Jesaja 9

9
1Die volk wat in verdrukking en donkerte moes leef, sien nou ’n helder lig. Waar daar ’n donker wolk oor hulle land gehang het, het die lig nou vir hulle deurgebreek.
2Israel sal weer groot wees en sy mense sal lag en jubel soos in die oestyd. Hulle skree uitbundig van vreugde soos die soldate wanneer hulle die oorlogsbuit verdeel. 3Want God sal die kettings waarmee sy volk vasgebind word en die swepe waarmee hulle geslaan word, stukkend breek, net soos Hy Midian se mag lank terug gebreek het. 4Die skoene van die soldate wat die land binnegeval het en hulle bloedbevlekte uniforms sal met vuur verbrand word.
5Daar is vir ons ’n Kind gebore! Dit is ’n Seun wat aan ons gegee is! Hy sal oor ons regeer en sy koninklike titels sal wees: Spesiale Raadsman, God wat sterk is, Ewige Vader, Koning van Vrede. 6Sy koninkryk en mag sal aanhou uitbrei en Hy sal vir altyd vrede bring. Hy sal vir altyd op Dawid se troon sit en sy koninkryk met regverdigheid en billikheid regeer. Daarvoor sal die absolute goedheid van die Here die Almagtige sorg.
Die Here is kwaad vir Israel
7Die Here het vir Israel ’n waarskuwingsboodskap gestuur. Die dinge waaroor Hy hulle gewaarsku het, gaan hierdie nageslag van Jakob beslis tref. 8En die verwaande mense van Efraim en Samaria sal dit binnekort ontdek. 9Hulle wat so selfversekerd sê: “Die baksteengeboue het nou wel omgeval, maar ons sal dit met klipgeboue vervang. En ons sal sederbome plant in die plek van die wildevyebome wat afgekap is.” 10Die Here se reaksie hierop is om hulle vyande aan te hits om hulle aan te val. 11Die Siriërs uit die ooste en die Filistyne uit die weste storm op Israel af soos roofdiere om hulle op te vreet. Ondanks dit alles het die Here se woede nog nie bedaar nie en is Hy van plan om hulle nog te straf.
12Ten spyte van die straf het die volk hulle nie bekeer en na die Here toe teruggedraai nie. Hulle het ook nie gevra wat Hy van hulle verwag nie. 13Daarom sal die Here Israel op een dag heeltemal vernietig. Hy gaan die kop en die stert, die palmtak en die riete saam afsny. 14Die kop is die leiers en hulle vriende, terwyl die profete wat so lieg die stert is. 15Dié wat vir die volk leiding moes gee, het hulle heeltemal mislei; daarom is die mense heeltemal verward en verdwaas. 16Daarom is die Here nie eens meer opgewonde oor die jongmense nie, en kry Hy ook nie meer die weduwees en die weeskinders jammer nie. Hulle is almal ewe korrup en goddeloos, en die een vertel meer leuens as die ander. Maar die Here se woede het nog nie bedaar nie. Hy is van plan om hulle nog te straf.
17Hulle goddeloosheid vernietig die land soos ’n veldbrand. Alles word voor die voet deur so ’n brand verteer, nie net die dorings en bossies nie, maar ook die bos. Al wat oorbly, is die rook wat in die lug bly hang. 18Die woede van die Here die Almagtige versprei soos ’n veldbrand deur die land. Die volk het sy vuurmaakhout geword, elkeen net oor homself bekommerd. 19Hulle steel kos net waar hulle kan, maar dit is nie genoeg om hulle honger te stil nie. Selfs hulle buurman loop deur onder hulle geplunder. 20Die broers, Manasse en Efraim, veg teen mekaar. Op hulle beurt val hulle weer vir Juda aan. Ondanks dit alles het die Here se woede nog nie bedaar nie en is Hy van plan om hulle nog te straf.

Tans Gekies:

Jesaja 9: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid