RIGTERS 3:1-4
RIGTERS 3:1-4 Bybel vir almal (ABA)
Die Here wou vir die Israeliete wat nog nie oorlog kon maak nie, leer hoe om oorlog te maak. Hy wou die Israeliete toets. Daarom het Hy hierdie volke laat bly waar hulle was: die mense in die vyf Filistynse stede, en al die Kanaäniete en Sidoniërs, en die Hewiete wat op die Libanon-berg gewoon het, van Baäl-Hermonberg tot by Lebo-Hamat. Die Here wou die Israeliete toets. Hy wou sien of hulle gehoorsaam sal wees aan sy gebooie. Hy het voorheen vir Moses gestuur om die gebooie vir hulle voorvaders te gee.
RIGTERS 3:1-4 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN dit is die nasies wat die HERE laat oorbly het om Israel, almal wat al die oorloë van Kanaän nie geken het nie, deur hulle op die proef te stel — net dat die geslagte van die kinders van Israel dit kan weet — om hulle te leer oorlog voer, ten minste die wat daar vroeër nie van geweet het nie: vyf vorste van die Filistyne en al die Kanaäniete en Sidoniërs en Hewiete wat in die gebergte Líbanon gewoon het, van die berg Baäl-Hermon af tot by die ingang na Hamat. Hulle was dan daar om deur hulle Israel op die proef te stel; om te weet of hulle na die gebooie van die HERE wat Hy hulle vaders deur Moses beveel het, sou luister.
RIGTERS 3:1-4 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die Here het hierdie nasies met rus gelaat om die Israeliete met hulle op die proef te stel, dié Israeliete wat nie ondervinding gehad het van al die oorloë teen die Kanaäniete nie. Die Here wou hierdie Israeliete leer hoe om oorlog te maak, hulle wat dit nie voorheen ondervind het nie. Die volgende nasies is met rus gelaat: die Filistyne met hulle vyf leiers, al die Kanaäniete, die mense van Sidon en die Hewiete wat Libanonberg bewoon het, van Baäl-Hermonberg af tot by Lebo-Hamat. Hulle is met rus gelaat om Israel met hulle te toets, om te sien of die Israeliete gehoorsaam sou wees aan die gebooie van die Here, die gebooie wat Hy hulle voorvaders deur Moses beveel het.
RIGTERS 3:1-4 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Dit is die nasies wat die HERE met rus gelaat het, om Israel deur hulle te toets – dit is nou almal wat nie ervaring gehad het van al die oorloë in Kanaän nie – net sodat die geslagte van die Israeliete ervaring kon opdoen om te leer oorlog maak, ten minste dié wat nie voorheen daarmee vertroud was nie: die vyf regeerders van die Filistyne, al die Kanaäniete, die Sidoniërs en die Hewiete wat op die Libanongebergte gewoon het, vanaf die berg Baäl-Hermon tot by Lebo-Hamat. Hulle was daar sodat die HERE Israel deur hulle kon toets, om vas te stel of Israel die gebooie van die HERE wat Hy hulle voorouers by monde van Moses beveel het, sal gehoorsaam.
RIGTERS 3:1-4 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En dit is die nasies wat die HERE nagelaat het om Israel deur hulle te beproef, almal uit Israel wat al die oorloë van Kanaän nie geken het nie; Net dat die geslagte van die kinders van Israel kan weet, om hulle oorlog te leer, ten minste die wat voorheen niks daarvan geweet het nie; Dit is naamlik vyf vorste van die Filistyne en al die Kanaäniete en die Sidoniërs en die Hewiete wat op die berg Líbanon gewoon het, van die berg Baäl-Hermon af tot by die ingang van Hamat. En hulle moes Israel deur hulle op die proef stel, om te weet of hulle sou luister na die gebooie van die HERE wat Hy hulle vaders deur die hand van Moses beveel het.
RIGTERS 3:1-4 Die Boodskap (DB)
Die Here het ’n klomp nasies in die land laat bly om die Israeliete wat nie teen die Kanaäniete geveg het nie te toets. Op hierdie manier wou die Here die Israeliete wat niks van oorlog geweet het nie, leer hoe om te veg. Hierdie volke is die Filistyne, met hulle vyf leiers, asook al die Kanaäniete, die Sidoniërs en die Hewiete wat in die berge van Libanon gebly het, vanaf die berg Baäl-Hermon tot by Lebo-Hamat. Hulle is met rus gelaat om te sien of die Israeliete die Here se bevele wat Hy deur Moses aan hulle voorouers gegee het, sou gehoorsaam.
RIGTERS 3:1-4 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die HERE het hierdie nasies langer daar laat bly. Die HERE wou die Israeliete wat nie aan die oorloë teen die Kanaäniete deelgeneem het nie, hiermee toets. Hy wou die geslag Israeliete wat nog geen ervaring van oorlog gehad het nie, leer hoe om oorlog te maak. Die nasies wat die HERE laat aanbly het, was die Filistyne onder aanvoering van hulle vyf leiers, al die Kanaäniete, die Sidoniërs en die Hewiete wat by Libanonberg vanaf Baäl-Hermonberg tot by Lebo-Hamat gewoon het. Die HERE het hulle almal daar laat bly om deur hulle agter te kom of die Israeliete bereid is om te luister na die gebooie van die HERE wat Hy deur Moses vir hulle voorouers gegee het.