JESAJA 14:3-14 - Compare All Versions

JESAJA 14:3-14 ABA (Bybel vir almal)

Israeliete, julle sal nie meer swaarkry en soos slawe vir ander mense moet werk nie. Die Here sal julle swaarkry laat ophou. Wanneer dit gebeur, dan moet julle die koning van Babel spot. Julle moet hierdie lied sing en sê: “Die man wat ons verdruk het, sal nou sterf, ons sal nie meer swaarkry nie. Die Here het die stok gebreek van die slegte mense wat regeer het oor ons. Die koning van Babel het kwaad geword en hy het volke geslaan, hy het dit weer en weer gedoen, hy het kwaad geword en op volke getrap, hy was nie jammer vir hulle nie. Maar nou rus die hele aarde, daar is vrede, al die mense begin sing. Koning van Babel, die sipresbome en die sederbome op die Libanon-berg is ook bly omdat jy dood is, want nou kom niemand om hulle af te kap nie. Die doderyk onder die aarde bewe wanneer jy kom, die geeste van die leiers van die aarde word wakker. Die leiers wat gesterf het, die konings wat dood is, klim af van hulle trone. Hulle praat almal, hulle sê: ‘Jy het nou ook swak geword soos ons, jy is nou soos ons. Jy het altyd mooi dinge gekry en jy het geluister na musiek van 'n harp, maar nou is jy dood, en die wurms vreet jou. Jy was soos die môrester, maar jy het uit die lug geval, jy het ander volke oorwin, maar jy het op die grond geval.’ Jy het gedink: Ek sal opklim tot in die hemel en ek sal my troon neersit bo die hoogste sterre, ek sal sit in die vergadering van die gode, daar ver in die noorde. Ek sal opklim tot bo die wolke en ek sal word soos die Hoogste God self.

JESAJA 14:3-14 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

En op die dag as die HERE jou rus gee van jou smart en van jou onrus en van die harde diensbaarheid waarmee hulle jou laat dien het, dan sal jy hierdie spotlied aanhef oor die koning van Babel en sê: Hoe het die drywer nou opgehou, opgehou die verdrukking! Die HERE het die stok van die goddelose verbreek, die staf van die heersers, wat die volke verwoes het in grimmigheid met slaan sonder ophou, wat in toorn oor die nasies geheers het met 'n agtervolging sonder verskoning. Die hele aarde rus, is stil; hulle breek uit in jubel. Ook is die sipresse bly oor jou, die seders van die Líbanon, en hulle sê: Vandat jy daar lê, klim niemand na ons toe op om ons af te kap nie. Die doderyk daaronder is in beroering om jou ontwil, jou koms tegemoet; dit wek om jou ontwil die skimme op, al die bokke van die aarde; dit laat al die konings van die nasies van hulle trone opstaan. Hulle hef almal aan en sê vir jou: Ook jy het kragteloos geword soos ons; jy het soos ons geword. Jou trots is neergewerp in die doderyk, die geruis van jou harpe; onder jou is wurms as 'n bed gesprei, en maaiers is jou bedekking. Hoe het jy uit die hemel geval, o môrester, seun van die dageraad! Hoe lê jy teen die aarde neergeslaan, oorweldiger van die nasies! En jý het in jou hart gesê: Ek wil opklim in die hemel, my troon verhef bo die sterre van God en sit op die berg van samekoms in die uithoeke van die Noorde. Ek wil klim bo die hoogtes van die wolke, my gelykstel met die Allerhoogste!

JESAJA 14:3-14 AFR83 (Afrikaans 1983)

Die dag wanneer die Here vir jou rus gee van jou lyding en jou verdrukking en van die slawewerk wat jy moes doen, sal jy hierdie spotlied oor die koning van Babel sing: Die verdrukker se einde het gekom, die lyding wat hy veroorsaak het, is op 'n end. Die Here het die heerskappy van die goddeloses verbreek, die mag van die oorheersers. Die verdrukker het in sy gramskap volke getref met straf wat nie opgehou het nie, hy het in sy toorn nasies vertrap, hulle sonder medelye agtervolg. Die hele aarde het nou rus en vrede, sy inwoners juig en sing. Selfs die sipresse en die seders op die Libanon is bly oor wat met jou gebeur het, Babel. Hulle sê: “Vandat jy verslaan is, klim niemand na ons toe op om ons af te kap nie!” Die doderyk daaronder kom in beroering omdat jy soontoe kom. Dié wat reeds daar is, word wakker gemaak, almal wat leiers op aarde was; almal wat konings van nasies was, moet van hulle trone af opstaan. Almal begin praat, hulle sê vir jou: “Jy is nou net so swak soos ons, jy het soos ons geword!” Jy het met jou hoogmoed, met die klank van jou harpmusiek en al in die doderyk beland. Jy lê tussen die maaiers, jy is oortrek van die wurms. Jy wat die helder môrester was, het uit jou hemel geval. Jy wat 'n oorwinnaar van nasies was, is in die grond in verpletter. En dit jy, jy wat gedink het: ek klim op hemel toe, ek gaan my troon neersit bokant die hoogste sterre, ek gaan my plek inneem op die berg waar die gode mekaar ontmoet, ver in die noorde; ek klim op tot bokant die wolke, ek word soos die Allerhoogste self.

JESAJA 14:3-14 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

En dan, die dag wanneer die HERE jou rus gee van jou swaarkry en jou onrus, en van die harde arbeid wat jou opgelê is, sal jy hierdie spotlied sing oor die koning van Babilonië. Jy sal sê: “Hoe het die verdrukker tot 'n einde gekom, die verdrukking opgehou! Die HERE het die stok van goddeloses gebreek, die staf van die heersers, wat volke in gramskap geslaan het met slae sonder ophou, wat nasies in toorn vertrap het met vervolging sonder om terug te hou. Die hele aarde beleef rus en kalmte, mense breek uit in jubelkrete. Selfs die sipresse is verheug oor jou; die seders van die Libanon sê, ‘Vandat jy daar lê, klim geen houtkapper op na ons toe nie.’ Die •doderyk daaronder is in beroering oor jou, om jou te ontmoet by jou aankoms. Dit maak die skimme wakker oor jou; al die voorbokke van die aarde, al die konings van die nasies staan op van hulle trone. Hulle almal reageer en sê vir jou, ‘Ook jy is so swak gemaak soos ons, net soos ons het jy geword. Jou hoogmoed is afgebring na die doderyk, ook die geluid van jou harpe. Onder jou vorm maaiers 'n bed, wurms bedek jou.’ ” Hoe het jy geval uit die hemelruim, môrester, seun van die daeraad! Hoe is jy tot op die grond neergekap, jy wat nasies verslaan het! Jy is die een wat in jou hart gesê het: Na die hemel wil ek opgaan; hoog bo die sterre van God wil ek my troon oprig. Ek wil gaan sit op die berg van samekoms, in die afgeleë noorde. Ek wil opgaan tot bo die rûe van wolke, my gelykstel aan die Allerhoogste.

JESAJA 14:3-14 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

En dit sal gebeur op die dag dat die HERE jou rus sal gee van jou droefheid en van jou vrees en van die harde slawerny waarin jy gedien is, dat jy hierdie spreekwoord teen die koning van Babel moet opneem en sê: Hoe het die verdrukker opgehou! die goue stad het opgehou! Die HERE het die staf van die goddelose en die septer van die owerstes verbreek. Hy wat die volk in toorn geslaan het met 'n voortdurende hou, Hy wat die nasies in toorn regeer het, word vervolg, en niemand verhinder nie. Die hele aarde rus en is stil; hulle breek uit in gejubel. Ja, die sipresbome juig oor jou en die seders van die Líbanon en sê: Vandat jy neergelê het, het geen kapper teen ons opgekom nie. Die hel van onder word vir jou in beweging gebring om jou te ontmoet by jou koms; dit het al die konings van die nasies uit hulle trone laat opstaan. Hulle sal almal spreek en vir jou sê: Het jy ook swak geword soos ons? het jy soos ons geword? Jou prag is in die doderyk neergedaal, en die geraas van jou viooltjies: die wurm is onder jou uitgesprei, en die wurms bedek jou. Hoe het jy uit die hemel geval, o Lucifer, seun van die môre! hoe is jy op die grond afgekap, wat die nasies verswak het! Want jy het in jou hart gesê: Ek wil opklim in die hemel, Ek sal my troon verhef bo die sterre van God; Ek sal ook sit op die berg van samekoms, in die uithoeke van die noorde. Ek sal opklim bo die hoogtes van die wolke; Ek sal wees soos die Allerhoogste.

JESAJA 14:3-14 DB (Die Boodskap)

Wanneer die Here julle van al die lyding, ellende en harde dwangarbeid verlos, sal julle hierdie spotlied oor die koning van Babel sing: En toe, verdrukker, nou is dit verby met jou! Jou dae as tiran is getel. Die Here het jou bose mag gebreek en ’n einde gemaak aan die mag van die wreedaards wat jy aangestel het. Hulle het die volke wat hulle oorgeneem het, sonder ophou vervolg en hulle genadeloos laat swaarkry. Hulle het geen perke geken nie. Maar daardie tyd is verby. Daar is weer rus en vrede in die wêreld; die mense sing selfs weer. Selfs die sipresbome en die seders van die Libanon sing van blydskap oor wat met jou gebeur het. “Vandat jy verslaan is, kom niemand ons meer afkap nie!” sing hulle. Die doderyk is in rep en roer soos hulle regmaak vir jou koms. Dié wat daar is, kan skaars hulle opgewondenheid bedwing. Die wêreldleiers wat alreeds daar in die donkerte van die dood is, spring van opgewondenheid op om jou te verwelkom. In ’n koor klink dit: “En toe, nou is jy net so ’n swakkeling soos enigeen van ons! Ja-nee, jy is een van ons! Jy was gewoond aan pragtige musiek en eerbetoon waar jy vandaan kom. Welkom in die doderyk, hier is jou bed van goggas gemaak en daar is vir jou ’n kombers van wurms!” Koning van Babel, jy wat gedink het jy is soos die môrester wat hoër sit as al die ander sterre, kyk nou net hoe het jy uit die hemel geval! Kyk hoe hulpeloos lê jy hier op die grond, en dit nogal jy, die een wat soveel ander nasies op hulle knieë gedwing en platgeloop het. In jou gedagtes het jy mos vir jouself gesê: “Ek gaan uitstyg bokant God se hoogste sterre. Ek gaan my troon in die hoogste hoogtes maak. Daar ver in die noorde op die hoë berge waar die gode mekaar ontmoet, dit is waar ek gaan bly en soos ’n koning op my troon sit en die wêreld bekyk. Ek gaan bokant die wolke uitklim en soos die allerhoogste God self word!”

JESAJA 14:3-14 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Op daardie wonderlike dag as die HERE sy volk laat rus van lyding, verwarring en wrede slawerny, sal jy die koning van Babel spot. Jy sal sê: “Die magtige is vernietig. Ja, sy astrantheid het opgehou. Want die HERE het jou bose mag verpletter en jou regering laat val. Jy het mense vervolg en hulle aanhou slaan sonder om op te hou. In jou woede het jy nasies onderwerp met genadelose aggressie. Nou is die hele aarde rustig en stil. Die mense kan weer sing. Selfs die bome van die bos, die sipresse en seders van Libanonberg, sing hierdie vreugdevolle lied: ‘Jou mag is gebreek! Niemand gaan weer kom en ons afkap nie!’ “In die doderyk is daar opwinding oor jou aankoms. Die dooies, ook wêreldleiers en magtige heersers staan op om jou te verwelkom. Hulle roep almal met een stem uit: ‘Nou is jy net so swak soos ons. Jy het net soos ons geword! Jou mag en krag het verdwyn. Dis saam met jou begrawe. Die vrolike musiek in jou paleis het opgehou. Die bed onder jou is maaiers, jy maak jou toe met wurms.’ “Hoe het jy uit die hemel geval, blink ster, seun van die môre! Jy is op die aarde neergegooi, jy wat die nasies van die wêreld verpletter het. Jy het mos vir jouself gesê: ‘Ek sal na die hemel toe opklim en my troon bo God se sterre neersit. Ek sal regeer op die godeberg ver in die noorde. Ek sal opklim tot in die hoogste hemele. Soos die Allerhoogste sal ek word.’