RIGTERS 2:1-4
RIGTERS 2:1-4 Bybel vir almal (ABA)
Die Engel van die Here het van die stad Gilgal na die plek Bokim gegaan en Hy het vir die Israeliete gesê: “Ek het julle uit Egipte gebring na die land wat Ek vir julle voorvaders belowe het, en Ek het gesê: Ek sal nooit my verbond met julle breek nie, maar dan moet julle nie 'n ooreenkoms maak met die mense wat in die land woon nie, en julle moet hulle altare afbreek. “Maar julle was nie gehoorsaam aan My nie. Julle het nie gedoen wat Ek gesê het nie. Ek het ook vir julle gesê Ek sal nie die mense wegjaag wat in die land woon nie. Julle sal niks kan doen teen hulle en hulle gode nie. Julle sal word soos voëls in vangstrikke en vangnette.” Toe die Engel van die Here dit vir al die Israeliete sê, het hulle hard gehuil.
RIGTERS 2:1-4 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
TOE trek die Engel van die HERE van Gilgal op na Bogim en sê: Ek het julle uit Egipte laat optrek en julle gebring in die land wat Ek julle vaders met 'n eed beloof het, en gesê: Ek sal my verbond met julle in ewigheid nie verbreek nie; maar julle mag geen verbond met die inwoners van hierdie land maak nie; hulle altare moet julle omgooi. Maar julle het nie na my stem geluister nie. Wat het julle nou gedoen? So sê Ek dan ook: Ek sal hulle nie voor julle uit verdrywe nie, sodat hulle vyande vir julle sal wees, en hulle gode 'n strik vir julle. En terwyl die Engel van die HERE met hierdie woorde al die kinders van Israel toespreek, het die volk hulle stem verhef en geween
RIGTERS 2:1-4 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die Engel van die Here het van Gilgal af na Bokim toe gegaan. Hy het gesê: “Ek het julle uit Egipte laat trek en julle gebring in die land wat Ek met 'n eed aan julle voorvaders beloof het. Ek het vir hulle gesê: ‘Ek sal my verbond met julle nooit verbreek nie, maar julle mag nie 'n verdrag sluit met die inwoners van hierdie land nie. Julle moet hulle altare afbreek.’ Maar julle het My nie gehoorsaam nie. Waarom het julle dit gedoen? Daarom sê Ek vir julle: Ek sal nie hierdie nasies van julle af wegdryf nie. Hulle sal vir julle 'n strik word, en hulle gode sal vir julle 'n valstrik word.” Toe die Engel van die Here dit alles vir die Israeliete gesê het, het die hele volk hard gehuil.
RIGTERS 2:1-4 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die •Engel van die HERE het van Gilgal af opgegaan na Bogim en gesê: “Toe Ek julle uit Egipte laat optrek het en julle gebring het na die land wat Ek met 'n eed aan julle voorvaders beloof het, het Ek gesê, ‘Ek sal nooit my verbond met julle verbreek nie, maar julle mag nie 'n verdrag sluit met die inwoners van hierdie land nie. Hulle altare moet julle afbreek. ’ Maar julle het nie na my stem geluister nie. Waarom het julle so opgetree? En Ek sê ook vir julle, ‘Ek sal hulle nie voor julle uitdryf nie. Hulle gaan vir julle strikke word en hulle gode sal vir julle 'n valstrik word. ’ ” Nadat die Engel van die HERE hierdie woorde vir al die Israeliete gesê het, het die volk hardop gehuil.
RIGTERS 2:1-4 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En 'n engel van die HERE het van Gilgal na Bogim opgetrek en gesê: Ek het julle uit Egipte laat optrek en julle gebring in die land wat Ek aan julle vaders met 'n eed beloof het; en ek het gesê: Ek sal nooit my verbond met jou verbreek nie. En julle mag geen verbond sluit met die inwoners van hierdie land nie; hulle altare moet julle afbreek, maar na my stem het julle nie geluister nie. Waarom het julle dit gedoen? Daarom het ek ook gesê: Ek sal hulle nie voor jou uit verdryf nie; maar hulle sal wees soos dorings in julle sye, en hulle gode sal vir julle 'n strik wees. En toe die engel van die HERE hierdie woorde aan al die kinders van Israel spreek, het die volk hul stem verhef en geween.
RIGTERS 2:1-4 Die Boodskap (DB)
Die Engel van die Here is van Gilgal af na Bokim toe om ’n boodskap vir die Israeliete te gee. Hy het vir hulle gesê: “Ek het julle uit Egipte uit laat trek na hierdie land toe soos Ek julle voorouers beloof het. Ek het vir hulle gesê: ‘Ek sal nooit my ooreenkoms met julle breek nie, maar julle mag ook nie ’n kontrak met die inwoners van hierdie land sluit nie. Julle moet ook die altare vir hulle gode afbreek.’ Maar julle was ongehoorsaam! Hoekom? Omdat julle nie na My geluister het nie, gaan Ek nie meer hierdie mense voor julle uit laat vlug nie. Hulle sal vir julle ’n doring in die vlees wees en hulle afgode sal julle gedurig verlei.” Toe die Engel van die Here klaar gepraat het, het die Israeliete almal hardop begin huil.
RIGTERS 2:1-4 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die HERE se engel het ’n boodskap van God vir Israel gebring. Hy het van Gilgal af na Bokim toe opgegaan en gesê: “Ek het julle uit Egipte gered. Ek het julle na die land gebring wat Ek aan julle voorouers beloof het. Ek het vir hulle gesê: ‘Ek sal nooit my verbond met julle verbreek nie, maar julle mag nooit ’n verdrag sluit met die mense wat in hierdie land woon nie. Julle moet hulle altare afbreek.’ Julle het egter nie na My geluister nie. Hoekom het julle so gemaak? Daarom sê Ek nou vir julle: Ek gaan nie hierdie nasies voor julle verdryf nie. Hulle gaan vir julle ’n struikelblok wees. Julle gaan oor hulle gode struikel.” Ná die engel van die HERE die boodskap vir die Israeliete gebring het, het die hele volk in trane uitgebars.