JOHANNES 12:9-11 - Compare All Versions

JOHANNES 12:9-11 AFR83 (Afrikaans 1983)

Baie van die Jode het verneem dat Jesus daar is en het daarheen gekom, nie net ter wille van Jesus nie, maar ook om vir Lasarus te sien wat Hy uit die dood opgewek het. Die priesterhoofde het toe besluit om ook vir Lasarus dood te maak, omdat baie van die Jode deur hom na Jesus toe oorgeloop en in Hom geglo het.

JOHANNES 12:9-11 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

En 'n groot menigte uit die Jode het verneem dat Hy daar was, en het gekom, nie alleen ter wille van Jesus nie, maar ook om Lasarus te sien, wat Hy uit die dode opgewek het. En die owerpriesters het besluit om Lasarus ook om die lewe te bring, omdat baie van die Jode deur hom weggegaan en in Jesus geglo het.

JOHANNES 12:9-11 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

’n Groot skare uit die geledere van die Jode het kennis geneem dat Jesus daar is. Hulle het daarheen gekom, nie net ter wille van Jesus self nie, maar ook om vir Lasarus, vir wie Jesus uit die dood opgewek het, te sien. Die priesterhoofde het begin beraadslaag en besluit om ook vir Lasarus dood te maak omdat baie van die Jode as gevolg van Lasarus na Jesus toe oorgeloop en in Hom geglo het.

JOHANNES 12:9-11 DB (Die Boodskap)

Die nuus dat Jesus in Betanië was, het soos ’n veldbrand versprei. Die Jode het dadelik afgesit soontoe. Dit was nie net omdat Jesus daar was nie. Hulle was baie nuuskierig om Lasarus ook te sien. Hulle wou sien hoe lyk iemand wat dood was, maar nou leef. Toe die leiers van die priesters dit hoor, het hulle besluit om Lasarus ook sommer uit die weg te ruim. Hulle het gesien hoe die Jode na Betanië gestroom en Jesus begin volg het.

JOHANNES 12:9-11 ABA (Bybel vir almal)

Baie Jode het gehoor dat Jesus in die dorpie Betanië is. Hulle het toe na Betanië gegaan. Hulle wou vir Jesus sien, maar hulle wou ook graag vir Lasarus sien. Dit is Lasarus wat dood was, maar Jesus het hom weer laat lewe. Die priesterleiers het besluit om Lasarus ook dood te maak, want baie van die Jode het gehoor dat Jesus vir Lasarus weer laat lewe het, en hulle het in Jesus geglo. Hulle het nie meer soos die ander Jode gedink nie.

JOHANNES 12:9-11 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

'n Groot skare Jode het verneem dat Jesus daar was, en hulle het gekom, nie ter wille van Jesus alleen nie, maar sodat hulle ook vir Lasarus kon sien wat Hy uit die dood opgewek het. En die leierpriesters het planne beraam om Lasarus ook dood te maak, omdat deur hom baie van die Jode oorgeloop en in Jesus geglo het.

JOHANNES 12:9-11 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

Baie mense van die Jode het dan geweet dat Hy daar was, en hulle het gekom nie alleen ter wille van Jesus nie, maar om ook Lasarus te sien, wat Hy uit die dode opgewek het. Maar die owerpriesters het beraadslaag om Lasarus ook dood te maak; Omdat baie van die Jode deur hom weggegaan en in Jesus geglo het.