Rigters 2

2
Die Engel van die Here by Bokim
1Die Engel van die Here is van Gilgal af na Bokim toe om ’n boodskap vir die Israeliete te gee. Hy het vir hulle gesê: “Ek het julle uit Egipte uit laat trek na hierdie land toe soos Ek julle voorouers beloof het. Ek het vir hulle gesê: ‘Ek sal nooit my ooreenkoms met julle breek nie, 2maar julle mag ook nie ’n kontrak met die inwoners van hierdie land sluit nie. Julle moet ook die altare vir hulle gode afbreek.’ Maar julle was ongehoorsaam! Hoekom? 3Omdat julle nie na My geluister het nie, gaan Ek nie meer hierdie mense voor julle uit laat vlug nie. Hulle sal vir julle ’n doring in die vlees wees en hulle afgode sal julle gedurig verlei.” 4Toe die Engel van die Here klaar gepraat het, het die Israeliete almal hardop begin huil. 5Daarom het hulle die plek Bokim genoem. Daar het hulle ook offers vir die Here gebring.
Josua se dood
6Josua het die volk gestuur om die land te gaan inneem. Elke stam het in die gebied gaan bly wat aan hulle toegeken is. 7Gedurende Josua se leeftyd het Israel die Here bly dien. Na sy dood het hulle nog voor die Here gebuig solank die leiers, wat alles self ervaar het wat die Here vir Israel gedoen het, geleef het. 8Nie lank hierna nie is Josua die seun van Nun, die dienaar van die Here, in die ouderdom van 110 jaar dood. 9Hulle het hom op sy eie grond in Timnat-Serag op die berge van Efraim regoor die Gaäsberge begrawe. 10Die leiers wat vir Josua oorleef het, is later almal dood. Na hulle het daar ’n geslag mense gekom wat nie die Here geken het nie. Hulle het ook nie geweet van al die wonderlike dinge wat Hy vir Israel gedoen het nie.
Die gevolge van Israel se
ongehoorsaamheid aan die Here
11Toe het die Israeliete sonde gedoen: hulle het die Baäls, die gode van ander volke, begin dien. 12Hulle het opgehou om die Here, die God van hulle voorvaders wat hulle uit Egipte gered het, te dien. Hulle het heeltyd agter ander gode aangeloop. Dit het die Here baie kwaad gemaak. 13Hulle het die rug vir die Here gedraai en die Baäls en die beelde van Astarte begin dien. 14Die Here was so kwaad dat Hy rowers toegelaat het om Israel se gebiede te plunder en te beroof. Hy het hulle aan hulleself oorgelaat en hulle nie langer teen hulle vyande beskerm nie. Israel was nou magteloos. 15Dit het nie saak gemaak teen watter vyand hulle geveg het nie. Die Here het gesorg dat hulle verloor, soos Hy belowe het. Hulle was later heeltemal moedeloos en in groot nood.
Die Here help weer sy volk
16Toe het die Here leiers gestuur om die Israeliete van hulle vyande te verlos. 17Maar hulle het nie na hierdie leiers geluister nie. Hulle was ongehoorsaam aan die Here en het ander gode aanbid. Hulle voorouers het na die Here geluister en Hom getrou gedien, maar hierdie nuwe geslag Israeliete het baie vinnig hulle rug vir Hom gedraai. 18Wanneer die Here vir hulle ’n nuwe leier gegee het, het Hy die leier gehelp om die volk teen hulle vyande te beskerm vir so lank as wat hierdie leier geleef het. Want die Here het sy volk jammer gekry as Hy hoor hoe hulle kla omdat hulle swaarkry onder hulle vyande. 19Maar ná so ’n leier se dood het die volk teruggeval in hulle ou gewoontes. Hulle het eintlik nog erger as die vorige geslag aangegaan. Hulle het agter ander gode aangehardloop en hulle aanbid. Hulle het hardkoppig geweier om op te hou met hulle sondige manier van leef.
20Toe het die Here baie kwaad geword vir Israel en gesê: “Omdat hierdie volk hulle nie aan my ooreenkoms wat Ek met hulle voorouers gemaak het, steur nie en nie na My luister nie, 21sal Ek nie een van die nasies wat na Josua se dood nog in die land oorgebly het ver uit die land verdryf nie. 22Inteendeel, Ek gaan hulle gebruik om Israel te toets. Ek wil kyk of hulle ook so gehoorsaam aan My sal wees soos hulle voorouers.”
23Daarom het die Here hierdie nasies met rus gelaat en hulle nie dadelik uit die land verdryf nie. Hy het hulle nie aan Josua oorgelewer nie.

Tans Gekies:

Rigters 2: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid