JOHANNES 12:1-6 - Compare All Versions

JOHANNES 12:1-6 AFR83 (Afrikaans 1983)

Ses dae voor die paasfees het Jesus na Betanië toe gekom, waar Lasarus wat Hy uit die dood opgewek het, gewoon het. Daar het hulle vir Jesus 'n ete gegee. Marta het bedien, en Lasarus was een van dié wat saam met Hom aan tafel was. Toe het Maria 'n halfliter egte, baie duur nardusolie gebring en dit op Jesus se voete uitgegiet en sy voete met haar hare afgedroog. Die hele huis is deurtrek met die geur van die reukolie. Judas Iskariot, een van sy dissipels, die een wat Hom sou verraai, sê toe: “Waarom is hierdie reukolie nie vir drie honderd silwermuntstukke verkoop en die geld vir die armes gegee nie?” Dit het hy gesê, nie omdat hy hom oor die armes bekommer het nie, maar omdat hy 'n dief was. Hy het die beursie gehad en het van die bydraes gevat.

JOHANNES 12:1-6 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

EN Jesus het ses dae voor die pasga na Betánië gekom waar Lasarus was, wat dood gewees het en wat Hy uit die dode opgewek het. Hulle het toe vir Hom daar 'n maaltyd berei, en Martha het bedien; en Lasarus was een van die wat saam met Hom aan tafel was. En Maria het 'n pond egte, baie kosbare nardussalf geneem en die voete van Jesus gesalf en sy voete afgedroog met haar hare. En die huis is vervul met die reuk van die salf. Toe sê een van sy dissipels, Judas Iskáriot, die seun van Simon, wat Hom sou verraai: Waarom is hierdie salf nie vir driehonderd pennings verkoop en die geld aan die armes gegee nie? En dit het hy gesê, nie omdat hy oor die armes besorg was nie, maar omdat hy 'n dief was en die beurs gehad het en die bydraes geneem het.

JOHANNES 12:1-6 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Ses dae voor die Paasfees sou begin, het Jesus na Betanië toe gekom waar Lasarus, wat Hy uit die dood opgewek het, gewoon het. Daar het hulle vir Jesus ’n aandete voorberei. Marta het dit voorgesit en Lasarus was een van dié wat saam met Hom vir die ete aangelê het. Maria het toe ’n halfliter baie duur aromatiese olie geneem en dit op Jesus se voete uitgegooi en sy voete met haar hare afgedroog. Die huis was gevul met die reuk van die olie. Judas Iskariot, een van sy dissipels, wat Hom nog sou uitlewer, sê toe: “Waarom is hierdie olie nie eerder vir ’n yslike bedrag verkoop en die opbrengs aan die armes gegee nie?” Dit het hy gesê, nie omdat hy so danig besorgd was oor die armes nie, maar omdat hy ’n dief was. Hy het die geldbeurs gedra en het van die bates verduister.

JOHANNES 12:1-6 DB (Die Boodskap)

Ses dae voor die paasfees kom Jesus weer in Betanië aan, waar Lasarus-hulle gebly het. Die mense daar het ’n spesiale ete vir Jesus gereël. Marta het hulle bedien en gesorg dat hulle genoeg het om te eet. Lasarus het saamgeëet. Maria bring toe ’n houer met duur olie wat van nardus gemaak is daar aan. Dit het soet en baie lekker geruik en is as ’n soort parfuum gebruik. Sy gooi toe sommer heelwat van die lekker olie oor Jesus se voete uit. Daarna vee sy die oortollige olie met haar hare van sy voete af. Die hele huis het lekker geruik van die heerlike olie. Judas Iskariot was nie baie tevrede daarmee nie. (Dit is dieselfde een wat Jesus later in die rug sou steek.) Hy was die volgeling van Jesus wat met hulle groepie se geld gewerk het. “Watse geldmorsery is dit dié? Hoekom het ons nie liewer die olie gevat en gaan verkoop nie? Ons sou maklik ’n volle jaar se salaris van ’n handwerker vir die olie kon gekry het. Dink net hoeveel armes ons met soveel geld kon gehelp het! Nou het ons niks nie.” Maar Judas was ’n groter jakkals as dit. Hy was nie so vreeslik bekommerd oor die armes nie. Nee, hy was ’n regte dief. Hy het mos met Jesus-hulle se geld gewerk en homself goed daaraan gehelp.

JOHANNES 12:1-6 ABA (Bybel vir almal)

Ses dae voor die Paasfees het Jesus na Betanië gegaan. Betanië was die plek waar Lasarus gewoon het. Jesus het voorheen vir Lasarus weer laat lewe nadat Lasarus gesterf het. Die mense het vir Jesus 'n ete gemaak. Marta het die kos bedien en Lasarus was een van die mense wat saam met Jesus geëet het. Maria het 'n halwe liter lekkerruik-olie gebring. Die olie was baie duur, want dit was regte nardus-olie. Maria het die olie op Jesus se voete gegooi en sy het toe Jesus se voete afgedroog met haar hare. Die hele huis het lekker geruik. Judas Iskariot was een van Jesus se dissipels. Hy was die dissipel wat later vir Jesus verraai het. Hy het gesê: “Maria het nou hierdie duur olie gemors. Ons kon dit verkoop het vir 300 silwer geldstukke en dan kon ons die geld vir die arm mense gegee het.” Maar Judas was nie regtig bekommerd oor die arm mense nie. Hy was 'n dief. Hy het die sak gedra waarin Jesus en die dissipels se geld was en hy het baie maal van die geld gesteel.

JOHANNES 12:1-6 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Ses dae voor die Pasga het Jesus na Betanië gegaan. Dit was die tuiste van Lasarus, wat Jesus uit die dood opgewek het. Daar het hulle vir Hom toe 'n maaltyd voorberei, en Martha het hulle bedien. Lasarus was een van dié wat saam met Hom aan tafel was. Toe het Maria 'n litra egte, uiters kosbare nardusolie geneem, die voete van Jesus gesalf en met haar hare sy voete afgedroog. En die huis is deurtrek met die geur van die olie. Toe sê Judas Iskariot, een van sy dissipels, die een wat Hom sou verraai: “Waarom is hierdie reukolie nie vir driehonderd denarius verkoop en die geld aan die armes gegee nie?” Hy het dit gesê, nie omdat hy vir die armes omgegee het nie, maar omdat hy 'n dief was – hy het die geldbeurs gedra en het van die bydraes gevat.

JOHANNES 12:1-6 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

Toe kom Jesus ses dae voor die pasga in Betanië, waar Lasarus was wat dood was, wat Hy uit die dood opgewek het. Daar het hulle vir hom 'n maaltyd gemaak; en Marta het bedien, maar Lasarus was een van die wat saam met hom aan tafel gesit het. Toe het Maria 'n pond nardussalf, baie duur, geneem en die voete van Jesus gesalf en sy voete met haar hare afgedroog, en die huis is gevul met die reuk van die salf. Toe sê een van sy dissipels, Judas Iskariot, Simon se seun, wat Hom sou verraai: Waarom is hierdie salf nie vir driehonderd pennies verkoop en aan die armes gegee nie? Dit het hy gesê, nie dat hy vir die armes omgegee het nie; maar omdat hy 'n dief was en die sak gehad het en gedra het wat daarin gesit is.