Jesaja 14:3-14

Jesaja 14:3-14 ABA

Israeliete, julle sal nie meer swaarkry en soos slawe vir ander mense moet werk nie. Die Here sal julle swaarkry laat ophou. Wanneer dit gebeur, dan moet julle die koning van Babel spot. Julle moet hierdie lied sing en sê: “Die man wat ons verdruk het, sal nou sterf, ons sal nie meer swaarkry nie. Die Here het die stok gebreek van die slegte mense wat regeer het oor ons. Die koning van Babel het kwaad geword en hy het volke geslaan, hy het dit weer en weer gedoen, hy het kwaad geword en op volke getrap, hy was nie jammer vir hulle nie. Maar nou rus die hele aarde, daar is vrede, al die mense begin sing. Koning van Babel, die sipresbome en die sederbome op die Libanon-berg is ook bly omdat jy dood is, want nou kom niemand om hulle af te kap nie. Die doderyk onder die aarde bewe wanneer jy kom, die geeste van die leiers van die aarde word wakker. Die leiers wat gesterf het, die konings wat dood is, klim af van hulle trone. Hulle praat almal, hulle sê: ‘Jy het nou ook swak geword soos ons, jy is nou soos ons. Jy het altyd mooi dinge gekry en jy het geluister na musiek van 'n harp, maar nou is jy dood, en die wurms vreet jou. Jy was soos die môrester, maar jy het uit die lug geval, jy het ander volke oorwin, maar jy het op die grond geval.’ Jy het gedink: Ek sal opklim tot in die hemel en ek sal my troon neersit bo die hoogste sterre, ek sal sit in die vergadering van die gode, daar ver in die noorde. Ek sal opklim tot bo die wolke en ek sal word soos die Hoogste God self.