Johannes 18

18
Jesus gevange geneem
(Matt 26:47-56; Mark 14:43-50; Luk 22:47-53)
1 Nadat Jesus hierdie dinge gesê het, het Hy saam met sy dissipels na die oorkant van die Kidrondal vertrek waar daar 'n tuin was. Hy en sy dissipels het toe daar ingegaan. 2Judas, sy verraaier, het ook die plek geken, omdat Jesus en sy dissipels dikwels daar bymekaargekom het. 3Judas het toe daar aangekom met die kohort soldate, en die tempelwagte van die leierpriesters en die •Fariseërs, met fakkels en lampe en wapens. 4Jesus het geweet van al die dinge wat met Hom sou gebeur, en het uitgegaan en vir hulle gevra: “Wie soek julle?” 5Hulle antwoord Hom: “Jesus, die Nasarener.” Hy sê toe vir hulle: “Ek Is Hy.” Judas, sy verraaier, het ook daar by hulle gestaan. 6Toe Hy vir hulle sê, “Ek Is Hy,” het die soldate teruggedeins en op die grond neergeval. 7Hy het weer vir hulle gevra: “Wie soek julle?” En hulle sê: “Jesus, die Nasarener.” 8Jesus het geantwoord: “Ek het vir julle gesê, Ek Is Hy. As julle dan na My soek, laat hierdie mense gaan.” 9 Sodoende sou die woorde wat Hy gesê het, vervul word: “Hulle wat U aan My gegee het, van hulle het Ek nie een verlore laat gaan nie.” 10Simon •Petrus het toe 'n swaard wat hy gedra het, getrek en na die hoëpriester se slaaf geslaan en sy regteroor afgekap. Die slaaf se naam was Malgus. 11Toe sê Jesus vir Petrus: “Steek die swaard terug in sy skede. Die beker wat die Vader My gegee het – sal Ek dit dan nie drink nie? ”
Jesus voor Annas
(Matt 26:57-58; Mark 14:53-54; Luk 22:54)
12Toe het die kohort soldate en die chiliarg en die tempelwagte van die Jode Jesus gevange geneem en Hom geboei. 13 En hulle het Hom eerste na Annas geneem. Hy was die skoonvader van Kajafas, wat daardie jaar die hoëpriester was. 14Dit was Kajafas wat die raad aan die Jode gegee het dat dit voordelig is dat een man vir die volk sterf.
Eerste verloëning deur Petrus
(Matt 26:69-70; Mark 14:66-68; Luk 22:55-57)
15Simon •Petrus en 'n ander dissipel het Jesus gevolg. Daardie dissipel was aan die hoëpriester bekend, en hy het saam met Jesus by die hoëpriester se voorhof ingegaan. 16Petrus het egter buite by die deur bly staan. Toe het die ander dissipel, die een wat aan die hoëpriester bekend was, uitgestap en met die deurwag gaan praat, en Petrus na binne gebring. 17Die diensmeisie wat die deurwag was, sê toe vir Petrus: “Is jy nie ook een van hierdie man se dissipels nie?” Hy antwoord: “Ek is nie!” 18Die slawe en die tempelwagte het hulle gestaan en warm maak by 'n koolvuur wat hulle gemaak het, omdat dit koud was. Ook Petrus het hom daar by hulle gestaan en warm maak.
Jesus voor die Sanhedrin
(Matt 26:59-66; Mark 14:55-64; Luk 22:66-71)
19Die hoëpriester het Jesus toe ondervra oor sy dissipels en sy lering. 20Jesus antwoord hom toe: “Ek het openlik met die wêreld gepraat. Ek het altyd in die •sinagoge en op die tempelterrein, waar al die Jode saamkom, onderrig gegee, en Ek het niks in die geheim gesê nie. 21Waarom ondervra u My? Ondervra hulle wat gehoor het wat Ek vir hulle gesê het. Hulle weet wat Ek gesê het.” 22 Toe Jesus dit sê, het een van die tempelwagte wat daar naby gestaan het, Hom 'n klap gegee en gesê: “Antwoord jy die hoëpriester so?” 23Jesus het hom geantwoord: “As Ek iets verkeerds gesê het, bring dan getuienis dat dit verkeerd is; maar as Ek reg is, waarom slaan jy My?” 24 Annas het Hom toe geboeid na die hoëpriester Kajafas weggestuur.
Tweede verloëning deur Petrus
(Matt 26:71-75; Mark 14:69-72; Luk 22:58-62)
25Simon •Petrus het hom nog daar staan en warm maak. Hulle sê toe vir hom: “Is jy nie ook een van sy dissipels nie?” Petrus het dit ontken en gesê: “Ek is nie!” 26Een van die hoëpriester se slawe, 'n familielid van die een wie se oor Petrus afgekap het, het gesê: “Ek het jou mos in die tuin by hom gesien, dan nie?” 27 Petrus het dit weer ontken. En onmiddellik het 'n haan gekraai.
Jesus voor Pilatus
(Matt 27:1-2,11-14; Mark 15:1-5; Luk 23:1-5)
28Van Kajafas af het hulle Jesus na die pretorium geneem. Dit was vroegoggend. Hulle het nie self die pretorium binnegegaan nie, sodat hulle nie •onrein sou word nie, maar die Pasga sou kon eet. 29•Pilatus het uitgegaan na hulle toe en gevra: “Watter aanklag lê julle teen hierdie man?” 30Hulle het hom geantwoord: “As hy nie 'n kwaaddoener was nie, sou ons hom nie aan u uitgelewer het nie.” 31 Pilatus sê toe vir hulle: “Vat julle hom en oordeel hom volgens julle wet.” Die Jode sê vir hom, “Ons word nie toegelaat om iemand om die lewe te bring nie” – 32 sodat die woorde wat Jesus gesê het om aan te toon watter dood Hy sou sterf, vervul sou word. 33Pilatus het toe weer 'n keer die pretorium binnegegaan en Jesus geroep en Hom gevra: “Is u die koning van die Jode?” 34Jesus antwoord: “Sê u dit uit u eie, of het ander mense dit oor My aan u vertel?” 35Pilatus antwoord toe: “Is ek miskien 'n Jood? Dit is ú volk en leierpriesters wat u aan my uitgelewer het. Wat het u gedoen?” 36Jesus het geantwoord: “My koningskap is nie van hierdie wêreld nie. As my koningskap van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het, sodat Ek nie aan die Jode uitgelewer word nie. Maar nou is my koningskap nie van hierdie wêreld nie.” 37“Is u dan tog 'n koning?” het Pilatus gevra. Jesus antwoord hom: “U sê dat Ek 'n koning is. Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek na die wêreld gekom: om oor die waarheid te getuig. Elkeen wie se bestaan in die waarheid gegrond is, luister na my stem. ” 38Pilatus sê toe vir Hom: “Wat is waarheid?” Nadat hy dit gesê het, het hy weer na die Jode uitgegaan en vir hulle gesê: “Ek vind geen skuld in hom nie.”
Jesus ter dood veroordeel
(Matt 27:15-31; Mark 15:6-20; Luk 23:13-25)
39“Maar daar is 'n gebruik vir julle dat ek vir julle een persoon vrylaat gedurende die Pasga. Wil julle hê dat ek vir julle die koning van die Jode vrylaat?” 40 Hulle het toe weer geskreeu: “Beslis nie vir hom nie, maar vir Barabbas!” Barabbas was 'n misdadiger.

Tans Gekies:

Johannes 18: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid