (ABA)

Toe Jesus klaar gepraat het, het Hy saam met sy dissipels buitetoe gegaan. Hulle het na die ander kant van die Kedron-vallei gegaan. Daar was 'n tuin, en hulle het in die tuin ingegaan. Judas, wat vir Jesus verraai het, het ook geweet waar die tuin is, want Jesus en sy dissipels het baie maal daarnatoe gegaan. Daarom het Judas soldate gaan roep en ook party van die priesterleiers en die Fariseërs se wagte. Hulle het lampe, fakkels en wapens saamgeneem en hulle het by die tuin gekom. Jesus het voor daardie tyd geweet wat alles met Hom sal gebeur. Daarom het Hy na Judas en die soldate toe geloop en Hy het vir hulle gevra: “Vir wie soek julle?” Hulle het vir Hom gesê: “Ons soek vir Jesus van Nasaret.” Jesus het gesê: “Dit is Ek.” Judas het ook daar by hulle gestaan. Dit was hy wat vir Jesus verraai het. Toe Jesus vir hulle sê Hy is Jesus vir wie hulle soek, het hulle geskrik en op die grond geval. Jesus het weer vir hulle gevra: “Vir wie soek julle?” Hulle het gesê: “Ons soek vir Jesus van Nasaret.” Jesus het vir hulle gesê: “Ek het vir julle gesê dit is Ek. Dit is vir Mý wat julle wil vang, daarom kan julle my dissipels laat gaan.” Jesus het dit gesê sodat die woorde waar kon word wat Hy voorheen gesê het: “ Vader, U het vir my mense gegee, en Ek het nie een van hulle laat verlore gaan nie.” Simon Petrus het 'n swaard by hom gehad. Hy het dit uitgeruk en hy het 'n slaaf van die hoëpriester daarmee gekap. Hy het die slaaf se regter-oor afgekap. Die slaaf se naam was Malgus. Toe sê Jesus vir Petrus: “Sit jou swaard terug op sy plek. My Vader wil hê Ek moet die beker van swaarkry drink, en Ek sal dit drink.” Die soldate, die offisier en die wagte van die Jode het vir Jesus gevang en hulle het Hom vasgebind. Hulle het Hom eers na Annas toe geneem. Annas was die skoonpa van Kajafas. Kajafas was daardie jaar hoëpriester. Dit was Kajafas wat vir die Jode gesê het dit is beter dat een mens sterf sodat al die mense van die volk kan lewe. Simon Petrus en 'n ander dissipel het Jesus gevolg. Die hoëpriester het die ander dissipel geken. Daarom het die ander dissipel saam met Jesus ingegaan tot voor die huis van die hoëpriester, maar Petrus het buite by die hek gebly staan. Later het die ander dissipel uitgekom, die hoëpriester het daardie dissipel geken. Die ander dissipel het met die vrou gepraat wat waggestaan het by die hek, en sy het vir Petrus laat inkom. Die vrou wat waggestaan het by die hek, het vir Petrus gesê: “Is jy ook een van hierdie man se dissipels?” Petrus het vir haar gesê: “Nee, ek is nie.” Dit was koud. Daarom het die slawe en die wagte vuur gemaak en hulle het hulleself warm gemaak. Petrus het ook by hulle gestaan en hy het homself warm gemaak. Die hoëpriester het vir Jesus vrae gevra oor sy dissipels en oor alles wat Hy vir die mense geleer het. Jesus het vir hom gesê: “Ek het altyd met die mense gepraat waar almal My kon sien. Ek het vir die mense geleer in die sinagoges en in die tempel waar baie Jode bymekaarkom. Ek het vir hulle geleer waar almal dit kon hoor. Hoekom vra jy hierdie dinge vir My? Jy moet vir die mense gaan vra wat My gehoor het. Hulle weet wat Ek gesê het.” Een van die wagte het daar naby gestaan. Toe hy hoor wat Jesus sê, klap hy vir Jesus en sê: “Jy moenie so lelik met die hoëpriester praat nie!” Jesus het vir hom gesê: “As Ek iets verkeerd gesê het, dan moet jy vir My sê wat Ek verkeerd gesê het. Maar as Ek niks verkeerd gesê het nie, dan mag jy My nie klap nie.” Toe het Annas vir Jesus na Kajafas gestuur. Kajafas was die hoëpriester. Jesus was nog vasgebind. Simon Petrus het nog buite by die vuur gestaan en hy het homself warm gemaak. Die ander mense wat daar gestaan het, het vir hom gevra: “Is jy ook een van Jesus se dissipels?” Petrus het gesê: “Nee, ek is nie.” Een van die slawe van die hoëpriester het ook daar gestaan. Hy was familie van die man wie se oor Petrus afgekap het. Hy het vir Petrus gesê: “Ek dink ek het jou saam met Jesus in die tuin gesien.” Maar Petrus het weer gesê hy ken nie vir Jesus nie. Toe het die haan gekraai. Die Jode het vir Jesus gebring van Kajafas se huis na die huis van die goewerneur. Dit was vroeg in die oggend. Hulle het nie in die goewerneur se huis ingegaan nie, want hulle was bang hulle word onrein en dan mag hulle nie die Paas-ete eet nie. Pilatus, die goewerneur, het uitgegaan na die Jode daar buite. Hy het vir hulle gesê: “Julle moet vir my sê wat hierdie man Jesus verkeerd gedoen het.” Hulle het vir Pilatus gesê: “Jesus het baie verkeerd gedoen. Daarom het ons hom na jou toe gebring sodat jy hom moet straf.” Pilatus het vir hulle gesê: “Julle moet vir Jesus hier wegvat. Gaan kyk wat julle wette sê en dan kan julle self besluit of hy skuldig is.” Die Jode het vir hom gesê: “Nee, ons kan dit nie doen nie, want ons mag nie iemand doodmaak nie.” Dit het gebeur sodat die woorde kan waar word wat Jesus gesê het. Hy het voorheen gesê hoe Hy sal sterf. Pilatus het weer in sy huis ingegaan. Hy het vir Jesus laat roep en hy het vir Jesus gevra: “Is jy die koning van die Jode?” Jesus het vir Pilatus gevra: “Hoekom vra jy vir My of Ek die koning van die Jode is? Het jy dit self gedink, of het ander mense met jou gepraat oor My?” Pilatus het vir Jesus gesê: “Ek is nie 'n Jood nie! Jou eie mense en die priesterleiers het jou na my toe gebring. Hulle wil hê ek moet jou straf. Jy moet vir my sê wat jy verkeerd gedoen het.” Jesus het vir hom gesê: “Ek is nie 'n koning soos die ander konings op die aarde nie. As Ek so 'n koning is, dan sal my mense veg om My te beskerm, en jy sal My dan nie vir die Jode kan gee nie. Nee, Ek is nie 'n koning soos die ander konings op die aarde nie.” Pilatus het vir Jesus gesê: “O, jy is 'n koning?” Jesus het vir hom gesê: “Dit is jý wat sê Ek is 'n koning. Ek is gebore en Ek het na die wêreld gekom om vir die mense van die waarheid te kom vertel. Elkeen wat die waarheid gekry het van God, luister na My.” Pilatus vra toe vir Jesus: “Wat is die waarheid? Ek dink niemand weet nie.” Toe Pilatus klaar met Jesus gepraat het, het Hy weer uitgegaan na die Jode toe. Hy het vir hulle gesê: “Jesus het niks verkeerd gedoen nie. Julle weet ek laat altyd vir julle iemand uit die tronk kom wanneer dit Paasfees is. Wil julle hê ek moet vir Jesus, die koning van die Jode, laat uitkom?” Hulle het hard geskree: “Nee, jy moenie vir Jesus laat uitkom nie! Jy moet vir Barabbas laat uitkom!” Barabbas was 'n man wat teen die Romeinse regering geveg het.

JOHANNES 18:1-40 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

NADAT Jesus dit gesê het, het Hy met sy dissipels oor die spruit Kedron gegaan waar daar 'n tuin was, waarin Hy self gegaan het en sy dissipels. En Judas, sy verraaier, het ook die plek geken, omdat Jesus daar dikwels met sy dissipels saamgekom het. En Judas het die afdeling soldate en die dienaars van die owerpriesters en die Fariseërs geneem en daar gekom met fakkels en lampe en wapens. En omdat Jesus alles geweet het wat oor Hom sou kom, het Hy uit die tuin gegaan en vir hulle gesê: Wie soek julle? Hulle antwoord Hom: Jesus, die Nasaréner. Jesus sê vir hulle: Dit is Ek. En ook Judas, sy verraaier, het by hulle gestaan. Toe Hy dan vir hulle sê: Dit is Ek, het hulle agteruitgegaan en op die grond geval. Hy vra hulle toe weer: Wie soek julle? En hulle sê: Jesus, die Nasaréner. Jesus antwoord: Ek het vir julle gesê dat dit Ek is. As julle My dan soek, laat hierdie manne weggaan — sodat die woord vervul sou word wat Hy gespreek het: Uit die wat U My gegee het, het Ek niemand verloor nie. En Simon Petrus wat 'n swaard gehad het, het dit uitgetrek en die dienskneg van die hoëpriester geslaan en sy regteroor afgekap. En die naam van die dienskneg was Malchus. Toe sê Jesus vir Petrus: Steek jou swaard in die skede. Die beker wat die Vader My gegee het, sal Ek dit dan nie drink nie? EN die afdeling en die owerste oor duisend en die dienaars van die Jode het Jesus gevange geneem en Hom geboei; en hulle het Hom weggelei, eers na Annas; want Hy was die skoonvader van Kájafas wat daardie jaar hoëpriester was. En dit was Kájafas wat aan die Jode die raad gegee het dat dit voordelig is dat een man vir die volk sterwe. En Simon Petrus en 'n ander dissipel het Jesus gevolg; en daardie dissipel was met die hoëpriester bekend en het saam met Jesus ingegaan in die binneplaas van die hoëpriester se paleis. Maar Petrus het buitekant by die deur bly staan. En die ander dissipel wat bekend was met die hoëpriester, het uitgegaan en met die deurwagster gepraat en Petrus ingebring. Toe sê die diensmeisie, die deurwagster, vir Petrus: Jy is tog nie ook een van die dissipels van hierdie mens nie? Hy sê: Ek is nie. En die diensknegte en die dienaars het by 'n koolvuur gestaan wat hulle gemaak het — want dit was koud — en hulle het hul warm gemaak. En Petrus het by hulle gestaan en hom warm gemaak. Die hoëpriester ondervra Jesus toe oor sy dissipels en oor sy leer. Jesus antwoord hom: Ek het ronduit tot die wêreld gespreek; Ek het altyd in die sinagoge geleer en in die tempel waar die Jode van alle kante vergader; en in die geheim het Ek niks gespreek nie. Wat ondervra u My? Ondervra hulle wat gehoor het wat Ek tot hulle gespreek het; hulle weet tog wat Ek gesê het. En toe Hy dit sê, het een van die dienaars wat daar staan, Jesus in die aangesig geslaan en gesê: Antwoord U die hoëpriester so? Jesus antwoord hom: As Ek verkeerd gespreek het, getuig van die verkeerdheid; maar as Ek reg gespreek het, waarom slaan jy My? En Annas het Hom geboeid na Kájafas, die hoëpriester, gestuur. En Simon Petrus het hom staan en warm maak. En hulle sê vir hom: Jy is tog nie ook een van sy dissipels nie? Toe ontken hy dit en sê: Ek is nie. Een van die hoëpriester se diensknegte wat familie was van die man wie se oor Petrus afgekap het, sê: Het ek jou nie in die tuin by Hom gesien nie? En Petrus het dit weer ontken; en dadelik het die haan gekraai. TOE neem hulle Jesus van Kájafas na die goewerneur se paleis. En dit was vroeg in die môre; en hulle het self nie in die paleis ingegaan nie, dat hulle hul nie sou verontreinig nie, maar dat hulle die pasga kon eet. En Pilatus het na hulle uitgekom en gesê: Watter beskuldiging bring julle teen hierdie man in? Hulle antwoord en sê vir hom: As Hy geen kwaaddoener was nie, sou ons Hom nie aan u oorgelewer het nie. En Pilatus sê vir hulle: Neem julle Hom en oordeel Hom volgens julle wet. En die Jode sê vir hom: Dit is ons nie geoorloof om iemand dood te maak nie — sodat die woord van Jesus vervul sou word wat Hy gesê het om aan te dui hoedanige dood Hy sou sterwe. Pilatus gaan toe weer in die goewerneur se paleis en roep Jesus en sê vir Hom: Is U die Koning van die Jode? Jesus antwoord hom: Sê u dit uit uself, of het ander u dit van My gesê? Pilatus antwoord: Is ek dan 'n Jood? U volk en die owerpriesters het U aan my oorgelewer. Wat het U gedoen? Jesus antwoord: My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie; as my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het, dat Ek nie aan die Jode oorgelewer word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie. Pilatus sê toe vir Hom: Is U dan tog 'n koning? Jesus antwoord: U sê dat Ek 'n koning is. Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek in die wêreld gekom, om vir die waarheid te getuig. Elkeen wat uit die waarheid is, luister na my stem. Pilatus sê vir Hom: Wat is waarheid? En toe hy dit gesê het, gaan hy weer uit na die Jode en sê vir hulle: Ek vind geen skuld in Hom nie. Maar julle het 'n gewoonte dat ek vir julle op die pasga iemand moet loslaat; wil julle dan hê dat ek vir julle die Koning van die Jode moet loslaat? Toe skreeu hulle almal weer en sê: Nie vir Hom nie, maar Barábbas! En Barábbas was 'n rower.

JOHANNES 18:1-40 Afrikaans 1983 (AFR83)

Nadat Jesus dit gesê het, het Hy met sy dissipels oor Kedronspruit gegaan. Daar was 'n tuin, en Hy en sy dissipels het daar ingegaan. Judas, sy verraaier, het ook die plek geken, omdat Jesus en sy dissipels dikwels daar gekom het. Judas het toe die afdeling soldate gevat en die wagte in diens van die priesterhoofde en die Fariseërs en hulle het daar aangekom met lanterns en fakkels en wapens. Omdat Jesus geweet het van alles wat oor Hom gaan kom, het Hy vorentoe gekom en vir hulle gevra: “Vir wie soek julle?” “Jesus van Nasaret,” antwoord hulle Hom. “Dit is Ek!” sê Hy toe vir hulle. Judas, sy verraaier, het ook daar by hulle gestaan. Toe Jesus dan vir hulle sê: “Dit is Ek!” het hulle teruggedeins en op die grond neergeval. Hy vra hulle toe weer: “Vir wie soek julle?” En hulle sê: “Jesus van Nasaret.” Toe sê Jesus: “Ek het vir julle gesê dit is Ek. As julle My soek, laat die mense hier by My dan toe om weg te gaan.” So sou vervul word wat Hy voorheen gesê het: “Van dié wat U My gegee het, het Ek niemand verlore laat gaan nie.” Simon Petrus het 'n swaard by hom gehad. Hy ruk dit toe uit, slaan daarmee na die slaaf van die hoëpriester en kap sy regteroor af. Die slaaf se naam was Malgus. Toe sê Jesus vir Petrus: “Sit die swaard in sy skede terug. Moet Ek dan nie die lydensbeker drink wat die Vader My gegee het nie?” Toe het die afdeling soldate onder die kommandant saam met die wagte in diens van die Joodse Raad vir Jesus gevange geneem en Hom geboei. Hulle het Hom eers na Annas toe gebring. Hy was die skoonvader van Kajafas, wat daardie jaar hoëpriester was. Dit was Kajafas wat vir die Jode die raad gegee het dat dit tot hulle voordeel is dat een man vir die volk sterwe. Simon Petrus en 'n ander dissipel het agter Jesus aangegaan. Daardie ander dissipel was aan die hoëpriester bekend en het saam met Jesus in die hoëpriester se woning ingegaan, maar Petrus het buite by die deur bly staan. Toe het daardie ander dissipel wat aan die hoëpriester bekend was, uitgegaan en met die deurwagter gepraat en vir Petrus ingebring. Die diensmeisie wat deurwagter was, sê toe vir Petrus: “Jy is tog nie ook een van hierdie man se dissipels nie?” “Nee, ek is nie!” antwoord hy. Die slawe en die wagte het hulle gestaan en warm maak by die vuur wat hulle gemaak het omdat dit koud was. En Petrus het hom ook saam met hulle gestaan en warm maak. Die hoëpriester het Jesus toe ondervra oor sy dissipels en oor sy leer. Jesus het hom geantwoord: “Ek het in die openbaar met die mense gepraat. Ek het hulle altyd in die sinagoges en in die tempel geleer, waar al die Jode bymekaar kom; en Ek het niks in die geheim gesê nie. Waarom ondervra u My? Ondervra dié wat gehoor het wat Ek vir hulle gesê het. Hulle weet wat Ek gesê het.” Toe Jesus dit sê, het een van die wagte wat daarby gestaan het, Hom geklap en gesê: “Antwoord jy die hoëpriester so?” Jesus sê toe vir hom: “As wat Ek gesê het, verkeerd was, sê dan wat was verkeerd; maar as dit reg was, waarom slaan jy My?” Annas het Hom toe geboei na die hoëpriester Kajafas toe gestuur. Simon Petrus het hom nog gestaan en warm maak. Die mense by die vuur vra toe vir hom: “Jy is tog nie ook een van sy dissipels nie?” Hy het dit ontken en gesê: “Nee, ek is nie!” Een van die hoëpriester se slawe wat familie was van die een wie se oor Petrus afgekap het, vra toe: “Het ek jou dan nie in die tuin by hom gesien nie?” Petrus het dit weer ontken, en net daarna het daar 'n haan gekraai. Toe het hulle vir Jesus van Kajafas af na die ampswoning van die goewerneur toe gebring. Dit was die môre vroeg. Hulle het self nie in die ampswoning ingegaan nie, sodat hulle nie onrein sou word nie maar die paasmaaltyd sou kon eet. Pilatus het buite na hulle toe uitgegaan en gevra: “Watter aanklag bring julle teen hierdie man in?” Hulle het hom geantwoord: “As hy nie 'n misdadiger was nie, sou ons hom nie aan u uitgelewer het nie.” Pilatus sê toe vir hulle: “Vat julle hom en veroordeel hom volgens julle wet.” Maar die Jode sê vir hom: “Ons mag nie iemand teregstel nie.” Dit het gebeur sodat die woorde van Jesus vervul kon word wat Hy gesê het toe Hy aangedui het op watter manier Hy sou sterwe. Pilatus het toe weer in sy ampswoning ingegaan en Jesus geroep en vir Hom gevra: “Is jý die koning van die Jode?” Jesus het hom toe gevra: “Vra u dit uit u eie, of het ander dit vir u van My gesê?” “Ek is mos nie 'n Jood nie!” antwoord Pilatus. “Dit is jou volk en jou priesterhoofde wat jou aan my uitgelewer het. Wat het jy gedoen?” “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie,” antwoord Jesus. “As my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my onderdane geveg het sodat Ek nie aan die Jode uitgelewer sou word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie.” “Dan is jy tog wel 'n koning?” vra Pilatus. “Dit is soos u sê: Ek is 'n koning,” antwoord Jesus. “Ek moet oor die waarheid getuienis aflê. Hiervoor is Ek gebore, en hiervoor het Ek na die wêreld toe gekom. Elkeen wat aan die waarheid behoort, luister na wat Ek sê.” “Wat is waarheid?” sê Pilatus toe vir Hom. En toe hy dit sê, gaan hy weer uit na die Jode toe en sê vir hulle: “Ek vind geen skuld in hom nie. Maar julle is gewoond dat ek vir julle gedurende die paasfees iemand loslaat. Wil julle hê ek moet die koning van die Jode vir julle loslaat?” Hulle skreeu toe terug: “Nie vir hom nie, maar vir Barabbas!” En Barabbas was 'n rower.

JOHANNES 18:1-40 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Nadat Jesus hierdie dinge gesê het, het Hy saam met sy dissipels na die oorkant van die Kidrondal vertrek waar daar 'n tuin was. Hy en sy dissipels het toe daar ingegaan. Judas, sy verraaier, het ook die plek geken, omdat Jesus en sy dissipels dikwels daar bymekaargekom het. Judas het toe daar aangekom met die kohort soldate, en die tempelwagte van die leierpriesters en die •Fariseërs, met fakkels en lampe en wapens. Jesus het geweet van al die dinge wat met Hom sou gebeur, en het uitgegaan en vir hulle gevra: “Wie soek julle?” Hulle antwoord Hom: “Jesus, die Nasarener.” Hy sê toe vir hulle: “Ek Is Hy.” Judas, sy verraaier, het ook daar by hulle gestaan. Toe Hy vir hulle sê, “Ek Is Hy,” het die soldate teruggedeins en op die grond neergeval. Hy het weer vir hulle gevra: “Wie soek julle?” En hulle sê: “Jesus, die Nasarener.” Jesus het geantwoord: “Ek het vir julle gesê, Ek Is Hy. As julle dan na My soek, laat hierdie mense gaan.” Sodoende sou die woorde wat Hy gesê het, vervul word: “Hulle wat U aan My gegee het, van hulle het Ek nie een verlore laat gaan nie.” Simon •Petrus het toe 'n swaard wat hy gedra het, getrek en na die hoëpriester se slaaf geslaan en sy regteroor afgekap. Die slaaf se naam was Malgus. Toe sê Jesus vir Petrus: “Steek die swaard terug in sy skede. Die beker wat die Vader My gegee het – sal Ek dit dan nie drink nie? ” Toe het die kohort soldate en die chiliarg en die tempelwagte van die Jode Jesus gevange geneem en Hom geboei. En hulle het Hom eerste na Annas geneem. Hy was die skoonvader van Kajafas, wat daardie jaar die hoëpriester was. Dit was Kajafas wat die raad aan die Jode gegee het dat dit voordelig is dat een man vir die volk sterf. Simon •Petrus en 'n ander dissipel het Jesus gevolg. Daardie dissipel was aan die hoëpriester bekend, en hy het saam met Jesus by die hoëpriester se voorhof ingegaan. Petrus het egter buite by die deur bly staan. Toe het die ander dissipel, die een wat aan die hoëpriester bekend was, uitgestap en met die deurwag gaan praat, en Petrus na binne gebring. Die diensmeisie wat die deurwag was, sê toe vir Petrus: “Is jy nie ook een van hierdie man se dissipels nie?” Hy antwoord: “Ek is nie!” Die slawe en die tempelwagte het hulle gestaan en warm maak by 'n koolvuur wat hulle gemaak het, omdat dit koud was. Ook Petrus het hom daar by hulle gestaan en warm maak. Die hoëpriester het Jesus toe ondervra oor sy dissipels en sy lering. Jesus antwoord hom toe: “Ek het openlik met die wêreld gepraat. Ek het altyd in die •sinagoge en op die tempelterrein, waar al die Jode saamkom, onderrig