Johannes 12

12
Salwing in Betanië
(Matt 26:6-13; Mark 14:3-9)
1Ses dae voor die Pasga het Jesus na Betanië gegaan. Dit was die tuiste van Lasarus, wat Jesus uit die dood opgewek het. 2Daar het hulle vir Hom toe 'n maaltyd voorberei, en Martha het hulle bedien. Lasarus was een van dié wat saam met Hom aan tafel was. 3Toe het Maria 'n litra egte, uiters kosbare nardusolie geneem, die voete van Jesus gesalf en met haar hare sy voete afgedroog. En die huis is deurtrek met die geur van die olie. 4Toe sê Judas Iskariot, een van sy dissipels, die een wat Hom sou verraai: 5 “Waarom is hierdie reukolie nie vir driehonderd denarius verkoop en die geld aan die armes gegee nie?” 6Hy het dit gesê, nie omdat hy vir die armes omgegee het nie, maar omdat hy 'n dief was – hy het die geldbeurs gedra en het van die bydraes gevat. 7Daarop het Jesus gesê: “Laat haar begaan – sy het dit vir die dag van my begrafnis bewaar. 8Want die armes het julle altyd by julle, maar vir My het julle nie altyd nie.”
Sameswering teen Lasarus
9'n Groot skare Jode het verneem dat Jesus daar was, en hulle het gekom, nie ter wille van Jesus alleen nie, maar sodat hulle ook vir Lasarus kon sien wat Hy uit die dood opgewek het. 10En die leierpriesters het planne beraam om Lasarus ook dood te maak, 11 omdat deur hom baie van die Jode oorgeloop en in Jesus geglo het.
Intog in Jerusalem
(Matt 21:1-11; Mark 11:1-11; Luk 19:28-40)
12Die volgende dag het die groot skare wat vir die fees gekom het, en wat gehoor het dat Jesus na Jerusalem kom, 13palmtakke gevat en Hom tegemoetgegaan en aanhoudend uitgeroep,
“Hosanna!
Geseënd is Hy wat kom
in die Naam van die Here!”
en:
“Die Koning van Israel!”
14En Jesus het 'n jong donkie gekry en daarop gaan sit, soos daar geskryf staan:
15 “Moenie vrees nie,
dogter van Sion!
Kyk, jou Koning kom,
Hy sit op 'n donkievul.”
16Hierdie dinge het sy dissipels eers nie verstaan nie, maar toe Jesus verheerlik is, het hulle onthou dat hierdie dinge oor Hom geskryf staan, en dat hulle dit vir Hom gedoen het. 17Die skare wat by Hom was toe Hy Lasarus uit die graf geroep en hom uit die dood opgewek het, het daarvan getuig. 18Die rede waarom die skare Hom tegemoetgegaan het, was omdat hulle gehoor het dat Hy hierdie teken gedoen het. 19Daarop het die •Fariseërs vir mekaar gesê: “Sien julle dat julle niks bereik nie! Kyk, die hele wêreld loop agter hom aan! ”
Openbare onderrig oor Jesus se dood
20Daar was 'n aantal Grieke onder die mense wat gekom het om op die fees te aanbid. 21Hulle het toe na Filippus gegaan, wat van Betsaida in Galilea was, en hom gevra: “Meneer, ons wil Jesus sien. ” 22Filippus het dit toe vir Andreas gaan vertel, en toe gaan sê Andreas en Filippus dit weer vir Jesus. 23Maar Jesus antwoord hulle: “Die uur het gekom dat die •Seun van die Mens verheerlik moet word. 24 Amen, amen, Ek sê vir julle: As 'n koringkorrel nie in die grond val en sterf nie, bly dit net een enkele korrel; maar as dit sterf, dra dit baie vrug. 25 Wie sy lewe liefhet, verloor dit; maar wie sy lewe in hierdie wêreld gering ag, sal dit vir die ewige lewe behou. 26As iemand My wil dien, laat hy My volg; en waar Ek is, daar sal my dienskneg ook wees. As iemand My dien, sal die Vader hom eer.
27“Nou is my siel ontsteld. Wat sal Ek sê? Vader, red My uit hierdie uur? Maar Ek het tog juis met die oog op hierdie uur gekom! 28Vader, verheerlik u Naam!” Daar het toe 'n stem uit die hemel gekom: “Ek het dit verheerlik, en Ek sal dit weer verheerlik.” 29En die skare wat daar gestaan en dit gehoor het, het gesê dat daar 'n donderslag was. Ander het gesê: “'n Engel het met hom gepraat.” 30Jesus het geantwoord: “Hierdie stem het nie ter wille van My gekom nie, maar ter wille van julle. 31Nou het die oordeel oor hierdie wêreld aangebreek; nou sal die heerser van hierdie wêreld uitgedryf word. 32En as Ek van die aarde af verhoog word, sal Ek almal na My toe trek.” 33 Dit het Hy gesê om aan te dui watter dood Hy sou sterf. 34Die skare het Hom toe geantwoord: “Ons het uit die wet gehoor dat die Christus vir ewig bly, en hoe sê u dat die •Seun van die Mens verhoog moet word? Wie is hierdie Seun van die Mens?” 35Jesus het toe vir hulle gesê: “Nog 'n kort tydjie is die lig by julle. Terwyl julle die lig het, leef daarvolgens, sodat die duisternis julle nie oorval nie. Wie in die duisternis leef, weet nie waarheen hy gaan nie. 36Terwyl julle die lig het, glo in die lig, sodat julle kinders van die lig kan wees. ”
Toe Jesus dit gesê het, het Hy weggegaan en Hom van hulle onttrek.
Jode se reaksie
37Hoewel Jesus so baie tekens in hulle teenwoordigheid gedoen het, het hulle nie in Hom geglo nie, 38sodat die woord wat die profeet Jesaja uitgespreek het, vervul kon word:
“Here, wie het ons boodskap geglo?
En die arm van die Here,
aan wie is dit geopenbaar?”
39Hulle kon nie tot geloof kom nie, want Jesaja het ook gesê:
40 “Hy het hulle oë verblind
en hulle harte verhard
sodat hulle nie met hulle oë kon sien
en met hulle harte kon verstaan
en kon terugdraai,
en Ek hulle genees nie.”
41Dit het Jesaja gesê, omdat hy sy heerlikheid gesien en oor Hom gepraat het. 42Nogtans het ook baie van hulle leiers in Hom begin glo, maar vanweë die •Fariseërs het hulle dit nie openlik bely nie, sodat hulle nie uit die •sinagoge geban sou word nie. 43 Hulle het immers die eer van mense meer liefgehad as die eer van God.
Redding en oordeel
44Jesus het uitgeroep en gesê: “Wie in My glo, glo nie net in My nie maar ook in Hom wat My gestuur het! 45 En wie My sien, sien Hom wat My gestuur het. 46Ek het as 'n lig na die wêreld gekom, sodat elkeen wat in My glo, nie in die duisternis sou bly nie. 47En as iemand my woorde hoor en dit nie bewaar nie, veroordeel Ek hom nie, want Ek het nie gekom om die wêreld te veroordeel nie, maar om die wêreld te verlos. 48Wie My verwerp en nie my woorde aanneem nie, het iets wat hom veroordeel: die woord wat Ek gespreek het, dit sal hom op die laaste dag veroordeel. 49 Ek het immers nie uit my eie gepraat nie, maar die Vader wat My gestuur het, het self vir My 'n opdrag gegee oor wat Ek moet sê en wat Ek moet verkondig. 50En Ek weet dat sy opdrag die ewige lewe is. Wat Ek dus sê, sê Ek presies net soos die Vader dit vir My gesê het. ”

Tans Gekies:

Johannes 12: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid