HOSEA 1:1-2
HOSEA 1:1-2 Bybel vir almal (ABA)
Die Here het gepraat met Hosea seun van Beëri. Dit was in die tyd toe vier konings ná mekaar koning van Juda was. Die konings was Ussia, Jotam, Agas en Hiskia. Jerobeam seun van Joas was toe koning van Israel. Die Here het begin om met Hosea te praat. Die Here het vir Hosea gesê: “Jy moet trou en jy moet kinders kry. Jou vrou en jou kinders sal ontrou wees, want al die mense in die land is altyd ontrou aan die Here.”
HOSEA 1:1-2 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
DIE woord van die HERE wat gekom het tot Hoséa, die seun van Beëri, in die dae van Ussía, Jotam, Agas, Jehiskía, konings van Juda, en in die dae van Jeróbeam, die seun van Joas, koning van Israel. Die begin van wat die HERE met Hoséa gespreek het; die HERE het aan Hoséa gesê: Gaan heen, neem vir jou 'n hoervrou en hoerkinders; want die land het grootliks owerspel bedrywe deur van die HERE afvallig te word.
HOSEA 1:1-2 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die woord van die Here wat gekom het tot Hosea seun van Beëri tydens die regering van konings Ussia, Jotam, Agas en Hiskia van Juda en van koning Jerobeam van Israel, seun van Joas. 'n Inleiding tot die woorde van die Here deur die diens van Hosea. Die Here het vir Hosea gesê: Gaan trou met 'n prostituut wat buite-egtelike kinders het, want die land is besig om te hoereer, om heeltemal ontrou aan die Here te word.
HOSEA 1:1-2 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Dit is die woord van die HERE aan Hosea, seun van Beëri. Dit was in die tyd van Ussia, Jotam, Agas en Hiskia, konings van Juda, en in die tyd van Jerobeam, seun van Joas, koning van Israel. Die begin van wat die HERE deur Hosea gesê het. Die HERE het vir Hosea gesê: “Gaan neem vir jou as vrou 'n prostituut wat hoerkinders het, want die land hou aan hoereer, weg van die HERE af.”
HOSEA 1:1-2 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Die woord van die HERE wat gekom het tot Hosea, die seun van Beëri, in die dae van Ussia, Jotam, Agas en Hiskía, die konings van Juda, en in die dae van Jeróbeam, die seun van Joas, die koning van Israel. Die begin van die woord van die HERE deur Hosea. En die HERE het vir Hosea gesê: Gaan neem vir jou 'n hoervrou en hoerkinders, want die land het groot gehoereer, deur van die HERE af weg te gaan.
HOSEA 1:1-2 Die Boodskap (DB)
Die Here het Hosea geroep om sy boodskapper te wees. Sy pa was Beëri. Hy het die Here se boodskap gebring in die tyd toe eers Ussia en daarna Jotam, toe Agas en daarna Hiskia die konings van Juda in die suide was. Joas se seun Jerobeam was die hele tyd die koning van Israel in die noorde. Toe die Here Hosea geroep het om sy boodskap vir sy volk te gaan gee, het die Here vir hom gesê: “Gaan vat vir jou ’n vrou wat rondloop. Sy sal kinders hê, al is sy nie met ’n man getroud nie. Sy is net soos Israel wat wil rondloop en nie by die Here wil bly nie.”
HOSEA 1:1-2 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die HERE het die volgende boodskap aan Hosea seun van Beëri gegee. Dit was toe Ussia, Jotam, Agas en Hiskia na mekaar konings van Juda was en Jerobeam seun van Joas koning van Israel was. Toe die HERE begin het om met Israel deur Hosea te praat, het Hy vir hom gesê: “Gaan trou met ’n losbandige vrou, iemand wat mettertyd buite-egtelike kinders sal hê. Dit sal ’n sigbare beeld wees van hoe die land teenoor My, die HERE, egbreuk pleeg deur ander gode te dien.”