gegee, en Ek het niks in die geheim gesê nie. Waarom ondervra u My? Ondervra hulle wat gehoor het wat Ek vir hulle gesê het. Hulle weet wat Ek gesê het.” Toe Jesus dit sê, het een van die tempelwagte wat daar naby gestaan het, Hom 'n klap gegee en gesê: “Antwoord jy die hoëpriester so?” Jesus het hom geantwoord: “As Ek iets verkeerds gesê het, bring dan getuienis dat dit verkeerd is; maar as Ek reg is, waarom slaan jy My?” Annas het Hom toe geboeid na die hoëpriester Kajafas weggestuur. Simon •Petrus het hom nog daar staan en warm maak. Hulle sê toe vir hom: “Is jy nie ook een van sy dissipels nie?” Petrus het dit ontken en gesê: “Ek is nie!” Een van die hoëpriester se slawe, 'n familielid van die een wie se oor Petrus afgekap het, het gesê: “Ek het jou mos in die tuin by hom gesien, dan nie?” Petrus het dit weer ontken. En onmiddellik het 'n haan gekraai. Van Kajafas af het hulle Jesus na die pretorium geneem. Dit was vroegoggend. Hulle het nie self die pretorium binnegegaan nie, sodat hulle nie •onrein sou word nie, maar die Pasga sou kon eet. •Pilatus het uitgegaan na hulle toe en gevra: “Watter aanklag lê julle teen hierdie man?” Hulle het hom geantwoord: “As hy nie 'n kwaaddoener was nie, sou ons hom nie aan u uitgelewer het nie.” Pilatus sê toe vir hulle: “Vat julle hom en oordeel hom volgens julle wet.” Die Jode sê vir hom, “Ons word nie toegelaat om iemand om die lewe te bring nie” – sodat die woorde wat Jesus gesê het om aan te toon watter dood Hy sou sterf, vervul sou word. Pilatus het toe weer 'n keer die pretorium binnegegaan en Jesus geroep en Hom gevra: “Is u die koning van die Jode?” Jesus antwoord: “Sê u dit uit u eie, of het ander mense dit oor My aan u vertel?” Pilatus antwoord toe: “Is ek miskien 'n Jood? Dit is ú volk en leierpriesters wat u aan my uitgelewer het. Wat het u gedoen?” Jesus het geantwoord: “My koningskap is nie van hierdie wêreld nie. As my koningskap van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het, sodat Ek nie aan die Jode uitgelewer word nie. Maar nou is my koningskap nie van hierdie wêreld nie.” “Is u dan tog 'n koning?” het Pilatus gevra. Jesus antwoord hom: “U sê dat Ek 'n koning is. Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek na die wêreld gekom: om oor die waarheid te getuig. Elkeen wie se bestaan in die waarheid gegrond is, luister na my stem. ” Pilatus sê toe vir Hom: “Wat is waarheid?” Nadat hy dit gesê het, het hy weer na die Jode uitgegaan en vir hulle gesê: “Ek vind geen skuld in hom nie.” “Maar daar is 'n gebruik vir julle dat ek vir julle een persoon vrylaat gedurende die Pasga. Wil julle hê dat ek vir julle die koning van die Jode vrylaat?” Hulle het toe weer geskreeu: “Beslis nie vir hom nie, maar vir Barabbas!” Barabbas was 'n misdadiger.

JOHANNES 18:1-40 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Toe Jesus hierdie woorde gespreek het, het Hy saam met sy dissipels uitgegaan oor die spruit Kedron, waar 'n tuin was, waarin Hy ingegaan het, en sy dissipels. En Judas, wat Hom verraai het, het ook die plek geken, want Jesus het dikwels saam met sy dissipels daarheen gekom. Toe Judas 'n bende manne en offisiere van die owerpriesters en Fariseërs ontvang het, het hy daarheen gekom met lanterns en fakkels en wapens. Jesus het dan, omdat Hy alles geweet het wat oor hom sou kom, uitgegaan en vir hulle gesê: Wie soek julle? Hulle antwoord hom: Jesus van Nasaret. Jesus sê vir hulle: Dit is Ek. En Judas, wat Hom verraai het, het ook by hulle gestaan. Toe Hy dan vir hulle gesê het: Dit is ek, het hulle agteruit gegaan en op die grond geval. Toe vra hy hulle weer: Wie soek julle? En hulle sê: Jesus, die Nasaret. Jesus antwoord: Ek het vir julle gesê dat dit Ek is; as julle My daarom soek, laat hulle weggaan. Sodat die woord vervul sou word wat Hy gespreek het: Van die wat U My gegee het, het ek niemand verloor nie. Toe het Simon Petrus met 'n swaard dit getrek en die dienaar van die hoëpriester geslaan en sy regteroor afgekap. Die dienaar se naam was Malgus. Toe sê Jesus vir Petrus: Steek jou swaard in die skede: die beker wat my Vader My gegee het, sal Ek dit nie drink nie? Toe het die bende en die owerste en die beamptes van die Jode Jesus geneem en Hom geboei. En hy het hom eers na Annas weggelei; want hy was skoonvader van Kájafas, wat daardie jaar die hoëpriester was. En dit was Kajafas wat aan die Jode raad gegee het dat dit raadsaam was dat een man vir die volk moes sterf. En Simon Petrus het Jesus gevolg, en so ook 'n ander dissipel: daardie dissipel was bekend aan die hoëpriester en het saam met Jesus in die paleis van die hoëpriester ingegaan. Maar Petrus het buite by die deur gestaan. Daarop het daardie ander dissipel, wat aan die hoëpriester bekend was, uitgegaan en met haar wat die deur oppas, gespreek en Petrus ingebring. Toe sê die meisie wat die deur opgepas het vir Petrus: Is jy nie ook een van hierdie man se dissipels nie? Hy sê: Ek is nie. En die dienaars en die dienaars het daar gestaan wat 'n kole vuur gemaak het; want dit was koud, en hulle het hulself warm gemaak, en Petrus het by hulle gestaan en hom warm gemaak. Die hoëpriester het Jesus toe gevra na sy dissipels en na sy leer. Jesus antwoord hom: Ek het openlik met die wêreld gespreek; Ek het altyd onderrig gegee in die sinagoge en in die tempel waar die Jode altyd woon; en in die geheim het ek niks gesê nie. Waarom vra jy My? vra die wat My gehoor het, wat Ek vir hulle gesê het; kyk, hulle weet wat Ek gesê het. En toe hy dit gesê het, slaan een van die dienaars wat daar staan, Jesus met die palm van sy hand en sê: Antwoord u die hoëpriester so? Jesus antwoord hom: As Ek kwaad gespreek het, getuig van die kwaad; maar as dit goed is, waarom slaan jy My? En Annas het hom geboeid na Kajafas, die hoëpriester, gestuur. En Simon Petrus het gaan staan en hom warm gemaak. Hulle sê toe vir Hom: Is jy nie ook een van sy dissipels nie? Hy het dit ontken en gesê: Ek is nie. Een van die dienaars van die hoëpriester, sy bloedverwant wie se oor Petrus afgekap het, sê: Het ek jou nie saam met hom in die tuin gesien nie? Petrus het toe weer ontken, en dadelik het die haan gekraai. Toe het hulle Jesus van Kájafas af na die oordeelsaal gelei, en dit was vroeg; en hulle het self nie in die regsaal ingegaan nie, sodat hulle nie verontreinig sou word nie; maar dat hulle die pasga kan eet. Pilatus het toe uitgegaan na hulle en gesê: Watter beskuldiging bring julle teen hierdie man? Hulle antwoord en sê vir hom: As hy nie 'n kwaaddoener was nie, sou ons hom nie aan jou oorgegee het nie. Toe sê Pilatus vir hulle: Neem Hom en oordeel Hom volgens julle wet. Die Jode sê toe vir hom: Dit is ons nie geoorloof om iemand dood te maak nie. Sodat die woord van Jesus vervul sou word wat Hy gespreek het deur aan te dui watter dood hy sou sterwe. Pilatus het toe weer in die regslokaal ingegaan en Jesus geroep en vir Hom gesê: Is U die Koning van die Jode? Jesus antwoord hom: Sê jy hierdie ding van jouself, of het ander dit vir jou van My vertel? Pilatus antwoord: Is ek 'n Jood? U eie nasie en die owerpriesters het u aan my oorgegee; wat het u gedoen? Jesus antwoord: My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie; as my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het, dat Ek nie aan die Jode oorgelewer sou word nie; maar nou is my koninkryk nie van hier nie. Pilatus sê toe vir Hom: Is jy dan 'n koning? Jesus antwoord: U sê dat Ek 'n koning is. Hiertoe is Ek gebore, en daarom het Ek in die wêreld gekom om van die waarheid te getuig. Elkeen wat uit die waarheid is, luister na my stem. Pilatus sê vir Hom: Wat is waarheid? En nadat Hy dit gesê het, gaan Hy weer uit na die Jode en sê vir hulle: Ek vind geen skuld in hom nie. Maar julle het die gewoonte dat Ek vir julle een moet loslaat op die pasga; wil julle dan dat Ek vir julle die Koning van die Jode loslaat? Toe het hulle almal weer uitgeroep en gesê: Nie hierdie man nie, maar Barabbas. Nou Barrabbas was 'n rower.

JOHANNES 18:1-40 Die Boodskap (DB)

Jesus het klaar gebid. Van die plek waar hulle saamgeëet het, is Jesus-hulle na ’n tuin toe waar die feesgangers graag gekamp het. Die tuin het aan die ander kant van die Kedronspruit gelê. Die spruit het al langs Jerusalem se stadsmuur af geloop. Jesus het graag saam met sy dissipels na dié tuin toe gegaan. Daarom het Judas, wat teen Jesus gedraai het, geweet waar om Hom te gaan soek. Judas is toe saam met ’n hele klomp gewapende mans na die tuin toe. Behalwe die soldate was daar ook ’n spul polisiemanne wat vir die hoofpriesters en Fariseërs gewerk het. Hulle was goed bewapen. Met fakkels, lanterns en ’n spul wapens het hulle Jesus gaan soek. Jesus was nie verbaas nie. Hy het geweet wat op Hom wag. Toe die klomp soldate by die tuin aankom, stap Jesus na hulle toe. “Vir wie soek julle?” vra Hy. “Jesus wat van Nasaret af kom,” sê hulle. “Wel, dit is Ek,” antwoord Hy. (Judas het ook so ewe tussen die klomp soldate gestaan.) Toe die soldate hoor wat Jesus sê, het hulle verskrik teruggedeins en oor mekaar geval. Jesus herhaal toe sy vraag: “Vir wie soek julle?” “Jesus van Nasaret,” sê hulle weer. “Maar Ek het dan vir julle gesê dis Ek. As julle My wil hê, los hierdie ander dan uit.” So het dit wat Jesus beloof het, waar geword. Hy het mos gesê dat Hy daarvoor sou sorg dat nie een van hulle na wie Hy moes kyk, iets oorkom nie. Simon Petrus het ’n swaard by hom gehad. Hy pluk dit toe uit en kap na een van die mense wat vir die hoëpriester gewerk het. Sy naam was Malgus. Met dié tref hy Malgus teen die regteroor en sny dit morsaf. Jesus keer Petrus toe dadelik. “Nee, Petrus, bêre jou swaard! My Vader wil hê Ek moet hierdie pad loop. Wil jy miskien hê Ek moet ongehoorsaam wees en dit nie loop nie?” Die offisier, met sy soldate en die Joodse polisie, het Jesus gegryp en Hom geboei. Hulle het Hom toe eers na Annas toe gevat. Hy was Kajafas se skoonpa. Kajafas was daardie jaar die hoëpriester. Hy was nie net die belangrikste priester nie, maar ook die voorsitter van die belangrikste Joodse godsdienstige raad. Dit was ook hy wat die Jode oortuig het dat dit beter sou wees dat Jesus doodgemaak word as wat die hele volk by die Romeine in die moeilikheid kom. Simon Petrus en nog een van Jesus se volgelinge het ongemerk op ’n afstand agter Jesus aangeloop. Petrus se vriend het Kajafas geken. Daarom kon hy in die binneplein van Kajafas se huis ingaan, want hulle het Jesus daarheen gevat. Petrus het buite by die deur gestaan en wag. Petrus se vriend kom praat toe met die hekwag en vat Petrus saam in. Die hekwag was ’n vrou. Toe Petrus by haar verbyloop, vra sy skielik: “Jong, is jy nie een van die volgelinge van hierdie gevangene hier binne nie?” “Jy verbeel jou dit,” sê Petrus. In die binneplein het hulle ’n lekker vuur gemaak, want dit was koud. Die werkers en polisie het almal om die vuur gestaan om warm te kry. Petrus het ook tussen hulle gaan staan vir so ’n bietjie hitte. Intussen het die hoëpriester Jesus onder kruisverhoor begin neem. Hy het Hom uitgevra oor sy volgelinge en oor wat Hy gepreek het. Jesus het so op al sy vrae gereageer: “Ek het oral openlik gepraat. Die tempel en bymekaarkomplekke van die Jode was my kansel. Dáár het Ek gepreek. Ek het nie iewers in die geheim opruiende toesprake gehou nie. Moet My nou nie vra om alles te herhaal nie. Gaan vra die mense wat My hoor preek het. Hulle weet wat Ek gesê het.” Toe Jesus dit sê, klap een van die polisiemanne Hom. “Is dit hoe jy met die hoëpriester praat?” bulder hy. “As Ek iets verkeerds gesê het, vertel My tog asseblief wat dit is. Maar as Ek nie iets verkeerds gesê het nie, vir wat klap jy My?” vra Jesus. Annas stuur Jesus toe na Kajafas toe. Jesus was nog geboei. Petrus het hom intussen nog daar by die vuur in die binneplein gestaan en warm maak. “Maar is jy nie een van die volgelinge van Jesus nie?” vra iemand hom. “Nee, nooit!” ontken Petrus dit. “Maar het ons jou dan nie in die tuin saam met Jesus gesien nie?” vra ’n ander een hom. Dinge het nou vir Petrus begin warm word. Die een wat hom dit gevra het, was familie van Malgus wie se oor Petrus afgekap het. Boonop het hy ook nog vir die hoëpriester gewerk. Petrus het weer ’n keer alles ontken. Sy woorde was skaars koud of die haan het gekraai. Van Kajafas se huis af het hulle Jesus na die plek toe gevat waar die Romeinse heerser gewoonlik die gevangenes verhoor het. Dit was in die sterk vesting waar Pilatus gebly het. Dit was nog baie vroeg daardie oggend. Die Jode het egter nie in die binneplein van die vesting ingegaan nie, want hulle paasfees was mos aan die gang. Daarom wou hulle nie dinge doen wat hulle onrein sou maak nie. Dit sou beteken dat hulle nie die paaslam kon eet nie. Dit wou hulle nie waag nie. Pilatus het toe maar uit die vesting na die Jode toe gestap. “Laat ek hoor,” sê hy. “Wat is julle aanklag teen hierdie man?” Die Jode val toe vinnig weg: “As hy nie so ’n klomp slegte dinge aangevang het nie, sou ons mos nie die moeite gedoen het om hom te vang en na u toe te bring nie,” sê hulle. “In daardie geval kan julle hom mos sommer self verhoor. Julle het mos wette wat vir julle sê wat om te doen,” antwoord Pilatus. “Nee, ons kan nie,” kap die Jode terug. “Ons word mos nie toegelaat om iemand tot die dood te veroordeel nie.” So het nog iets waar geword wat Jesus voorspel het. Hy het mos voor die tyd vir hulle vertel op watter manier Hy sou doodgaan. Pilatus het omgedraai en teruggestap na Jesus toe. Hy was nog in die vesting. Daar gekom, roep hy Jesus nader. “Sê my, is jy die koning van die Jode? Is jy die een wat oor die Jode gaan heers?” Jesus antwoord toe: “Vra jy dit omdat ander dit van My gesê het, of is dit omdat jy self so ’n aanvoeling oor My het?” “Lyk ek vir jou na ’n Jood wat sulke aanvoelings sal hê?” reageer Pilatus dadelik. “Jou eie mense en die leiers van die priesters het jou hier voor my gesleep. Wat het jy aangevang?” Jesus antwoord toe: “Ek is ’n koning, maar nie ’n aardse koning nie. As Ek ’n aardse koning was, sou my volgelinge hand en tand baklei het om te keer dat die Jode My vang. Dis miskien wat aardse konings doen, maar Ek is nie so ’n koning nie.” “O so, dan is jy tog ’n koning!” sê Pilatus toe. “As jy so sê,” sê Jesus. “Ek het na hierdie wêreld toe gekom met ’n doel: om met oortuiging vir mense die waarheid te kom vertel. Ja, daarvoor is Ek gebore. Weet jy wie luister na wat Ek sê? Mense wat hart en siel aan die kant van die waarheid staan.” “Waarvan praat jy? Wat is die waarheid?” vra Pilatus Hom. Na die gesprek is Pilatus toe weer buitetoe. Daar sê hy vir die Jode: “Dit lyk nie vir my of hierdie man iets verkeerds gedoen het nie. Ek wil ’n voorstel maak. Ek laat mos altyd met paasfees vir julle ’n gevangene vry. Wat daarvan as ek vir julle hierdie koning van die Jode laat gaan?” “Nooit!” skree hulle. “Ons soek Barabbas. Laat hom vir ons los!” (Barabbas was ’n Joodse terroris.)

JOHANNES 18:1-40 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Nadat Jesus dit gesê het, het Hy saam met sy dissipels die Kedronspruit oorgesteek. Aan die oorkant was daar ’n tuin geleë. Hy en sy dissipels het die tuin toe binnegegaan. Judas, die een wat Hom sou uitlewer, het ook die plek geken omdat Jesus en sy dissipels dikwels daar bymekaargekom het. Judas het op daardie oomblik die afdeling soldate en die wagte van die priesterhoofde en Fariseërs begelei en by die Olyftuin aangekom met lanterns, fakkels en wapens. Jesus was egter deeglik bewus van alles wat oor Hom sou kom en het op sy eie uit die groep na vore beweeg en vir hulle gesê: “Wie soek julle eintlik?” Hulle het Hom geantwoord: “Jesus van Nasaret.” “Dit is Ek,” antwoord Jesus. Judas, die een wat Hom sou uitlewer, het ook daar tussen hulle rondgestaan. En toe Jesus vir hulle sê: “Dit is Ek!” het hulle almal padgegee en op die grond neergeval. Jesus het sy vraag aan hulle herhaal: “Wie soek julle eintlik?” “Jesus van Nasaret,” was hulle antwoord. Jesus se reaksie was: “Ek het dan vir julle gesê dat dit Ek is. As julle Mý dan soek, laat hierdie mense wat saam met My is, weggaan.” Sodoende het die woord wat Hy vroeër uitgespreek het, waar geword: “Uit die mense wat U aan My toevertrou het, het niemand verlore gegaan nie.” Simon Petrus het ’n swaard by hom gedra. Hy trek toe sy swaard uit die skede, slaan daarmee na die slaaf van die hoofpriester, en kap sy regteroor af. Die slaaf se naam was Malgus. Jesus sê toe dadelik vir Petrus: “Sit die swaard terug in sy skede. Sal Ek dan nie die beker drink wat die Vader aan My gegee het nie?” Toe het die afdeling soldate en die bevelvoerder en die wagte van die Joodse owerhede Jesus gearresteer en Hom geboei. Hulle het Hom eers na Annas toe gebring. Hy was die skoonpa van Kajafas wat gedurende daardie jaar die hoofpriester was. Dit was Kajafas wat die Jode met die raad bedien het dat dit voordeliger is dat een man vir die volk sterf. Simon Petrus en ’n ander dissipel het Jesus gevolg. Daardie ander dissipel was bevriend met die hoofpriester en het saam met Jesus die hoofpriester se binnehof ingegaan. Petrus het egter buite by die hek bly staan. Toe het daardie ander dissipel wat bevriend was met die hoofpriester, uitgegaan, met die meisie wat diens doen by die deur gepraat en Petrus ingebring. Die meisie sê toe vir Petrus: “Is jy nie tog ook een van die dissipels van hierdie man nie?” “Ek is nie!” antwoord Petrus. Die slawe en die wagte het hulle rondom ’n vuur staan en warm maak, omdat dit koud was. Petrus het saam met hulle hom daar staan en warm maak. Die hoofpriester het Jesus uitgevra oor sy dissipels en oor sy onderrig aan die mense. Jesus het hom geantwoord: “Ek het tot nou toe openlik met die mense gepraat. Ek het altyd in die sinagoge en in die tempel onderrig gegee, waar al die Jode saamgekom het, en Ek het niks in die geheim gesê nie. Waarom ondervra u My? Vra liewer dié mense wat gehoor het wat Ek aan hulle gesê het. Hulle weet wat Ek gesê het.” Toe Jesus dié antwoord gegee het, het een van die wagte wat daar rondgestaan het, Jesus ’n vuishou gegee en gesê: “Is dit hoe jy die hoofpriester antwoord?” Jesus het hom geantwoord: “As Ek kwaadwillig gepraat het, sê dan wat so kwaadwillig was; maar as dit met goeie bedoelings was, waarom slaan jy My?” Annas het Hom toe geboei na Kajafas, die hoofpriester, gestuur. Simon Petrus was nog besig om hom te staan en warm maak toe iemand vir hom sê: “Is jy nie tog ook een van sy dissipels nie?” Hy het dit heftig ontken en gesê: “Nee, ek is nie!” Een van die hoofpriester se slawe, verwant aan dié een wie se oor Petrus afgekap het, vra toe: “Het ek jou nie ook in die tuin saam met hom gesien nie?” Petrus het dit weer ’n keer heftig ontken en onmiddellik het die haan gekraai. Daarop het hulle Jesus van Kajafas af na die hoofkwartier van die Romeinse goewerneur gebring. Dit was vroegoggend. Self het hulle nie ingegaan na die hoofkwartier nie sodat hulle nie onrein sou word nie, met die oog daarop om die Paasfees te kan vier. Pilatus het buitentoe na hulle gestap en gevra: “Watter beskuldiging bring julle teen hierdie man in?” Hulle antwoord was: “As hy nie ’n misdaad gepleeg het nie, sou ons hom nie aan u uitgelewer het nie.” Pilatus sê toe vir hulle: “Neem hom en gaan oordeel hom volgens julle eie wet.” Die Jode het egter vir hom gesê: “Ons word nie toegelaat om enigiemand tereg te stel nie.” Dit het só plaasgevind sodat die woorde van Jesus vervul sou word toe Hy gesinspeel het op watter vorm van dood Hy sou sterf. Pilatus het toe weer in die hoofkwartier ingegaan, Jesus geroep en vir Hom gesê: “Is jy die Koning van die Jode?” Jesus het daarop reageer: “Sê u dit uit u eie, of het ander dit oor My aan u vertel?” “Ek is mos nie ’n Jood nie!” het Pilatus geantwoord. “Jou volk en jou priesterhoofde het jou aan my uitgelewer. Wat het jy regtig verkeerd gedoen?” Jesus het geantwoord: “My koningskap is nie van hierdie wêreld nie. As my heerskappy van hierdie wêreld was, sou my onderdane hard geveg het sodat Ek nie aan die Joodse owerhede uitgelewer word nie. Maar nou is my heerskappy nie van hier nie.” “Is jy dan tog wel ’n koning?” vra Pilatus. “U sê dit, dat Ek ’n koning is,” antwoord Jesus. “Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek na die wêreld toe gekom, met die doel om vir die waarheid getuienis af te lê. Elkeen wat lief is vir die waarheid, luister na my stem.” Pilatus sê toe vir Jesus: “Wat is waarheid?” Terwyl hy dit sê, gaan Pilatus weer buitentoe na die Jode en kondig aan: “Ek vind geen skuld in hom nie. Dit is egter die gebruik by julle dat ek iemand vir julle loslaat op die Paasfees. Wil julle dus hê dat ek vir julle die Koning van die Jode loslaat?” Hulle skree toe terug: “Nee, beslis nie daardie man nie, eerder vir Barabbas!” Barabbas was ’n misdadiger.