Hosea Hosea 1

Hosea 1
Die HERE se vir Hosea om 'n hoervrou te neem
1Die woord van die HERE wat gekom het tot Hosea, die seun van Beëri, in die dae van Ussia, Jotam, Agas en Hiskía, die konings van Juda, en in die dae van Jeróbeam, die seun van Joas, die koning van Israel.
2Die begin van die woord van die HERE deur Hosea. En die HERE het vir Hosea gesê: Gaan neem vir jou 'n hoervrou en hoerkinders, want die land het groot gehoereer, deur van die HERE af weg te gaan.
3Hy het toe gegaan en Gomer, die dogter van Diblaim, geneem; wat swanger geword het en vir hom 'n seun gebaar het.
4Toe sê die HERE vir hom: Noem hom Jísreël; want nog 'n klein tydjie, en Ek sal die bloed van Jísreël wreek op die huis van Jehu en die koningskap van die huis van Israel laat ophou.
5En in dié dag sal Ek die boog van Israel verbreek in die dal van Jísreël.
6En sy het weer swanger geword en 'n dogter gebaar. En God sê vir hom: Noem haar Loruhama, want Ek sal my nie meer oor die huis van Israel ontferm nie; maar Ek sal hulle heeltemal wegneem.
7Maar Ek sal My oor die huis van Juda ontferm en hulle verlos deur die HERE hulle God, en Ek sal hulle nie verlos deur boog of swaard of deur oorlog, deur perde of deur ruiters nie.
8En toe sy Loruhama gespeen het, het sy swanger geword en 'n seun gebaar.
9Toe sê God: Noem hom Loammi, want julle is nie my volk nie, en Ek sal nie julle God wees nie.
10Maar die getal van die kinders van Israel sal wees soos die sand van die see wat nie gemeet of getel kan word nie; en op die plek waar aan hulle gesê is: Julle is nie my volk nie, daar sal vir hulle gesê word: Julle is kinders van die lewende God.
11Dan sal die kinders van Juda en die kinders van Israel versamel word en vir hulleself een hoof aanstel, en hulle sal uit die land optrek, want groot sal die dag van Jísreël wees.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid