HOSEA 1:2-3
HOSEA 1:2-3 Bybel vir almal (ABA)
Die Here het begin om met Hosea te praat. Die Here het vir Hosea gesê: “Jy moet trou en jy moet kinders kry. Jou vrou en jou kinders sal ontrou wees, want al die mense in die land is altyd ontrou aan die Here.” Hosea het toe gegaan en hy het met Gomer getrou. Gomer was die dogter van Diblajim. Gomer het swanger geword en sy het 'n seun gekry vir Hosea.
HOSEA 1:2-3 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Die begin van wat die HERE met Hoséa gespreek het; die HERE het aan Hoséa gesê: Gaan heen, neem vir jou 'n hoervrou en hoerkinders; want die land het grootliks owerspel bedrywe deur van die HERE afvallig te word. Toe het hy gegaan en Gomer, die dogter van Diblaim, geneem; en sy het swanger geword en vir hom 'n seun gebaar.
HOSEA 1:2-3 Afrikaans 1983 (AFR83)
'n Inleiding tot die woorde van die Here deur die diens van Hosea. Die Here het vir Hosea gesê: Gaan trou met 'n prostituut wat buite-egtelike kinders het, want die land is besig om te hoereer, om heeltemal ontrou aan die Here te word. Hosea het toe met Gomer dogter van Diblajim gaan trou. Sy het swanger geraak en vir Hosea 'n seun in die wêreld gebring.
HOSEA 1:2-3 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die begin van wat die HERE deur Hosea gesê het. Die HERE het vir Hosea gesê: “Gaan neem vir jou as vrou 'n prostituut wat hoerkinders het, want die land hou aan hoereer, weg van die HERE af.” Hy het gegaan en Gomer, dogter van Diblajim, as vrou geneem. Sy het swanger geword en vir hom 'n seun in die wêreld gebring.
HOSEA 1:2-3 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Die begin van die woord van die HERE deur Hosea. En die HERE het vir Hosea gesê: Gaan neem vir jou 'n hoervrou en hoerkinders, want die land het groot gehoereer, deur van die HERE af weg te gaan. Hy het toe gegaan en Gomer, die dogter van Diblaim, geneem; wat swanger geword het en vir hom 'n seun gebaar het.
HOSEA 1:2-3 Die Boodskap (DB)
Toe die Here Hosea geroep het om sy boodskap vir sy volk te gaan gee, het die Here vir hom gesê: “Gaan vat vir jou ’n vrou wat rondloop. Sy sal kinders hê, al is sy nie met ’n man getroud nie. Sy is net soos Israel wat wil rondloop en nie by die Here wil bly nie.” Hosea het toe vir Gomer gevat. Sy was Diblajim se dogter. Na ’n tyd het sy ’n baba verwag en ’n seuntjie is toe gebore.
HOSEA 1:2-3 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Toe die HERE begin het om met Israel deur Hosea te praat, het Hy vir hom gesê: “Gaan trou met ’n losbandige vrou, iemand wat mettertyd buite-egtelike kinders sal hê. Dit sal ’n sigbare beeld wees van hoe die land teenoor My, die HERE, egbreuk pleeg deur ander gode te dien.” Hosea het toe met Gomer dogter van Diblajim getrou. Sy het swanger geword en vir Hosea ’n seun in die wêreld gebring.