Johannes 18

18
Die soldate en die wagte vang vir Jesus
(Ook Matt 26:36,47-52,54; Mark 14:32,43,45-47; Luk 22:39,47,50-51)
1Toe Jesus klaar gepraat het, het Hy saam met sy dissipels buitetoe gegaan. Hulle het na die ander kant van die Kedron-vallei gegaan. Daar was 'n tuin, en hulle het in die tuin ingegaan. 2Judas, wat vir Jesus verraai het, het ook geweet waar die tuin is, want Jesus en sy dissipels het baie maal daarnatoe gegaan. 3Daarom het Judas soldate gaan roep en ook party van die priesterleiers en die Fariseërs se wagte. Hulle het lampe, fakkels en wapens saamgeneem en hulle het by die tuin gekom. 4Jesus het voor daardie tyd geweet wat alles met Hom sal gebeur. Daarom het Hy na Judas en die soldate toe geloop en Hy het vir hulle gevra: “Vir wie soek julle?”
5Hulle het vir Hom gesê: “Ons soek vir Jesus van Nasaret.”
Jesus het gesê: “Dit is Ek.”
Judas het ook daar by hulle gestaan. Dit was hy wat vir Jesus verraai het.
6Toe Jesus vir hulle sê Hy is Jesus vir wie hulle soek, het hulle geskrik en op die grond geval. 7Jesus het weer vir hulle gevra: “Vir wie soek julle?”
Hulle het gesê: “Ons soek vir Jesus van Nasaret.”
8Jesus het vir hulle gesê: “Ek het vir julle gesê dit is Ek. Dit is vir Mý wat julle wil vang, daarom kan julle my dissipels laat gaan.”
9Jesus het dit gesê sodat die woorde waar kon word wat Hy voorheen gesê het: “ Vader, U het vir my mense gegee, en Ek het nie een van hulle laat verlore gaan nie.”
10Simon Petrus het 'n swaard by hom gehad. Hy het dit uitgeruk en hy het 'n slaaf van die hoëpriester daarmee gekap. Hy het die slaaf se regter-oor afgekap. Die slaaf se naam was Malgus. 11Toe sê Jesus vir Petrus: “Sit jou swaard terug op sy plek. My Vader wil hê Ek moet die beker van swaarkry drink, en Ek sal dit drink.”
Petrus sê hy ken nie vir Jesus nie
(Ook Matt 26:58,69; Mark 14:54,67; Luk 22:54-56)
12Die soldate, die offisier en die wagte van die Jode het vir Jesus gevang en hulle het Hom vasgebind. 13Hulle het Hom eers na Annas toe geneem. Annas was die skoonpa van Kajafas. Kajafas was daardie jaar hoëpriester. 14Dit was Kajafas wat vir die Jode gesê het dit is beter dat een mens sterf sodat al die mense van die volk kan lewe.
15Simon Petrus en 'n ander dissipel het Jesus gevolg. Die hoëpriester het die ander dissipel geken. Daarom het die ander dissipel saam met Jesus ingegaan tot voor die huis van die hoëpriester, 16maar Petrus het buite by die hek gebly staan. Later het die ander dissipel uitgekom, die hoëpriester het daardie dissipel geken. Die ander dissipel het met die vrou gepraat wat waggestaan het by die hek, en sy het vir Petrus laat inkom. 17Die vrou wat waggestaan het by die hek, het vir Petrus gesê: “Is jy ook een van hierdie man se dissipels?”
Petrus het vir haar gesê: “Nee, ek is nie.”
18Dit was koud. Daarom het die slawe en die wagte vuur gemaak en hulle het hulleself warm gemaak. Petrus het ook by hulle gestaan en hy het homself warm gemaak.
Die hoëpriester vra vir Jesus vrae
(Ook Matt 26:63,57; Mark 14:61,53; Luk 22:54)
19Die hoëpriester het vir Jesus vrae gevra oor sy dissipels en oor alles wat Hy vir die mense geleer het. 20Jesus het vir hom gesê: “Ek het altyd met die mense gepraat waar almal My kon sien. Ek het vir die mense geleer in die sinagoges en in die tempel waar baie Jode bymekaarkom. Ek het vir hulle geleer waar almal dit kon hoor. 21Hoekom vra jy hierdie dinge vir My? Jy moet vir die mense gaan vra wat My gehoor het. Hulle weet wat Ek gesê het.”
22Een van die wagte het daar naby gestaan. Toe hy hoor wat Jesus sê, klap hy vir Jesus en sê: “Jy moenie so lelik met die hoëpriester praat nie!”
23Jesus het vir hom gesê: “As Ek iets verkeerd gesê het, dan moet jy vir My sê wat Ek verkeerd gesê het. Maar as Ek niks verkeerd gesê het nie, dan mag jy My nie klap nie.”
24Toe het Annas vir Jesus na Kajafas gestuur. Kajafas was die hoëpriester. Jesus was nog vasgebind.
Petrus sê weer hy ken nie vir Jesus nie
(Ook Matt 26:69-74; Mark 14:66-72; Luk 22:56-61)
25Simon Petrus het nog buite by die vuur gestaan en hy het homself warm gemaak. Die ander mense wat daar gestaan het, het vir hom gevra: “Is jy ook een van Jesus se dissipels?”
Petrus het gesê: “Nee, ek is nie.”
26Een van die slawe van die hoëpriester het ook daar gestaan. Hy was familie van die man wie se oor Petrus afgekap het. Hy het vir Petrus gesê: “Ek dink ek het jou saam met Jesus in die tuin gesien.”
27Maar Petrus het weer gesê hy ken nie vir Jesus nie. Toe het die haan gekraai.
Pilatus vra vir Jesus of Hy 'n koning is
(Ook Matt 27:2,11,13-14; Mark 15:1-2,4-5; Luk 23:1,3-4,9)
28Die Jode het vir Jesus gebring van Kajafas se huis na die huis van die goewerneur. Dit was vroeg in die oggend. Hulle het nie in die goewerneur se huis ingegaan nie, want hulle was bang hulle word onrein en dan mag hulle nie die Paas-ete eet nie. 29Pilatus, die goewerneur, het uitgegaan na die Jode daar buite. Hy het vir hulle gesê: “Julle moet vir my sê wat hierdie man Jesus verkeerd gedoen het.”
30Hulle het vir Pilatus gesê: “Jesus het baie verkeerd gedoen. Daarom het ons hom na jou toe gebring sodat jy hom moet straf.”
31Pilatus het vir hulle gesê: “Julle moet vir Jesus hier wegvat. Gaan kyk wat julle wette sê en dan kan julle self besluit of hy skuldig is.”
Die Jode het vir hom gesê: “Nee, ons kan dit nie doen nie, want ons mag nie iemand doodmaak nie.”
32Dit het gebeur sodat die woorde kan waar word wat Jesus gesê het. Hy het voorheen gesê hoe Hy sal sterf. 33Pilatus het weer in sy huis ingegaan. Hy het vir Jesus laat roep en hy het vir Jesus gevra: “Is jy die koning van die Jode?”
34Jesus het vir Pilatus gevra: “Hoekom vra jy vir My of Ek die koning van die Jode is? Het jy dit self gedink, of het ander mense met jou gepraat oor My?”
35Pilatus het vir Jesus gesê: “Ek is nie 'n Jood nie! Jou eie mense en die priesterleiers het jou na my toe gebring. Hulle wil hê ek moet jou straf. Jy moet vir my sê wat jy verkeerd gedoen het.”
36Jesus het vir hom gesê: “Ek is nie 'n koning soos die ander konings op die aarde nie. As Ek so 'n koning is, dan sal my mense veg om My te beskerm, en jy sal My dan nie vir die Jode kan gee nie. Nee, Ek is nie 'n koning soos die ander konings op die aarde nie.”
37Pilatus het vir Jesus gesê: “O, jy is 'n koning?”
Jesus het vir hom gesê: “Dit is jý wat sê Ek is 'n koning. Ek is gebore en Ek het na die wêreld gekom om vir die mense van die waarheid te kom vertel. Elkeen wat die waarheid gekry het van God, luister na My.”
38Pilatus vra toe vir Jesus: “Wat is die waarheid? Ek dink niemand weet nie.”
Pilatus sê die soldate moet vir Jesus kruisig
(Ook Matt 27:15-17,21; Mark 15:6-9,11; Luk 23:18-19)
Toe Pilatus klaar met Jesus gepraat het, het Hy weer uitgegaan na die Jode toe. Hy het vir hulle gesê: “Jesus het niks verkeerd gedoen nie. 39Julle weet ek laat altyd vir julle iemand uit die tronk kom wanneer dit Paasfees is. Wil julle hê ek moet vir Jesus, die koning van die Jode, laat uitkom?”
40Hulle het hard geskree: “Nee, jy moenie vir Jesus laat uitkom nie! Jy moet vir Barabbas laat uitkom!”
Barabbas was 'n man wat teen die Romeinse regering geveg het.

Tans Gekies:

Johannes 18: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid