Rigters 3

3
1Dit is die nasies wat die Here met rus gelaat het, om Israel deur hulle te toets – dit is nou almal wat nie ervaring gehad het van al die oorloë in Kanaän nie – 2net sodat die geslagte van die Israeliete ervaring kon opdoen om te leer oorlog maak, ten minste dié wat nie voorheen daarmee vertroud was nie: 3die vyf regeerders van die Filistyne, al die Kanaäniete, die Sidoniërs en die Hewiete wat op die Libanongebergte gewoon het, vanaf die berg Baäl-Hermon tot by Lebo-Hamat. 4Hulle was daar sodat die Here Israel deur hulle kon toets, om vas te stel of Israel die gebooie van die Here wat Hy hulle voorouers by monde van Moses beveel het, sal gehoorsaam.
5 Die Israeliete het toe tussen die Kanaäniete, die Hetiete, die Amoriete, die Feresiete, die Hewiete en die Jebusiete gewoon, 6en hulle dogters vir hulle as vroue geneem, hulle eie dogters aan hulle seuns gegee, en hulle gode gedien.
Otniël
7Die Israeliete het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Hulle het die Here hulle God vergeet en die Baäls en asjeras gedien. 8Toe het die toorn van die Here teen Israel ontbrand, en Hy het hulle oorgelewer in die hand van Kusan-Risatajim, die koning van Aram-Naharajim. Die Israeliete het Kusan-Risatajim agt jaar lank gedien. 9Toe het die Israeliete na die Here om hulp geroep. Hy het 'n verlosser vir die Israeliete laat opstaan, wat hulle verlos het. Dit was Otniël, die seun van Kenas, die jonger broer van Kaleb. 10Die Gees van die Here het op hom gerus en hy het Israel gerig. Hy het uitgetrek om oorlog te voer, en die Here het vir Kusan-Risatajim, die koning van Aram, in sy hand gegee, sodat hy die oorhand oor Kusan-Risatajim gekry het. 11Daarna het die land veertig jaar lank rus gehad. Toe het Otniël, seun van Kenas, gesterf.
Ehud
12Die Israeliete het weer gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Die Here het Eglon, die koning van Moab, teen Israel versterk, omdat hulle gedoen het wat verkeerd is in die oë van die Here. 13Eglon het die Ammoniete en Amalekiete by hom byeengebring. Hy het gegaan, Israel verslaan en die Palmstad ingeneem. 14Daarna het die Israeliete Eglon, die koning van Moab, agttien jaar lank gedien.
15Die Israeliete het na die Here om hulp geroep, en die Here het vir hulle 'n verlosser laat opstaan. Dit was Ehud, die seun van Gera, die Benjaminiet, 'n man wat linkshandig was. Die Israeliete het hom gestuur met belasting vir Eglon, die koning van Moab. 16Ehud het vir hom 'n swaard gemaak met twee snykante wat 'n gomed lank was. Hy het dit onder sy klere aan sy regterheup vasgegord. 17Hy gaan bied toe die belasting aan vir Eglon, die koning van Moab. Eglon was 'n baie vet man.
18Nadat hy die belasting nadergebring het, het hy die manskappe wat die belasting gedra het, laat gaan. 19Self het hy by die afgodsbeelde wat by Gilgal is, teruggedraai. “Ek het 'n geheime boodskap vir u, o koning,” het hy gesê. Eglon het gesê: “Stilte!” waarop almal wat hom bystaan, toe uitgegaan het. 20Maar Ehud het na hom toe ingegaan, waar hy in die koel bovertrek sit wat vir die koning alleen bedoel was. “Ek het 'n boodskap van God vir u,” het Ehud gesê. Toe Eglon van die troon af opstaan, 21steek Ehud sy linkerhand uit, vat die swaard van sy regterheup af en steek dit in sy maag in, 22sodat selfs die hef agter die lem ingaan en die vet die lem omsluit; want hy het nie die swaard uit sy maag uitgetrek nie. Hy is toe by die geheime uitgang uit. 23Ehud het na die pilaargang uitgegaan, maar hy het eers die deure na die bovertrek agter hom toegemaak en gesluit.
24Hy was net uit, toe daag Eglon se dienaars op en sien: Kyk, die deure na die bovertrek is dan gesluit! Hulle sê toe: “Hy is seker maar besig om sy voete te bedek in die koel kamer.” 25Hulle het gewag totdat hulle verleë geraak het, maar kyk, niemand het die deure van die bovertrek oopgemaak nie. Hulle vat toe 'n sleutel en sluit oop. En daar lê hulle heer op die grond – morsdood!
26Ehud het ontvlug terwyl hulle bly talm het. Hy is by die afgodsbeelde oor die grens en het na Seïra ontvlug. 27Daar aangekom, het hy in die heuwelland van Efraim die •ramshoring laat blaas. Die Israeliete het toe saam met hom afgetrek uit die bergland, met hom aan die voorpunt. 28Hy het vir hulle gesê: “Volg my, want die Here gee julle vyande, die Moabiete, in julle hand. ” Hulle het toe afgetrek agter hom aan en die driwwe van die Jordaan na Moab beset. Niemand is toegelaat om deur te gaan nie. 29Hulle het Moab in dié tyd verslaan – ongeveer tienduisend man, almal stewige manne, almal bekwame manne – nie een het ontvlug nie. 30Op daardie dag moes Moab die knie buig voor die mag van Israel.
Daarna het die land tagtig jaar lank rus gehad.
Samgar
31Ná Ehud was dit Samgar, seun van Anat. Hy het die Filistyne verslaan, seshonderd man, met 'n osdrywerstok. Ook hy het Israel verlos.

Tans Gekies:

Rigters 3: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid