Jesaja 14:3-14
Jesaja 14:3-14 AFR20
En dan, die dag wanneer die HERE jou rus gee van jou swaarkry en jou onrus, en van die harde arbeid wat jou opgelê is, sal jy hierdie spotlied sing oor die koning van Babilonië. Jy sal sê: “Hoe het die verdrukker tot 'n einde gekom, die verdrukking opgehou! Die HERE het die stok van goddeloses gebreek, die staf van die heersers, wat volke in gramskap geslaan het met slae sonder ophou, wat nasies in toorn vertrap het met vervolging sonder om terug te hou. Die hele aarde beleef rus en kalmte, mense breek uit in jubelkrete. Selfs die sipresse is verheug oor jou; die seders van die Libanon sê, ‘Vandat jy daar lê, klim geen houtkapper op na ons toe nie.’ Die •doderyk daaronder is in beroering oor jou, om jou te ontmoet by jou aankoms. Dit maak die skimme wakker oor jou; al die voorbokke van die aarde, al die konings van die nasies staan op van hulle trone. Hulle almal reageer en sê vir jou, ‘Ook jy is so swak gemaak soos ons, net soos ons het jy geword. Jou hoogmoed is afgebring na die doderyk, ook die geluid van jou harpe. Onder jou vorm maaiers 'n bed, wurms bedek jou.’ ” Hoe het jy geval uit die hemelruim, môrester, seun van die daeraad! Hoe is jy tot op die grond neergekap, jy wat nasies verslaan het! Jy is die een wat in jou hart gesê het: Na die hemel wil ek opgaan; hoog bo die sterre van God wil ek my troon oprig. Ek wil gaan sit op die berg van samekoms, in die afgeleë noorde. Ek wil opgaan tot bo die rûe van wolke, my gelykstel aan die Allerhoogste.

