JESAJA 9:5-6
JESAJA 9:5-6 Bybel vir almal (ABA)
Ja, 'n kind is vir ons gebore, die Here het vir ons 'n seun gegee, en die kind sal koning word. Hulle sal hom noem: Die man wat wonderlike planne kan maak, Die man wat oorlog kan maak soos God, Die man wat altyd vader is, Die koning van vrede. Hy sal 'n belangrike koning wees, en daar sal altyd vrede wees. Hy sal koning wees soos sy voorvader Dawid, hy sal regverdig wees en hy sal altyd reg doen aan almal. Die Here wat oor alles regeer, sal dit laat gebeur, want Hy sal ons nie los nie.
JESAJA 9:5-6 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Want 'n Kind is vir ons gebore, 'n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors — tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid. Die ywer van die HERE van die leërskare sal dit doen.
JESAJA 9:5-6 Afrikaans 1983 (AFR83)
Vir ons is 'n Seun gebore, aan ons is 'n Seun gegee; Hy sal heers, en Hy sal genoem word: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors. Sy heerskappy sal uitbrei, en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring. Hy sal op die troon van Dawid sit en oor sy koninkryk regeer. Hy sal dié koninkryk vestig en in stand hou deur reg en geregtigheid, van nou af en vir altyd. Daarvoor sal die onverdeelde trou van die Here die Almagtige sorg.
JESAJA 9:5-6 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Want 'n kind is vir ons gebore, 'n seun is aan ons gegee. Die heerskappy is op sy skouer. Hy word genoem: Wonderbare Raadgewer, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors. Vir die uitbreiding van heerskappy en vir vrede sonder einde, sal hy op die troon van Dawid en oor sy koninkryk wees, om dit te vestig en te ondersteun deur reg en geregtigheid, van nou af en vir altyd. Die ywer van die HERE, Heerser oor alle magte, sal dit doen.
JESAJA 9:5-6 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want elke geveg van die vegter is met 'n verwarde geraas, en klere wat in bloed gerol is; maar dit sal wees met brand en brandstof van vuur. Want vir ons is 'n kind gebore, aan ons is 'n seun gegee, en die heerskappy sal op sy skouer wees, en sy naam sal genoem word Wonderbaar, Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors.
JESAJA 9:5-6 Die Boodskap (DB)
Daar is vir ons ’n Kind gebore! Dit is ’n Seun wat aan ons gegee is! Hy sal oor ons regeer en sy koninklike titels sal wees: Spesiale Raadsman, God wat sterk is, Ewige Vader, Koning van Vrede. Sy koninkryk en mag sal aanhou uitbrei en Hy sal vir altyd vrede bring. Hy sal vir altyd op Dawid se troon sit en sy koninkryk met regverdigheid en billikheid regeer. Daarvoor sal die absolute goedheid van die Here die Almagtige sorg.
JESAJA 9:5-6 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Want ’n Kind is vir ons gebore, ’n Seun is aan ons gegee. Hy sal die heerser wees met die koninklike titels: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors. Sy heerskappy en vrede sal voortdurend uitbrei en nooit ophou nie. Vanaf die troon waarop sy voorouer Dawid gesit het, sal Hy vir altyd regverdig en reg regeer. Die toewyding van die HERE, die Almagtige, sal dit waarborg.